Inwoners van Onbekend en Kameelzynkraal is erg omgekrap oor ’n aansoek om prospekteerregte, wat meer as 288 hektaar in dié landbougebied sal raak.
Die departement van minerale bronne en energie het ’n prospekteerregte-aansoek van Mtluva Mining van Bynestpoort aanvaar. Hulle wil prospekteer vir verskillende soorte sand, soos betonsand, bousand, vergruiser-sand, opvullingsand, gieterysand, glassand, algemene sand en silika-sand, sowel as aggregaat en allerhande soorte klip en klei.
Die aansoek is vir gedeeltes 15, 16, 17, 11, 9, 8, 36, 7, 5, 21, 20, 19, 18 en 17 van die plaas Onbekend 398 JR en gedeeltes 8, 9, 13, 14, 15, 16, 17, 19, 43 en die restant van gedeelte 3 van die plaas Kameelzynkraal 547 JR.
Toegang tot die gebied is deur ’n grondpad, wat verbind is aan die Witpoortpad (Garstfonteinweg-verlenging of die M30), ongeveer 1,2 km oos van die kruising van Garstfonteinweg-verlenging en die Bapsfontein-Bronkhorstspruitpad (R25).
Konsultante
Mense in die omgewing het tot 10 Augustus tyd gehad om as belanghebbende partye te registreer by omgewingskonsultante, Sakhal and Tobe Environmental, wat die konsep basiese evalueringsverslag en omgewingsplan opstel.
Jacques Nel, gemeenskapkoördineerder, het met die konsultante gepraat en ’n verteenwoordiger het aan hom gesê dat hulle direk met eienaars gaan skakel eerder as om openbare deelname-vergaderings te hou.
Jacques sê daar is nêrens in die gemeenskap kennisgewings opgesit nie. “Daar was einde Julie omtrent 30 mense by ’n vergadering en nie een van hulle het enigiets in die area gesien nie. Ek het al met ander aansoeke gesien hulle sit dit byvoorbeeld in Bronkhorstspruit by die biblioteek op en sê dan hulle het adverteer,” sê Jacques.
Lisensies
Die gebied waar Mtluva Mining wil prospekteer is een waar bestaande mynregte is en vorige prospekteringaansoeke was. Jacques sê so ver hy weet besit Witpoort Sand Trust die mynlisensie (nommer ML44/2003) op gedeelte 10 van die plaas Onbekend.
Nog ’n mynlisensie (aansoeknommer H/2007/05/29/003) is in 2011 ook aan Witpoort Sand Trust toegeken. Dié aansoek was hewiglik deur die gemeenskap teengestaan, sê Jacques.
“Na die teenkanting en openbare deelname-vergaderings was daar geen verdere kommunikasie nie tot ek in 2020 toevallig bewus geword het van die lisensie. Daarna het ek amptelike kanale gevolg om beswaar te maak, maar ek het nog geen terugvoer daaroor gekry nie,” sê hy.
Jacques sê dat die gebied onder die huidige prospektering-aansoek die direkte gebied rondom die bestaande twee mynregte is. Dit is ’n gebied wat in die kwaternêre opvanggebied B20C (Osspruit-opvanggebied) van die Olifantsrivier waterbestuursgebied val. Groot dele van die gebied word op kaarte as ’n kritiese biodiversiteitsgebied beskryf.
Besware
Jacques sê dat daar redelik baie werk in die verlede gedoen is oor verskeie spesies diere en plante wat bedreig of skaars is en dat dit ’n groot deel van die gemeenskap se oorspronklike besware in die openbare deelname-proses was.
Hy sê dat die gebied op die huidige mynlisensies en ook op die nuwe aansoek ’n groot verskeidenheid infrastrukture op het, van plaashuise, store, lande, lewende hawe en verbouing. Al die eiendomme wat deur die voorgestelde myn geraak sal word, is landbougrond en, behalwe wonings, sal weiding, grondwater, heinings en aangeplante gewasse in die slag bly, sou daar gemyn word.
Ander besware teen ’n sandmyn is die toename in stof en lugbesoedeling; die geraas van groot masjinerie en toerusting, die migrasie van wilde diere, vernietiging van die natuurlike omgewing, verlies aan inkomste en sake van almal wat daar boer, die koste om in ’n nuwe gebied te gaan hervestig en veiligheidskwessies met die toename van werkers in die gebied.
Dan is daar ook die gesondheidsrisiko – silikasand is bekend vir ’n hoë risiko vir silikose, ’n longsiekte veroorsaak deur inaseming van silika, kwarts of leiklip-deeltjies. |