Angie Kleijn
Minder bekende feite oor die lief en leed van toeka se mense is iets wat elke maand vir die afgelope 20 jaar al deur die Bronnie se lesers verslind word. In dié, ons 20ste gedenkuitgawe, kyk ons terug na die liefde en “die groot verlange” wat die verlies aan ’n geliefde se nabyheid meebring.
Digter, skrywer, advokaat, koerantredakteur, kenner van dieregedrag, prospekteerder, hipnotiseur, sterrekundige, ‘wonderdokter’, dwelmverslaafde . . . Oor Eugène Nielen Marais is al baie geskryf – ook oor die dood van sy vrou, ’n verlies wat hom die res van sy lewe bygebly het.
Eugène het Jacoba Aletta (Lettie) Beyers, ’n kleinniggie van die latere generaal Christiaan Beyers, in 1893 ontmoet. Sy het uit Natal by haar niggie, Lenie, ’n nooi Boshof, in Pretoria kom kuier. Lenie was met Eugène se broer, Melt Marais, getroud.
Eugène en Lettie het in 1894 op Winterton in Natal getrou. Elf maande later, op 19 Julie 1895, sterf sy aan kraamkoors ná die geboorte van hulle seun, Eugène Charles Gerard Marais, op 8 Julie 1895. Lettie was maar 23 jaar oud.
Kraamkoors is grootliks die gevolg van ’n bakteriële infeksie van die geboortekanaal wat tot septisemie met fatale gevolge kan lei. In ‘Die groot verlange’ skryf Leon Rousseau dat die mediese dokter wat Lettie se bevalling hanteer het, dronk opgedaag het – dalk ’n gevolg van die feesvierings in Pretoria met die opening van die Delagoabaai-spoorlyn.
Lettie Marais
Bron: University of Johannesburg
Dr Kriel is uiteindelik uit Pretoria verdryf toe die landmeter, Christiaan Vlok, se vrou vyf weke ná Lettie ook aan kraamkoors dood is ná die einste dokter haar bevalling hanteer het. Pretorianers het geld ingesamel om die twee wewenaars op ’n bootreis na Mauritius te stuur.
Binne 15 maande hierna is albei Eugène se ouers ook dood. Sy suster, Sophie Ueckerman, het sy baba se versorging oorgeneem en het hom as haar eie aangeneem.
Die romantiese mite het ontstaan dat Lettie se dood Eugène na morfien gedryf het. Hoewel dit waarskynlik ’n rol in sy toenemende verslawing gespeel het, het Eugène reeds in 1892 morfien begin gebruik.
Ná Lettie se dood het Eugène nooit weer getrou nie, hoewel hy verskeie verhoudings met vrouens, dikwels baie jonger as hy, gehad het. In sy boek, ‘Die handdruk van die dood: Die onvertelde storie van Eugène Marais’, skryf Friedel Hansen dat Eugène vroeg in 1904 ’n loseerder by die Malans van Potchefstroom was. Elisma Malan, ’n onderwyseres, het die dorp baie skielik verlaat.
Kort ná haar aankoms in die Wes-Kaap, het sy met die mynwerker, Jacobus Abraham Bosman, getrou. Die bekende skrywer, Herman Charles Bosman, is op 3 Februarie 1905 uit dié huwelik gebore, maar Friedel bespiegel dat Eugène die kind se biologiese pa was.
Eugène het ook glo verhoudings gehad met ’n Anne van Johannesburg; Suzanne in Londen; Flossie Kay, wat ’n manuskrip van ‘The soul of the ape’ vir hom getik het; met die jong Joan Harley, dogter van die Meester van die Hooggeregshof; met die weduwee Brenda Steyn; en hy raak verlief op die 19-jarige Jane Brayshaw. Navorsers beweer dat Eugène selfs 15 jaar ná Lettie so dood, sy hart telkens op iemand wat so oud is soos sy destyds was, verloor het.
Eugène het in 1936 selfmoord gepleeg op sy kollega en vriend, Gustav Preller, se plaas, Pelindaba, naby Hartebeespoortdam. Hy is langs Lettie in die Pretoriase Sentrale Begraafplaas begrawe.
Lettie en Eugène se grafte
Sannie
Een van ons land se bekendste beeldhouers, die Hollands-gebore Anton van Wouw, het op
3 Februarie 1895, vyf jaar ná hy in die land aangekom het, met Suzanna Wilhelmina (Sannie) Celliers, ’n suster van die digter Jan FE Celliers, getrou.
As getroude man moes Anton ’n vaste inkomste begin verdien en hy het aansoek vir naturalisasie gedoen sodat hy kunsklasse by die Staatsmodelskool en die Staatsmeisjeskool kon aanbied.
Dié werk het Anton se gesin onderhou tot Oktober 1896 toe hy sy groot deurbraak gekry het – sakeman Sammy Marks het hom aangestel om die Kruger-standbeeld te maak. Min het Anton geweet dat dié werksopdrag tot Sannie se dood sou lei.
Drienie Joubert
Foto: geni.com
Sannie is saam met Anton Italië toe, waar dit hom drie jaar geneem het om die standbeeld en die vier Boerefigure te maak. Die beelde is in 1898 in Rome voltooi en in 1899 in brons gegiet. Voor die beelde verskeep kon word, is Sannie daar aan longontsteking oorlede.
Oorlogswolke het op die horison gedreig en die beeldhouwerke is na Delagoabaai verskeep, waar hulle tot ná die oorlog in ’n pakhuis van die Afrika Skeepsmaatskappy in Lourenço Marques moes bly.
’n Bedroefde Anton het einde September 1899 van Rome af terug gekeer. Dit was oorlog, daar was nie tyd vir beeldhouwerke nie en hy was eensaam sonder Sannie. Hy het eers in 1917, 18 jaar ná Sannie se dood, weer getrou, dié keer met ’n skoonsuster van president Reitz, genaamd Englina. Ná Anton se dood in 1945 het Englina al sy persoonlike dokumente vernietig.
Paul Kruger en sy tweede vrou, Gezina, wat ’n niggie van sy eerste liefde was
Foto: Wikipedia
Maria
Min mense weet van president Paul Kruger se groot hartseer – die dood van sy eerste vrou en kind het hom byna ontroosbaar gelaat en hy het glo vir ’n tyd “soos ’n dier van die veld” in die berge gaan bly.
Stephanus Johannes Paulus Kruger het saam met sy trekker-ouers in die distrik van dit wat ons vandag as Rustenburg ken, aangekom. In 1841, toe Paul 16 jaar oud was, het hy hom op sy eie plaas, Waterkloof, aan die voet van die Magaliesberge gevestig.
In 1842, toe hy amper 17 jaar oud was, het Paul besluit om die meisie op wie hy lank reeds verlief was, Anna Maria Etresia du Plessis, op haar pa se plaas naby Kroonstad te gaan haal. Sy was toe net 15 jaar oud.
Paul moes die Vaalrivier in vloed oorsteek en was glo so haastig dat hy nie vir die veerboot wou wag nie. Hy en sy perde het die bruisende waters aangedurf en oorgeswem. Paul en Maria is op Potchefstroom getroud.
Maria het Paul gehelp om Waterkloof van niet af op te bou en het saamgegaan op al sy jagtogte en ekspedisies as assistent-veldkornet. Sy het in 1845 ’n seuntjie gekry en sy en die baba het op Ohrigstad malaria gekry. Die gesinnetjie is terug Waterkloof toe, waar Maria en die seuntjie in Januarie 1846 aan die siekte gesterf het. Sy was maar 19 jaar oud.
Paul het in 1847 met Maria se 16-jarige niggie, Gezina Suzanna du Plessis, getrou. Min sou dié meisie weet dat sy eendag in die presidentswoning in Pretoria sou woon. Paul en Gezina was vir 54 jaar lank getroud en het 16 kinders gehad, waarvan ’n paar vroeg oorlede is.
Susanna Wilhelmina (Sannie) van Wouw, ’n nooi Celliers
Foto: geni.com
Mary
Nog ’n destydse presidentsvrou van Pretoria het merkwaardige liefdesbriewe van haar aanstaande ontvang. Min sou sy weet dat sy dié briefskrywer sou bystaan tot die bitter einde toe hy alles verloor het en saam met diere moes damwater drink.
’n Reeks liefdesbriewe wat Thomas Francois Burgers rondom 1856 en 1857 uit Utrecht aan Mary Bryson geskryf het, het onlangs by Antiquarian Auctions onder die hamer gekom. Die briewe is almal gerig aan “My dear Miss Bryson” en is onderteken “Thos Burgers”. Ná sy ingestem het om met hom te trou, het hy die brief as “Your own loving Tom” onderteken en selfs ’n liefdesgedig ingesluit.
Thomas het teologie aan die Universiteit van Utrecht in Holland studeer, waar hy vir Mary, ’n Skotse musiekstudent, ontmoet het. Hulle is in 1858 getroud en het saam teruggekom na Suid-Afrika waar Thomas in 1859 Hanover se eerste dominee geword het.
Thomas Francois Burgers en sy gesin
Foto: Biografie van TF Burgers, deur by PS Engelbrecht
Hy is op 1 Julie 1872 in die ouderdom van 38 jaar as president van die Zuid Afrikaansche Republiek (ZAR) ingesweer. As Kaaplandse predikant moes Thomas vanuit die staanspoor ’n bittere stryd teen verdagmakery voer.
Die ZAR is op 12 April 1877 deur die Engelse geannekseer; al die blaam daarvoor is op Thomas se skouers geplaas en hy het onder protes as president uitgetree. Omdat hy, met al sy persoonlike besittings, pa gestaan het vir ’n aantal lenings vir die ZAR, was hy verarm toe hy in Mei 1877 Kaap toe is. Die Britse regering het ingestem om hom ’n jaarlikse pensioen te betaal op voorwaarde dat hy nooit weer in die ZAR sou bly nie.
In die Kaap kon Thomas nie werk kry nie; hy en sy gesin het in uiterste armoede geleef en inwendige bloeding het hom so verswak dat hy dikwels bedlêend was. Die gesin het ’n ruk lank met ’n op-skuld-gekoopte ossewa rondgeswerf, toe op ’n gehuurde plaas met volstruise probeer boer, en weer getrek om in ’n ellendige skaapwagtershut te beland toe Thomas bykans blind was.
Eers aan die einde van Junie 1878 het hy die beloofde pensioen gekry, wat dadelik deur rente op skuld ingesluk is. Afgetakel deur beskuldigings wat nie wou end kry nie, is Thomas op 9 Desember 1881 in die ouderdom van 47 as ’n gebroke man oorlede.
Mary was verarm en kon haar man se vernedering nie vergeet nie. Tog het sy hulle kinders grootgemaak om lojaal aan die ZAR te wees. Haar seuns het later as vrywilligers by die Boerekommando’s aangesluit en haar dogters as verpleegsters by die Boere-ambulanse.
Die vrou van grootwildjagter, Otto Krantz
Foto: With the Boer Forces
Nonnie
Jacoba Elizabeth (Nonnie) en generaal Koos de la Rey se verhaal is waarskynlik een van die bekendstes uit die Anglo-Boereoorlog. Nonnie, ’n nooi Greef, het Koos ontmoet toe sy 18 jaar oud was. Sy was die dogter van ’n vooraanstaande boer en stigter van die dorp Lichtenburg.
Aanvanklik was Nonnie se ma nie geneë daarmee dat haar dogter met Koos, nege jaar ouer as sy, moes trou nie. Koos en Nonnie is egter, met haar ouers se toestemming, op 24 Oktober 1876 getroud en het net buite Lichtenburg gebly.
In die eerste fase van die oorlog het Nonnie dikwels vir Koos op kommando besoek. Toe Nonnie die nuus van hulle oudste kind, Adaan, se dood ontvang, het sy haar na Koos op die slagveld gehaas. Ná die slag van Magersfontein het hulle na Jacobsdal gegaan om sáám Adaan se graf te besoek.
Toe lord Methuen vir Nonnie uit haar huis verdryf, het sy en haar jonger kinders op 1 Desember 1900 met ’n ossewa, spaider, melkkoeie en ’n groepie bediendes vertrek om tot die einde van die oorlog in Mei 1902, rond te swerf. Nonnie het altyd naby Koos se kommando gebly. Hy het ook altyd geweet waar sy gesin was en het nooit ’n kans laat verbygaan om hulle te besoek nie.
Nonnie het ’n boek, ‘Mijne omzwervingend en beproevingen gedurende den oorlog’, in Amsterdam gepubliseer.
Koos en Nonnie de la Rey in Londen in 1902
Foto: Nonnie de la Rey – Pionier van die Wes-Transvaal 1856 – 1923 – Zelda Rowan
Slagveld
In die begin van die Anglo-boereoorlog het baie vrouens hulle mans slagveld toe vergesel. Toe die Bethal-kommando onder leiding van kommandant Engelbrecht by Helpmekaar aankom, was daar vrouens en kinders by. In die heel voorste wa het die reuse Johannes S (Hans) Vermaak se vrou en kinders ongewapen gesit.
Kommandant-generaal Piet Joubert het die presedent geskep toe hy sy vrou, Hendrina (Drienie), op kommando saamgeneem het. Sy kommandolede se vrouens het Drienie se voorbeeld gevolg en was konstant besig met die voorbereiding van kos en die omsien na gewondes. Indien nodig, het hulle self die geweer opgeneem.
Grootwildjagter, Otto Krantz, en sy vrou, net bekend as mev M Krantz, was deel van die Vryheid-kommando wat deelgeneem het aan die beleg van Ladysmith. Sy was aan haar man se sy met die slag van Elandslaagte op 21 Oktober 1899, daarna by Tugela en sy was een van die eerstes om na die Vrystaatse veldslae te vertrek. Toe Otto gevang is, het sy toestemming verkry om hom as krygsgevangene na ’n kamp in Ceylon te vergesel.
Nonnie en Koos de la Rey en gesin, swerwend in die oorlog
Foto: ‘Mijne omzwervingend en beproevingen’
’n Mev PJ Moll van Pretoria het haar man vir 11 maande op kommando gevolg voor sy en haar baba gevang is en na ’n konsentrasiekamp by Newcastle gestuur is.
Helena Herbst Wagner van Zeerust se man is vroeg in die oorlog weg op kommando en hy het haar alleen gelos by hulle baba. Die baba is in Januarie 1900 dood en Helena het haar man se klere aangetrek, ’n geweer en bandolier bekom en is na die Natalse front toe om hom te soek.
Toe sy hom nie kon kry nie, het sy by kommandant Ben Viljoen se kommando aangesluit en aan die veldslae van Spioenkop, Pontdrif en Pietershoogte deelgeneem. Sy het vir vyf maande in die laers en loopgrawe geleef voor hulle uitgevind het dat sy ’n vrou is.
Met die trek na Van Tondersnek het Helena gehoor dat haar man ernstig gewond in ’n Johannesburgse hospitaal lê en sy het die kommando tydelik verlaat om hom te gaan verpleeg.
Na die slag van Paardeberg in Februarie 1900, toe daar 50 vrouens en kinders in Piet Cronjé se laer was, het generaal Christiaan de Wet vrouens verbied om hulle mans front toe te volg. |