Naelperde weens oorlog naby verwant aan Boerperde Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 22 September 2022 09:45
Untitled Document

Ons geskiedenisboeke is verkeerd – dit was nie Argentynse ponies wat die Britte met die Anglo-Boereoorlog as kavallerieperde hierheen gebring het nie, maar naelperde (“quarter horses”).

So sê Cheryl McCrindle, professor by die fakulteit van gesondheidswetenskap by die Universiteit van Pretoria, eienaar van Donkerhoek veeartsenykundige spreekkamers en Arabesque Naelperd-stoet.

Onlangse navorsing wys dat SA Boerperde en Amerikaanse naelperde ’n baie soortgelyke genetiese samestelling het. Cheryl sê dit is baie moontlik dat naelperde wat die oorlog oorleef het, agtergebly het en geteel het met die plaaslike perde wat nie deur die Britte doodgeskiet is nie.


Die naelperd, Arabesque Bold Sailor

Cheryl sê dat die Amerikaanse Naelperdmuseum aandui dat die Argentynse ponies te klein was om as kavallerieperde te gebruik en dat aankopers Texas toe is waar naelperde deur die week gebruik is om met beeste te werk, op Saterdae resies gehardloop het en die familie op Sondae in ’n perdekar kerk toe geneem het.

’n Engelsman, William Anson, het die naam, “American Quarter Horse”, geskep. Dit is hy wat meer as 20 000 perde vir die Britse regering in Texas gekoop en na Suid Afrika verskeep het. Baie van dié perde is geteel uit die bekende Texas-gebaseerde hings, Steeldust.

Naelperdbloedlyne kan terug gespeur word na hulle Spaanse voorsate, wat Cortez gebruik het met sy verowering van Mexiko. Inheemse Chickasaw Indiane het met dié geharde Spaanse Berberperde geteel.


Cheryl McCrindle se kleindogter, Alethea Vermeulen, op die naelperd, Bronco Captain Cape

Naelperde is reeds in 1611 in Amerika met ingevoerde Engelse volbloedperde gekruis. Hulle nageslag is gebruik vir perde-wedrenne en het as die American Quarter Running Horse’ bekendgestaan. ’n Kleinseun van die Godolphin Arabierperd, genaamd Janus, is in 1752 na Amerika geneem en sy gene vorm deel van dié perde. ’n Spoed van 88 km per uur is al vir naelperde gemeet.

Vandag se plaaslike naelperde kan beide in Suid-Afrika, by die South African Quarter Horse Association, en in Amerika, by die American Quarter Horse Association (AQHA) in Amarillo, Texas, geregistreer word. Die AQHA het al meer as vyf miljoen perde geregistreer en het meer as 350 000 lede wêreldwyd.

Cheryl se Arabesque Naelperdstoet het die pret perdeskou op 9 en 10 September by Willem Prinsloo-landboumuseum geborg en sy het haar teelhings, Arabesque Bold Sailor, daar uitgestal.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger