Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
Hoe skryf jy ’n ‘kort samevatting’ oor 20 jaar se maandelikse aansit-ervarings by letterlik honderde kuierplekke in die Bronnie-gebied en wyer? Die antwoord is eenvoudig: Jy kan nie. Maar die Bronnie word 20 jaar oud en dié ‘soort samevattings’ het al tradisie geword in ons verjaardag-uitgawes, sê die ou redakteur-knol. En met hom hou ek my liewer nie Hans nie; te bang ek word uitgevreet . . .
Hoekom, vra Metgesel my, konsentreer jy dié keer nie net op die gemoedelikheid, geselligheid en geselskap wat uitstaan en wat jy uit die ou onthouding kan opdiep nie? Metgesel is eintlik briljant. Dalk ’n baie slim idee vir iemand soos sy, maar ek is bevrees baie moeilik vir iemand soos ek.
Die legendariese Faan Smuts (regs), kok wyle Hans Lombard (links) en kranige kroegingenieur Theresa Wood van Bronberg Lodge
Ja, ons het langs die lang kuierpad dikwels baie gesellig saam met vriendelike, gemoedelike mense gekuier, maar ek kan en gaan nie alles en almal onthou en meld nie. Vergewe tog asseblief, want dié poging sal soos ’n plat klippie net hier en daar water vat soos ek hom onderarm-langs slinger en oor die kuier-dam se onthou-water laat spring, spring, spring . . .
Die legendariese kuiersessies in Zwavelpoort uit die Bronnie se babadae by wyle Nico en Lynnette Breytenbach se Nikos en Faan en Issie Smuts se Bronberg Lodge is reeds baie oor gesê en baie na verlang. Goeie nuus is dat Lynette se sonstraal-geaardheid en uitstaande kosmaak-vernuf deesdae by Kitty Hawk geniet kan word en die uitnemende boere- en Weskuskosresepte nog by wyle Faan se plek (nou Bronberger Restaurant) te kry is.
’n Gesellige gedigte- en musiekaand in 2005 by die ou Bronberg Lodge
Dit is by dié twee gesellige plekke waar vriende die Bronnie se poësie-aande geniet het en ou Geel Harry ewe diplomaties gewaarsku het dat ons dié aande eerder ’n ander naam moet gee, want die ouens diékant van die berg is nie ‘baie gekunsteld’ nie en kan dalk die verkeerde idee kry.
In April 2003 raak ons gaande oor Die Werf van die uitnemende gasheer genl. Chris Thirion. Vreethans berig dat dié geskiedkundige Werf in Olympus te midde van ’n ‘koorsagtige ontwikkeling’ wat dié plotgebied in ’n ‘hellesee van meenthuise en mure verander’, sy landelike atmosfeer, gemoedelike geselskap, gesellige mense en voortreflike tradisionele geregte behou het. Die plek staan vandag as Die Blos Café bekend.
Die kuierplek wat gemoedelikheid op Tierpoort oor jare versinnebeeld het, was oorspronklik bekend as The Zonked Guinea Fowl
Ons onthou lankal se kuier by Karin en wyle Eddy Saffy se Pheasants Nest en Zonked Guinea Fowl op Tierpoort. Pheasants Nest, waar gereelde kuieraande saam met ’n span ‘When-We’s’ (gewese Rhodesiërs) geniet is, het later afgebrand.
Die ‘Zonked’ het intussen verskillende huurders en name gehad. Maar Karin het die eienaar gebly en dis hier waar ’n hegte vriendekring van ‘Plotville’ se mense gereeld gemoedelik verkeer.
Ella en Joritha Lösch van Formosa
Ons onthou die ‘familie-etes’ by die Lösch-gesin in Bashewa se Formosa, ook Leribisi se Derek en vriendelike mense, koue bier en oordadige porsies op Tierpoort. Te veel en dit net uit die beginjare. Kennisse wat vriende geword het, soos Joan en Joe wat die oorspronklike Rafters begin het. Uitspannings tussen gesellige mense op die stoep van Bronkie se Stoep: Alles altyd gemoedelik, eg plattelands en gesellig. Maar 20 jaar is ’n ent se kuierpad en die klippie kan eenvoudig nie oral sy spring-kringetjies los nie.
Op ’n mooi dag val ons toevallig in vir ’n gesellige kuier by ’n broer-en-susters-span wat ’n merkwaardige plek in ’n ou opstal anderkant Bapsfontein op pad na Petit bedryf. Hulle noem dit Broodblik en Koffiepit: Gemoedelike, pittige mense, uitmuntende kuier-en-koop-plek, is dié.
Op die stoep en grasperke van die lank vergange Riverside Mixer langs die Pienaarsrivier op Donkerhoek het die gasvrye mede-eienaar Gary en die vriendelike personeel, soos kroegingenieur Johny, se gesellige geaardhede deurgewerk en afgevryf op die gaste.
’n Ou opstal tussen Bapsfontein en Petit is omskep in ’n kuier- en aankoop-plek waar jy jou
dadelik tuis voel
In die Bronnie se kleuterjare was Die Hoek al op die hoek langs die ou Bronkiepad op Kaalfontein. Toe al kon jy gereeld ’n aantal wit bakkies buite onder die bome sien staan en nou nog kan jy. Hoekom is 99% van dié kontrei se voertuie wit bakkies? Maar jy weet, binne sal jy gesellige manne aan’t kuier kry by een van die gebied se heel vriendelikste en aangenaamste mense, Theunetta (tannie Pop), se plek. Ook op Kaalfontein het Du Plooys se melkplaas al ’n legendariese koop- en kuierplek by Die Pienk Koei-teetuin geword.
’n Klipskiet van die Hoek af, langs die pad na Kleinfontein het ons oor die jare heen gesellige uitspannings by Renee se Boskombuis geniet. Die mense en die onpretensieuse omgewing en aards-opregte geregte dra alles by tot ’n gemoedelike kuier.
Vriende het gereeld gesellig saam verkeer by die Riverside Mixer langs die Pienaarsrivier
Onlangs het ons toevallig ’n plek ontdek – as jy nou die klip in ’n ander rigting Donkerhoek toe skiet – waar gemoedelikheid en geselligheid opvallend teenwoordig is. Weer is dit sweerlik die mooi, oop geaardhede van eienaars en personeel wat aansteeklik is en jou gemoedelik en tevrede laat.
Die afdraaibordjie langs die ou Bronkiepad sit tussen ’n hele sinode ander padpredikante en lees ‘Kupika Restaurant’ en op hierdie plek in die oopte se stoep sal jy borde vol geselligheid en vriendelikheid ervaar.
Kupika is soos jou oom se plaashuis in die bosveld waar jy gemaklik in die oopte kan kuier
Ons het die afgelope 20 jaar heel gereeld op Cullinan loop draai. Die meeste kuierplekke aldaar maak net naweke oop, maar met enkele uitsonderings kon ons deurgaans gemoedelik kuier, is ons vriendelik ontvang en het ons, ons altyd tuis gevoel.
Soos verwag, is die ruimte vir dié nostalgiese terugblik nou bykans uitgedien en kan ek net enkeles vermeld: Besoeke oor die jare heen aan verskillende eienaars by die unieke ou Stasie-kuierplek: Terry en Kat vroeër van die Junction en nou by Busted Knuckle se bielie-burger-plek in Oaklaan, Johan en Cathy by Cocopan se koffieplek, Keron en Senette by Whispering Oaks, Marie van Lemon Tree en die nimlike Jan Theron en sy vriendelike personeel wat Piazere deesdae by die dorpie se gholfklub bedryf. Gesellig is dit ook altyd op die dek van Harrie se pannekoekplek.
Die gasvrye Terry Behrens saam met gaste by Busted Knuckle
Op Cullinan het ons lankal by Lientjie Wessels en haar man, wyle Robert Denton, gekuier en tranerol-gelag saam met die kunstige kook-vernuf van Lientjie, wat deesdae ‘opwip-etes’ by haar woning en elders in die omgewing en land voorsit. En die gemoedelikheid van veelsydige kunstenaar, Willie Strauss, se teetuin-dae by sy Sinkhuis, bly ’n erg aangename ervaring.
Genoemde onthouplekke is bloot die oortjies van die seekoei in die uitgestrekte kuier-dam waar ons oor 20 jaar heen in Bronbergland gemoedelikheid en welkome hartlikheid ervaar het.
|