Smokkelhandel neem toe Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 17 November 2022 14:17
Untitled Document

Nog ’n onwettige ietermagog-smokkeltransaksie is op 19 Oktober by Makro Silver Lakes in die wiele gery.

Plaaslike grondeienaar, professor Ray Jansen, is op 12 Oktober deur onbekende individue uit die Noord-Kaap gekontak. Hulle het ’n ietermagog te koop aangebied en hulle wou die transaksie in Gauteng afhandel.

Twee verdagtes het met ’n Nissan NP200 bakkie in Makro se parkeerplek opgedaag en ’n lewendige ietermagog-wyfie is in die bakkie gevind. Sy is na die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild se beskermde bewaararea geneem. Die twee verdagtes het in die Hatfieldse landdroshof verskyn.


Die ietermagog-wyfie wat by Makro Silver Lakes se parkeerplek gered is
Foto: Verskaf

Alexis Kriel, medevoorsitter van die Afrika Ietermagog Werkgroep, sê dié groep glo dat slegs 10% van dié diertjies uit die smokkelhandel gered word en dat 90% van ietermagog-smokkelaars nie vasgetrek word nie.

Wanneer ’n ietermagog uit die veld geneem word, hou smokkelaars hulle in ongunstige toestande aan sonder die regte voedingsbronne of water en hulle word gereeld beseer wanneer hulle probeer ontsnap. Alexis sê wanneer ’n ietermagog vir ’n week of meer aangehou word, hulle kanse op oorlewing baie skraal word weens verhongering, stres en beserings.

Die ietermagog is dié dier ter wêreld wat die meeste deur wilddiewe gestroop word en in onwettige smokkelhandel beland. Alexis sê dat as dié toestande aanhou, hulle binne die volgende tien jaar in die natuur sal uitsterf.

 

© 2024 Die/The Bronberger