Angie Kleijn
Wie sou kon raai dat die seun van ’n Britse messelaar so ’n prominente rol in Pretoria se beginjare sou speel? Of dat hy vlot Afrikaans sou praat in sy toespraak met die opening van De Nationale Bank op 20 April 1891?
Thomas William Beckett word onthou as ’n Pretoriase winkelier, maar hy was die eerste voorsitter van De Nationale Bank van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) van 1891 tot 1900, het ’n invloed gehad op die ontwikkeling van mynkonsessies aan die Witwatersrand en iets wat vandag nog ’n huishoudelike naam is – Vyf Rose-tee.
Thomas is op 2 Augustus 1851 gebore as een van die nege kinders van Sarah Theresa en Frederick Beckett, wat die Britse sensus as ’n messelaar aandui, hoewel daar gesê word dat Thomas in sy “voorvaderlike tuiste”, genaamd Merton Abdy, gebore is. Die sensus dui die adres aan as Halesstraat 2, Deptford, Kent, Engeland.
Thomas William Beckett
Foto: Friends of Tshwane Heritage Research Centre
Die gesin het na Australië geëmigreer, waar Thomas begin skoolgaan het. In 1864, toe hy 13 jaar oud was, het hy en sy pa sy ma en jonger boeties en sussies in Australië agtergelaat en na Suid-Afrika getrek. Sekere bronne sê dat hulle in Pietermaritzburg gevestig het en ander sê dit was in Port Elizabeth. Dit lyk asof Thomas se pa nooit weer sy vrou gesien het nie.
Thomas het by ’n firma genaamd Savage and Hill gewerk. In 1871 het hy besluit om sy geluk op die diamantvelde te gaan toets en hy het glo daarná by die firma Hill en Paddon op Kimberley aangesluit.
Thomas is in 1874 in Bloemfontein met Anne Harriet Isabella Orsmond getroud en hulle het 16 kinders gehad, vier van wie jonk dood is weens ingewandskoors. Toe Thomas 23 jaar oud was, het hy en Anne besluit om Pretoria toe te trek. Die hernude vertroue in die finansiële posisie van die ZAR onder president Thomas Francois Burgers het ’n toestroming van handelaars na Pretoria veroorsaak.
Thomas Beckett se dubbelverdiepinggebou
Foto: Friedel Hansen-versameling
Blackwood-villa
In 1875 het Thomas ’n blok erwe van president Marthinus Wessels Pretorius gekoop waarop hy Blackwood-villa hotel – vernoem na ’n inheemse boom in Australië – gebou het. Dit was glo vir baie jare die beste hotel in die dorp weens die goeie stalle en stalwerkers.
In 1936 wou Thomas se seun, wat die grond by sy pa geërf het, die plek aan die stadsraad verkoop vir R80 000. Volgens hom was dit ideaal vir ’n mark of busparkeerplek. Die stadsraad het die grond eers in Maart 1945 aangekoop en Munitoria daar opgerig.
Ook in 1875, het Thomas die gebou van Kisch en Harsant op Kerkplein oorgeneem om sy sake-onderneming, waar hy wol en velle verkoop het, te begin. Hy het egter die markwet oortree deur tabak direk by boere te koop in plaas van op die mark. Thomas is skuldig bevind en het ’n boete van sewe sjielings en ses pennies gekry. Die boete kon so hoog as 500 Rijksdalers gewees het, maar die landdros was hom glo genadig omdat dit ’n eerste oortreding was.
Knap ’n rukkie daarna het hy grond gekoop en ’n enkelverdieping gebou opgerig op die noordwestelike hoek by die kruising van Kerk- en Van der Waltstraat – ’n terrein waar OK Bazaars later jare was. Dié winkel het bekend gestaan as TW Beckett Algemene Handelaar.
Thomas het vooruitgeboer en later adverteer hy dat ’n nuwe besending ‘Salon-meubels’, soos rusbanke, gemakstoele, klavierstoele, vase en boekrakke so pas uitgepak is, asook sporttoerusting, soos krieketkolwe, -paaltjies, -balle en kniestukke.
’n Poskaart, rondom 1905, wys TW Beckett & Co op ‘Beckettshoek’
Foto: Carol Hardijzer-versameling
Hollandia
Thomas was verantwoordelik vir die bou van nog ’n hotel in 1884. Dié hotel in Scheidingstraat oorkant die Pretoriase stasie, het aanvanklik as die Stasie-hotel bekendgestaan, maar is Hollandia-hotel herdoop, vernoem na die Hollandse werkers wat die Delagoabaai-spoorlyn vir die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM) gebou het.
Thomas het die grond by die Hervormde Kerk gekoop en hy het dit, en die aangrensde erf, aan die Russies immigrant en Joodse entrepreneur, Jacob Joffe, verhuur met die voorwaarde dat ’n hotel daar gebou moet word.
Toe die Britte Pretoria in die oorlog in 1900 beset het, het lord Roberts die hotel na die Victoria-hotel herdoop. ’n Tweede verdieping is voor 1902 aangebou. Die grondvloer was vir omtrent 30 jaar ’n mansuitruster en barbier, voor dit plek gemaak het vir die hotel se sitkamer. Vandag staan die Victoria-hotel bekend as een met die meeste ‘spook-aktiwiteite’ in Pretoria.
Merton Keep op erf 830 wat vandag in Eastwoodstraat 188 is
Maatskappy
Intussen het Thomas ’n beperkte aanspreeklikheid-maatskappy, TW Beckett and Co, geregistreer. Die direkteurs was Thomas en sy vriende James Hill en John Paddon. Al die aandeelhouers was familielede.
In 1885 het TW Beckett and Co uitgebrei en ’n dubbelverdiepinggebou, ontwerp deur Pretoriase argitekte Campbell en Emley, gebou. Ná Thomas se dood in 1924 het die onderneming tot die 1960’s in dié gebou voortgegaan onder die eienaarskap van Beckett, Murray & Co.
Thomas se onderneming het gou bekend geword as die grootse groothandel en kleinhandel invoerders in die ZAR. Hy het takke oopgemaak in Johannesburg, Rustenburg en Pietersburg. Hy het ook baie kontrakte gekry, soos die verskaffing van alle grawe en pikke benodig in die bou van die Delagoabaai-spoorlyn deur die NZASM.
Thomas was ook, saam met Isaac Lewis, Samuel Marks, F Clench, Lewis P Ford, Carl Jeppe en
JP Hoffmann, een van die oorspronklike direkteurs van Albert (Silwer) Myn Bpk. Die Hongaar Alois Hugo Nellmapius het in 1885 silwer erts op die plaas Roodepoortjie 250 JR, noord van Bronkhorstspruit, ontdek. Hy het die plaas daarna by Christiaan Joubert, wat in 1892 die ZAR se minister van mynwese was, gekoop. Die myn is in 1886 op die Johannesburgse Aandelebeurs gelys en is tot 1893 bedryf.
In 1887 het Thomas in Johannesburg grond gekoop en daar bedrywe aan die gang gesit. Hy het ook drie plase besit: Op die Hoëveld; naby Warmbad; en in die Standerton-distrik.
Tente het deel van die ‘Imperial Yeomanry’ hospitaal gevorm
Foto: Friends of Tshwane Heritage Research Centre
Merton Keep
In 1889 het Thomas ’n deel van Arcadia teen Meintjieskop by Eddie Meintjes gekoop en ’n huis, Merton Keep, vernoem na sy geboorteplek, daar gebou. Ossewaens het glo al die bakstene en materiaal vir dié huis van Natal af aangery. Dit het £24 000 gekos om Merton Keep, met sy 20 vertrekke en ’n konserwatorium, te bou. Die meeste vensters het uit loodglaswerk bestaan en Thomas se familiewapen het op die grootste venster gepryk.
Thomas se grond het gestrek van Eastlaan tot Eastwoodstraat noordwaarts tot op Meintjieskop. Hy het ook die voorstad van Eastwood, wat vandag deel van Arcadia vorm, gestig. Van die straatname in dié voorstad is na sy seuns vernoem. Die deel van Kerkstraat wat strek van Thomas se winkel op die hoek van Van der Walt-straat tot naby sy huis in Arcadia, het as Beckett-se-Hoogte bekendgestaan.
Thomas en Anne het Pretoriase liefdadigheidsorganisasies ondersteun en het mense in nood graag gehelp. Een voorbeeld is Johan Schoeman, seun van generaal Hendrik Schoeman. Met Hendrik se dood moes die plaas, Schoemansrust, op ’n bankrotveiling verkoop word. Johan was toe 17 jaar oud en op skool in Pretoria. Hy het ’n sakeplan uitgewerk en het £10 000 by Thomas geleen om die plaas uit sy pa se bankrotboedel te koop.
’n Skets van Thomas William Beckett
Skets: Well known persons from the ZAR 1891 character sketches
Hospitaal
Merton Keep-landgoed is in die oorlog deur die Britse militêre owerhede oorgeneem en as hospitaal gebruik. Die Becketts moes die huis verlaat toe Lord Roberts die eiendom in die “Imperial Yeomanry Hospital” vir Britse troepe omskep het en hospitaaltente laat opslaan het. In die volksmond het dit as die Beckett-hospitaal bekend gestaan en meer as 5 000 pasiënte is daar behandel in die enkele jaar wat die hospitaal bestaan het.
Een van hulle was prins Christian Victor van Schleswig-Holstein, kleinseun van koningin Victoria, wat op 29 Oktober 1900 daar dood is. Die 33-jarige prins het malaria opgedoen en is aan ingewandskoors dood nadat hy drie dae in ’n koma was. Hy is in ’n beskeie soldategraf in Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas begrawe.
’n Kwitansie van TW Beckett & Co Ltd van Maart 1919
Bron: Sharon Kersten
Vyf Rose
Die naam Vyf Rose is in 1909 as ’n Beckett-handelsmerk geregistreer. In 1912 is ’n tak in Durban oopgemaak, gevolg deur die eerste tee- en koffiefabriek, en takke in Kaapstad en Oos-Londen.
In 1915 het PV Gawith en TC Knight gesamentlike algemene bestuurders van Becketts geword. In die laat 1930’s het Thomas ’n vennootskap met sigorei-boere rondom Alexandria gevorm, wat die maatskappy in staat gestel het om in die Tweede Wêreldoorlog die rakke vol te hou met koffie-en-sigorei mengsels.
Thomas is op 29 April 1924 in die ouderdom van 72 jaar oorlede. Sy oudste seun, George William Beckett, het voorsitter en besturende direkteur van TW Beckett & Co geword. Toe Thomas se vrou Anne in 1933 oorlede is, was George en Herbert Beckett die enigste Becketts wat hulle beleggings in die maatskappy behou het.
Die eerste winkel wat Thomas Beckett op die hoek van Kerk- en Van der Waltstraat gebou het
Foto: Friends of Tshwane Heritage Research Centre
Die Johannesburgse winkel is in 1934 verkoop. In 1946 het PW Gawith, wat in die vroeë 1900’s by die maatskappy aangesluit het, besturende direkteur geword en TW Beckett & Co het ’n openbare maatskappy geword.
Met George se dood in 1947, in die ouderdom van 71 jaar, het die Becketts se betrokkenheid by die maatskappy tot ’n einde gekom. In die 1950’s is TW Beckett & Co se hoofkantoor na Johannesburg geskuif en die onderneming het uitgebrei om die grootste tee- en koffie-maatskappy in Suid-Afrika te word.
PW Gawith is in 1961 oorlede en sy seuns, Richard, Steven en Toby, het in die maatskappy se hiërargie opbeweeg, terwyl George se skoonseun, John Inglis, voorsitter geword het.
TW Beckett & Co se gebou is regs voor in dié foto wat met die Britse besetting van
Pretoria geneem is
Foto: Guy Randolph Beckett-versameling
Vandag
Merton Keep staan nog op erf 830 tussen Merton- en Georgelaan, aangrensend aan Eastwoodstraat. Die huis is die eerste keer ná Anne se dood in 1933 verkoop. Daarná het dit glo aan ’n prokureursfirma behoort.
Celeste Odell vertel dat haar pa net ná die Tweede Wêreldoorlog daar gewerk het. Hulle het een nag tot in die vroeë oggendure aan ’n hofsaak gewerk en het dwarsdeur die nag mense in die dolleë huis hoor lag en praat. Hy het glo gesê die ergste was dat die tikmasjien sommer so op sy eie begin tik het. Haar pa het geweier om ooit weer ná donker daar te werk.
Die eiendom is in 1949 deur die Franse regering gekoop, wat die ingang gemoderniseer en die huis opgeknap het. Dit is in 1953 omskep in kanselierskantore en die Franse ambassade. Die Franse ambassadeur woon vandag in dié huis.
Merton Keep se ou stalle was oorkant die pad en is ingerig as woning vir een van Thomas se seuns. Dit is vandag die Switserse ambassade. |