Twintig jaar soos jaarringe Print E-mail
News - Briewe
Thursday, 22 September 2022 09:12
Untitled Document

Charles Thompson van Boekenhoutskloof:
Met die Bronnie wat 20 word, vra iemand my waar ek 20 jaar gelede was en hoe my pad geloop het?

Is die lewe nie maar soos jaarringe wat deur seisoene vasgelê word nie? Oor en oor ’n draaikolk, waar die middelpunt gisters uitwis en in veraf donkerte laat rus nie?

Twee dekades terug . . . Baie meer energiek, deel van ’n familiekwekery wat hand uitruk soos dit groei. Bou nuwe huis. Groot. Nuwe voertuie. Voer reuse hoeveelhede orgidee in om die “hobby” op sy eie voete as ’n besigheid te laat staan. Duisende “six packs”, petunias en Pansy en – ja impatiens.

Tot die pes paar jaar later die impatiens oornag vernietig, Amerika verkoue begin kry en alles, saam met ’n groot droom wat ons finansier, binne maande soos ’n dodelike siekte alles  verander . . .

Ons eindig in Boekenhoutskloof. ’n Vriend wat hom ontferm. Ons leef, ons loop, word normaal. Sirkels, stadig. Baie stadig. Soms stap ek Sinoville toe, gaan kuier by moeder, sy het dementia. Sy sterf in '17. 

Ons is nog hier. Paar beeste (alles het ’n storie), skape, hoenders en kalkoene. ’n Stokou Chana laat ons weer bietjie rondbeweeg.

En dan is daar weer ’n paar orgidee. Bietjie, maar daar is ook ’n laboratorium nou waar ek weer kan orgidee saai, of kloon, of aarbeie kloon.

En skielik is ons weer halfmens. En as iemand nie meer sy orgidee wil hê nie, of moet ontslae raak: Ek het hulle weer as ’n tuin vir my siel nodig . . .

Bronnie, dankie dat jy al so tien jaar in my lewe is. Jou daar by oom Japie se slaghuis, RenR leer ken. En hy het altyd een onder die tafel vir my gebêre. En dankie vir jou adverteerders. 

’n Mens se lewe word as’t ware gelei deur die wat daar adverteer. Hoe belangrik is die een nie vir die ander nie.

Geluk Bronnie!

 

© 2024 Die/The Bronberger