Angie Kleijn
Honderd jaar gelede het ’n bykans ondenkbare tragedie hom voor ’n ma afgespeel – sy moes sien hoe haar enigste oorlewende kind se vliegtuig in ’n fratsongeluk op die familieplaas val en hoe hy en sy makker sterf.
Op 18 September vanjaar is ’n seremonie op Irene Melkplaas gehou om dié tragedie, wat ook die heel eerste noodlottige vliegongeluk in Suid-Afrika was, te herdenk. Adrian van der Byl het vertel dat die ongeluk gebeur het toe die Suid-Afrikaanse lugmag maar twee jaar oud was. Dit was slegs 16 jaar ná die Wright-broers die eerste suksesvolle vlug uitgevoer het en vliegtuie was maar basies van hout, seil en tou aanmekaar gesit.
Van links na regs: Adrian van der Byl, direkteur van die Irene Melkplaas, majoor-generaal Mbukeli Songqushwa, en afgetrede SA Lugmagvereniging se president, kolonel Mike Louw met die oorspronklike grafmerker
Foto: Sipho Jack
Die 29-jarige Albert Lawrence Montague van der Byl (gebore op 2 Maart 1893) was ’n kaptein in die SA Lugmag. Sy passasier was ’n Brit, die 34-jarige luitenant Edward Armstrong Stuart, verbonde aan die eerste regiment, SA berede magte. Hulle het op 18 September 1922 van Lawrence se basis op Roberts Hoogte (Thaba Tshwane) na die Irene Melkplaas gevlieg.
Adrian vertel dat dit 7.20 die oggend was en dat daar geen wind was nie. Die twee-sitplek Avro 450K dubbelvlerkvliegtuig, registrasienommer H9699, was ongeveer 1 500 voet in die lug en Lawrence het lugtoertjies uitgevoer. Die stuurboord vlerk het afgebreek en die vliegtuig het naby aan die plaashuis neergestort.
Albert Lawrence Montague van der Byl
Foto: Sherborne School Book of Remembrance
Tragedie
Lawrence se ma, Kate Amy van der Byl (’n nooi Eaton), sy nefies, niggies, ooms en tantes het van die plaashuis af gesien hoe die fratsongeluk gebeur. Dit is nie bekend waar Lawrence se pa, Charles le Febre van der Byl, was nie.
Lawrence se sussie, Patience Amy Theophila (gebore 28 Mei 1897), is op 17 November 1904 op sewejarige ouderdom oorlede. Sy broer, Charles Philip Votelen van der Byl (gebore op
19 November 1894), is op 9 Oktober 1916 oorlede. Hy was 21 jaar oud, ongetroud en is “op die see” oorlede.
Die gedenksteen op Irene Melkplaas
Foto: The Koisan Chronicles
Kate Amy van der Byl het glo nooit ná dié insident herstel nie. Sy kon nie die dood van haar enigste oorlewende kind verwerk nie. Lawrence en sy makker Edward is naby die plek waar hulle geval het, begrawe. Met die seremonie op 18 September vanjaar het Adrian van der Byl die oorspronklike grafmerker, wat vir baie jare weg was en uiteindelik weer gevind is, ontvang van majoor-generaal Mbukeli Songqushwa.
Adrian het vertel dat sy eie oupa, Alexander Henry van der Byl, ten tye van die ongeluk amper dieselfde ouderdom as Lawrence was en dat hy genooi is om saam te vlieg. Henry wou glo graag die uitnodiging aanvaar, maar sy vrou, Evelyn, het haar voet neergesit en daarmee sy lewe gered.
Osse en muile voor waens ingespan
Foto: Melvin Residence
In die 1920’s het Henry en sy pa, Johannes Albertus (Bertie) van der Byl, saam op die plaas geboer en dit is in daardie tyd wat die gesin ophou boer het met volstruise en die melkplaas uitgebrei het. John het in die 1890’s uit die Bredasdorp-distrik gekom om na die plaas te kyk op aanbeveling van skrywer, politikus en avonturier, Percy Fitzpatrick. Hy het die plaas, wat vandag nog in die familie se besit is, uit die boedel van die bekende Hongaar, Alois Hugo Nellmapius, gekoop.
Bertie van der Byl
Foto: Irene Farms
Doornkloof
Dié plaas was deel van die oorspronklike plaas Doornkloof. Die eerste Voortrekkers het in Desember 1836 saam met die Andries Hendrik Potgieter-trek in die gebied aangekom. Daniël Elardus Erasmus, oftewel Daantjie Doornkloof, het die plaas, ongeveer 5 140 hektaar, in 1838 daar uitgemeet. Hy was die oudste seun van Daniël Jacobus ‘Oupa Swartkoppies’ Erasmus, wat die plaas Zwartkop uitgemeet het, en sy vrou Cornelia Jacoba Susanna, ’n nooi Kruger.
’n Ander aansig op die skuur met Frieskoeie in die voorgrond
Foto: Irene Farms
Van omtrent 1848 af het Doornkloof die gebied se ‘Kerkplaas’ geword – besoekende dominees het soontoe gegaan om nagmaal te hou, kinders te doop, later aan te neem en te trou. Dominee Andrew Murray het in Desember 1849 129 babas daar gedoop, 29 mense aangeneem en het die volgende dag nagmaal gehou. Doornkloof was die ‘Kerkplaas’ tot Elandspoort in 1854 oorgeneem het en in 1855 Pretoria geword het.
Toe Daantjie Doornkloof in 1875 oorlede is, het sy drie seuns, Daniël Jacobus, Stephanus Petrus en Michiel Christiaan Elardus elk ’n gedeelte van Doornkloof geërf. Hulle was tot 1889 die eienaars toe Nellmapius twee gedeeltes van die plaas gekoop het.
Die Van der Byl-gesin op pad kerk toe in 1912
Foto: Irene Farms
Die oorblywende derde was tot 1908 in Erasmus-besit. Michiel Erasmus was met Anna Susanna Opperman getroud. Hulle het agt kinders gehad en hulle oudste seun, Daniël Elardus Erasmus, het sy pa se derde van Doornkloof geërf. Hy dié deel in 1908 aan generaal Jan Smuts verkoop.
Johannes Albertus (Bertie) van der Byl in 1896
Foto: Irene Farms
Nellmapius
Nellmapius was bekend daarvoor dat hy ’n hele paar regeringskonsessies, soos die eerste brandewynfabriek, De Eerste Fabrieken by Hatherly langs Pienaarspoort, by Paul Kruger gekry het.
Toe hy die twee gedeeltes van Doornkloof in 1889 gekoop het, het hy dit in drie dele laat onderverdeel en het die sentrale gedeelte vernoem na sy dogtertjie, wat toe omtrent twee jaar oud was. Irene Violet Nellmapius is op 21 Mei 1887 gebore en haar ma was Johanna Cornelia, ’n nooi Hoffman.
Alois Hugo Nellmapius
Foto: Pretoriase Stadsraad
In 1910 het Irene met Hendrik Jacobus Smit, ’n Johannesburgse aandelemakelaar, getrou. Ná sy aftrede het hulle gaan boer op die plaas Moorddrift naby Potgietersrus, waar Irene gewoon het tot sy op 30 Januarie 1961 in ’n motorongeluk dood is.
Nellmapius het ’n plaashuis, ontwerp deur die argitek Wilhelm Johannes De Zwaan, op Irene laat bou – ongeveer een kilometer wes van waar die Irene-buiteklub vandag is. Die skuur en melkstalle, wat vir meer as ’n eeu gebruik is, is in 1890 gebou. Hy het ’n groot tuin uitgelê met die hulp van sy bestuurder, ’n Duitse tuinboukundige genaamd Fuchs, en het glo £80 000 spandeer om die eiendom te ontwikkel.
Irene Voilet Nellmapius in 1893
Foto: Pretoriase Stadsraad
Die jong Switserse veearts, dr Arnold Theiler, was voorraadbestuurder en veearts op Nellmapius se plaas. Hy het later staatsveearts geword en Onderstepoort Veeartsenykundige Navorsingslaboratorium en Opleidingshospitaal gestig.
Behalwe melkbeeste, het Nellmapius besluit om bokspesies, wat toe deur jagters in die laeveld bedreig is, op sy plaas te beskerm. Hy het ook geëksperimenteer met die makmaak van elande en sebras en het gereeld Pretoria toe gery in ’n perdekar wat deur vier sebras getrek is.
Die hoofhuis op die melkplaas
Foto: South African Panorama
In die winter van 1893 het Nellmapius griep gekry en ’n gevaarlike velsiekte het op sy kop uitgeslaan. Die nag van 27 Julie 1893 het sy koors skielik gestyg en teen 8 uur die oggend van
28 Julie is hy oorlede.
Die huis wat rondom 1889 vir Nellmapius gebou is
Foto: Irene Farms
Veiling
Daar is in 1896 in die koerante adverteer dat ‘Irene Estate’ op ’n veiling op Kerkplein verkoop gaan word. Die verkoopprys was ’n skamele £21 500 en die koper was Johannes Albertus (Bertie) van der Byl. Insluitende voorraad, roerende goedere, veiling- en oordragskostes was die finale prys omtrent £26 000 vir ’n landgoed wat Nellmapius sewe jaar vantevore vir £40 000 gekoop het en ’n fortuin op spandeer het.
Antoinette Ethel van der Byl, Bertie se vrou, in 1923
Foto: Irene Farms
Bertie het reeds in 1895 op Sir Percy Fitzpatrick se aanbeveling gaan kyk hoe die plaas lyk, en besluit dat hy dit gaan koop, kom wat wil. Sy seun, Alexander Henry, was agt jaar oud toe Bertie en sy vrou, Antoinette Ethel (1866 – 1946), op die plaas aangekom het. Hulle het van Nachwacht, naby Bredasdorp gekom waar Bertie gewerk het om die rare bontebok van uitsterwering te red.
Evelyn van der Byl, Henry se vrou, op die gholfbaan in 1930
Foto: Irene Farms
Bertie is in 1856 op die plaas Elsenburg naby Stellenbosch gebore. Hy het sy opleiding by Victoria College op die Jersey-eiland tussen Frankryk en die Verenigde Koninkryk ontvang. Op Irene het hy ’n melkkudde opgebou, kalkwerke ontwikkel en het volstruise, wildebeeste, bokspesies en wilde voëls aangehou en vrugte, blomme en saailinge aan die Johannesburgse en Pretoriase markte voorsien.
Irene Voilet Nellmapius in 1889
Foto: Irene Farms
Ná die Anglo-Boereoorlog het Bertie die dorp Irene met 337 een-akker-grootte erwe uitgelê – glo om ’n afsetgebied vir die melk van sy melkery te verseker. Die nuwe dorp se opening is in die heel eerste uitgawe van die ‘Rand Daily Mail’ op 21 September 1902 geadverteer.
Die oorspronklike skuur in 1912
Foto: Irene Farms
Bertie is in 1943 in die ouderdom van 87 jaar oorlede. Sy seun Henry het bekend geword as een van die mees progressiewe boere in Transvaal en het ’n aantal pryse vir boerdery gewen, insluitende die prys vir die plaas in die hoëveld-gebied, wat die beste bestuur word. Nie lank voor sy dood in 1956 nie, het hy die regering oortuig om die Nasionale Suiwelnavorsingsinstituut op sy plaas op Irene en Pinedene te stig.
Henry en sy vrou Evelyn het twee seuns gehad: John Henry getroud met Diana was die oudste, en David Jeffrey, getroud met Monica, het in die SA Lugmag gedien. Ná Henry se dood het sy seun John die boerdery oorgeneem. John het een seun gehad, Henry getroud met Julia. Adrian, getroud met Michelle, is David se enigste seun en is vandag die direkteur van Irene Melkplaas.
Alexander Henry van der Byl in 1956
Foto: Irene Farms
Val
In ’n bisarre draai van die noodlot is Adrian in 2015 baie amper op presies dieselfde manier en op dieselfde plek as sy groot oom Lawrence dood. Die Reik na ’n Droom-stigting het gereël dat Adrian ’n 15-jarige kind vir ’n vlug in sy mikroligte vliegtuig neem. Dinge het skeefgeloop en die tuig het met Adrian en die kind op die Irene Melkplaas neergestort.
Ooggetuie, Jeannie Herbst, was besig om te bestuur. Toe sy by die verkeerslig by die Southdowns-kruising kom, het sy en haar verloofde ’n mikroligte vliegtuig in die lug gesien. Dit het gelyk of die vlerk gebuig het en die tuig het onderstebo gevlieg. Oomblikke later het die tuig grond toe gestort.
David van der Byl in lugmag-uniform in 1964
Foto: Irene Farms
Jeannie en haar verloofde het gesien dat die tuig op die Irene Melkplaas geval het en het probeer om oor die heining te klim om te gaan help, maar kon dit nie regkry nie. Hulle het dadelik die ambulans en gemeenskappolisiëringsforum gebel.
Die kind het geringe beserings opgedoen, maar Adrian is in ’n nabygeleë hospitaal se intensiewe sorgeenheid opgeneem. Adrian het aan Die Bronberger gesê sy mikroligte vliegtuig het so 50 meter vanaf die plek waar sy groot oom Lawrence gesterf het, geval. “Ek het oorleef, dalk danksy hulp van hom,” het Adrian gesê.
Die melkkoeie drink water
Foto: South African Panorama
|