Dié Swartskaap sou in enige familie welkom wees Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 20 October 2022 11:44
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Op ’n mooi, dog snikhete Sondag, beland ons by ’n nuwe (vir ons) kuierplek op Shere wat pure plesier sou opdis en aangenaam sou verras.

Swartskaap: Só lees die aanwysingsbord wat jou na ’n hoewe aan die noordelike voet van die Bronberg lei. Die Swartskaap Bistro is by ‘Sherewood Lodge’ en ek onthou hoe pure oorspronklik ek dié naam jare gelede gevind het toe ek dit in ’n advertensie in die Bronnie raakgelees het.


Drie swartkopskape wei rustig iewers op die plek se groot grasperke

Die hoewe is ’n lushof van tuine met uitgestrekte grasperke, inheemse bome en mooi geboue wat die gastehuis en Swartskaap-kuierplekke huisves. Ek sê plekke, want hier kan jy binne, op verskillende oop stoepe en in die oopte onder koeltebome en sonsambrele plaasneem.

Ons is bly om ’n oop tafeltjie op die stoepie naaste aan die parkeerplek te kry. Voor ons strek die groen grasperk uit tot doer by ’n dammetjie, gelaai met wit eende en agter dit die ongerepte natuur van die berg.


Groentegereg wat Metgesel geweldig geniet het

’n Stewige briesie dans uit die weste al langs die berg af en tregter ’n koel lafenis deur ons aansit-stoepie en oor ons. Dis baie welkom. Later baljaar ’n groep kleingoed op klimrame en ander kontrepsies diékant op die gras en ’n span groter kleintjies raak verwikkel in ’n taai krieket-stryd daai kant – gelukkig met ’n tennisbal.

Die bier wat knap kelner, Colin, aanbring is koud, maar vandag nie koud genoeg na my smaak nie. Hy bring ys vir Metgesel se appeldrankie (van dié wat droog is, maar jy kan dit drink) en ek versoek ook ys. Ja, vir my bier: Baie ys.


Een van Swartskaap se aansitplekke met ons koel stoep links

Einste Colin bring die spyskaart en ek merk dadelik dat dié een verskil van die een wat ek vroeër op die plek se webwerf gelees het. Ja, sê Colin, en hy praat vlot Afrikaans, hulle het net verlede week die spyskaart aangepas om meer somerig en minder winteragtig te wees. Die keuses is nie uitermatig wyd nie, maar die verskeidenheid is goed deurdag en glad nie saai nie.

Agt verbuigings van ontbyt word gebied. Dit wissel in prys van R65 tot R105 en sluit ’n baie volledige Engelse ontbyt met ‘hash browns’, ’n Meksikaanse ontbyt, Franse roosterbrood met piesang en bloubessies, en ’n burrito met maalvleis in.


’n Lapa en nog kuierplek op die hoewe

Middagete bied ’n lamskerrie-pastei teen R135 aan en ek wonder onwillekeurig oor die stomme swartskaap. ‘Ribeye-biefstuk’ kos R185 en stokvis met skyfies R145. Jy het ’n hele aantal ander opsies, maar ek bestel die wildsvleis-bobotie met pampoenpoffertjies teen R135. ’n Wyse besluit. Die vleis is van eland en is grof gemaal (nie soos jy by bobotie sou verwag nie) en die bobotie is bedek met ’n kaaskors en pynappel-blatjang. Die poffertjies is hemels.


Bobotie van eland en pampoenpoffertjies

Die swartbord-gereg van die dag is ’n Griekse hoenderslaai teen R100. Nie eers geweet ’n ou kry Griekse hoenders nie. ’n Aantal verbeeldingryke toebroodjies en slaaie word aangebied en koek-keuses vir nagereg staan op ’n koek-toring opgestapel.


Kortvolk en plaaslike brakkie, Jock, geniet die speelplek

Metgesel se middagmaal kry sy by die slaai-insetsel. Dit is ’n warm geroosterde groenteslaai met allerlei aardige (vir my) byvoegsels wat jy as hoofmaaltyd teen R115 kan bestel. Sy maak so en sy is gaande oor die hoeveelheid smake en ‘gesonde’ gevolge van dit wat sy inneem.

Dié Swartskaap van Shere hoort in enige familie welkom te wees. Hier het ons heerlik ontspan, gekuier en die spyse en drank met genoeë saam met die atmosfeer ervaar.  

Jy kan hulle bel by 079-318-3092 vir nadere inligting.

 

© 2024 Die/The Bronberger