Ode aan my vrou Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 20 October 2022 11:25
Untitled Document

Sarel Venter van Rayton:
My wyle vrou, Wilhelmina Christina Susanna (Wilma) Venter se ouers, Martiens en Martie Strydom, het die kafee – vandag bekend as Die Hoek – op die kruising van die R515 en die Ou Bronkhorstspruitpad in 1963 gekoop.

In 1964 doen Wilma aansoek vir ’n pos as onderwyseres by Cullinan Laerskool, waar sy onderwys vir graad twee-leerlinge gee vanaf Januarie 1965 tot 1979. Met skolesport in Januarie/Februarie 1965 ontmoet sy haar toekomstige wederhelfte – LW: sy was altyd die beter helfte – nadat die skoolhoof hom gryp en sê hy weet nie wat fout is met die jong manne in die dorp nie. Kyk net die pragtige nuwe jong onderwyseres wat die skool bekom het en sy is ’n vreemdeling in die dorp.


Wilma Venter

Ek stap oor en ‘date’ haar en wonder bo wonder aanvaar sy die ‘date’, wat toe nie ’n eenmalige geleentheid is nie, maar oor drie jare voortgesit word. Middel Januarie ’68 maak ek vir Wilma attent dat ons nou al drie jaar lank ‘date’ en ’n paartjie is – hoekom trou ons nie maar nie. En wragtig, sy stem in.

Ons raak op 31 Januarie verloof en trou op 24 Februarie op Wilma se verjaardag (sodat ek nie twee persente per jaar hoef te koop nie) in die Hervormde Kerk, Bronkhorstspruit. Wittebrood, presies een dag – geen verlof vir ’n onderwyseres of staatsamptenaar omdat hulle trou nie. Ons dogter is eers op 30 Julie 1973 gebore.

In 1976 bedank Wilma die onderwys om eers kind groot te maak. In 1978 word sy tydelik aangestel as personeelklerk by Cullinan Sorg en Rehabilitasiesentrum, waar sy in 2004 aftree as hospitaalsekretaris.

Ons tree af op ons plot by Rayton, waar ons sedert 1970 bly. Wilma kry ’n heupvervanging in
Mei 2019, waarna sy ’n afdraande pad loop. Sy is verlos van haar ellende op 9 Junie 2022 en is op
17 Junie ter ruste gelê in die Rayton-begraafplaas.

Dankie vir 57 jaar van vrede en vreugde, my Willemien. Rus in vrede.

Brief verkort. – Red

 

© 2024 Die/The Bronberger