Vier verdagtes is die middag van 15 September in Bronkhorstspruit in hegtenis geneem vir die besit van twee bedreigde Temminckse ietermagogge. Op 28 September is nog ’n verdagte met ’n ietermagog in sy besit by die Jan Ellis-vulstasie op die kruising van die Ou Bronkhorstspruitpad en die R515 in hegtenis geneem. Al drie dié diere is gered.
Dié diertjies is meer bedreig as renosters en moeiliker om te beskerm. Daar is ’n oorweldigende groot mark vir ietermagog-skubbe in Asië, veral in Sjina, omdat daar geglo word dat die skubbe medisinale waarde het.
Die twee wat op 15 September in Bronkhorstspruit gered is
Foto: Verskaf
Die intelligensie-operasie in Bronkhorstspruit is uitgevoer deur die SAPD Bronkhorstspruit, die Cullinanse Veediefstal- en Bedreigde Spesie-eenheid, Benoni K9 en professor Ray Jansen, plaaslike grondeienaar en voorsitter van die nie-winsgewende organisasie, Afrika Ietermagog Werkgroep.
Dié span het die verdagtes se voertuig uitgeken. Die K9-eenheid het die taxi van die pad afgetrek en die twee ietermagogge gevind. Die een was ’n dragtige wyfie en die ander een ’n onvolwasse mannetjie. Albei is na die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild se beskermde bewaararea geneem. Dié diertjies word, vir hulle eie veiligheid en die van die personeel, nie by die hospitaal self aangehou nie.
Die ietermagog wat op 28 September by die Jan Ellis-vulstasie gered is
Foto: Verskaf
Lokval
Ray het laat weet dat die multidissiplinêre operasie op 28 September by die Jan Ellis-vulstasie uitgevoer is om ’n lokval te stel. ’n Afdeling 252A magtiging is verkry wat agente toelaat om lokvalle te stel en geheime operasies uit te voer om oortredings te verhoed, te identifiseer of te ondersoek.
Eenhede betrokke het gestrek van CNI Binnelandse Dwelmhandel-hoofkantoor, die Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoek-eenheid van Germiston, K9-eenhede van Pretoria en die Oos-Rand en die IUCN SSC Ietermagog Spesialisgroep.
Inligting is op 27 September ontvang oor ’n individu, wat op soek is na kopers vir ’n ietermagog in sy besit. Daar is gereël dat die verdagte die potensiële koper (die agent) by die Jan Ellis-vulstasie ontmoet en hy is in hegtenis geneem.
Die jong ietermagog is gered en by die Cullinan-polisiestasie ingegee, vanwaar hy vir mediese behandeling deur die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild gestuur is. Die verdagte, ’n Zimbabwe-inwoner bekend as ‘Forward Kaitano’ is by die Cullinan-polisiestasie aangehou. Hy het op 29 September in die hof verskyn op aanklag van die onwettige besit van en handel in bedreigde spesies.
Die Nasionale Omgewingsbestuur Biodiversiteitswet beskerm die ietermagog. Verbreking van dié wet kan tronkstraf van tien jaar of ’n boete van tot R10 miljoen tot gevolg hê.
Bonné de Bod, regs, Nicci Wright, links, en dr Karin Lourens in die agtergrond by die een ietermagog wat op 15 September in Bronkhorstspruit gered is
Foto: Susan Scott
George
In September het ons berig dat George, ’n jong ietermagog wat verdwaas in Pretoria se strate rondgedwaal het, ook deur die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild behandel is. Hy was ernstig ondergewig, gedehidreer en het ’n groot abses op sy stert gehad.
Klein George het intussen ’n televisiester geword toe hy op 2 Oktober op Bonné de Bod se ‘Bewonder en Bewaar’-program verskyn het. Die program is by die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild se beskermde bewaararea opgeneem en sedert dit uitgesaai is, het dr Karin Lourens laat weet dat George 500 gram opgetel het en op pad is om ten volle te herstel. |