Ons val soms en almal kry seer . . . Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Saturday, 23 July 2022 07:00
Untitled Document

Ek onthou nog duidelik driehonderd jaar gelede toe ek ’n kleuter was, vertel oom Buks Barnard: Destyds was ’n brose kinderlewe reeds nie sonder beserings nie – ’n vinger in ’n deur vasknyp, ’n mes wat jy onverhoeds in die hande gekry het, ’n val uit ’n boom, ’n kameeldoringdoring in die voet en, algemeenste, ’n stukkendgestampte toon.

In daardie dae mag jy nog (binne perke) gehuil het as jy seerkry, maar dit het net gehelp tot jy jouself té jammer begin kry. Ouers het baie ander sake en kinders gehad wat aandag vereis en kon nie te lank op één tjankbalie konsentreer nie, sê oom Buks.

Ek onthou nog daardie pynlike toonstampe. Met daardie seer, bloederige toon draf ek eerder verby my ma, wat wel ’n goeie, sorgsame, bekwame ma was, maar veels te netjies na my sin. Haar resep vir ’n stukkende toon was: Eers was sy die hele voet in ’n skottel Dettolwater om alle moontlike kieme uit te wis. (My ma kon vuil en slordig nie verdra nie.)

Dan maak sy die hele voet, met spesiale verwysing na die beseerde toon, sorgvuldig droog met ’n sagte handdoek. Sy smeer liggies ’n dik laag kiemvrekkende, helende salf oor die stukkende plek.

Sy verbind die toon netjies met ’n reep ou laken op so ’n manier dat geen vuilgoed by die seer kan uitkom nie. Die laaste deel van die verband skeur sy in die lengte in twee, sodat sy dit stewig om die toon kan vasknoop en die puntjies netjies met ’n skêr kan afknip.

Sy gee my ’n glas melk en sê: “Goed, speel nou maar eers hier in die huis rond totdat dit nie meer te seer is om buite toe te gaan nie.” Dit was goeie sorg waaroor niemand sou kon kla nie, maar nogtans hardloop ek met die seer toon verby my ma tot by die liewe buurtannie, tannie Tokkie Scholtz.

Met haar Peter Stuyvesant in die hoek van haar mond maak liewe tannie Tokkie net die seer toon self effens skonerig met ’n nat lappie. Dan besprinkel sy die toon en groot dele van die voet ryklik met bloedrooi merkurochroom.

As finale afronding verbind sy die toon, en sommer die hele voet met boonop ’n paar slae om die hakskeen, met ’n lakenreepverband en giet nog ’n klompie merkurochroom op die verband asof hy nie die seerkry vrygespring het nie en ook behandeling nodig het.

As liewe tannie Tokkie ’n gestampte toon gedokter het, kan selfs die mees onoplettende mens van ver af sien: Hier is ’n kind wat SEERGEKRY het. Die meegevoel wat hulle uitspreek, laat jou sommer kruppel loop van selfbejammering. (Min beseffende dat baie van die trooswoorde nie heeltemal opreg is nie, soms selfs effens spottend. Grootmense is maar so.)

Later in die lewe – penkopstadium – is ’n Boerseun ook aan beserings blootgestel, maar daardie beserings is meer aanskoulik. Daar is gewoonlik iets soos ’n fiets, ’n perd, ’n windpomp, ’n dak of ’n rugbyveld betrokke, maar jy is mos taai.

Baie maal sal die mense wat die ongeluk sien gebeur uitroep: “Sjoe, hy moes nou baie seergekry het,” maar dan staan die seun op, stof hom af en loop luiters weg . . . om sodra hy om die hoekie is, ineen te krimp van die weggesteekte pyn.

Selfs op ’n mens se oudag kom die beserings soms sonder uitnodiging: Daar slaat ek verlede week sonder rede, oorsaak of aanleiding uit die bloute op die skurwe sement neer – geen aanskoulike aanloop of geskokte uitroepe van omstanders nie, net ’n doodgewone, onverwagse oomblik van balansloosheid teen die onwrikbare aanslag van swaartekrag. Kaplaks!

En daar lê ek – regterknie heeltemal velaf, twee linkertone uit lit, waardigheid heeltemal verwoes. En boonop te oud om te huil.

Om met my dik lyf en durende duiseligheid op te staan, is toe ook nie so maklik nie – veral nie terwyl liewe Simson en die bure se liewe hond, Lilla, die petalje as die grootste pret beskou en my met oordadige, baldadige liefde toetakel terwyl ek so lekker binne bereik op die sement lê nie.

Kruip met die flenterknie kan ek nie; ek moet maar rol tot teen Witblits, my ou bakkietjie, sodat ek aan hom kan vashou om op te sukkel. En daar staan ek toe aan die bakkie en kleef om regop te bly – ineengekrimp van pyn, gestroop van al my waardigheid; en ek wens ek kon my vernedering op die skurwe sement vir die wêreld verberg.

En hier sit ek nou – vel- en vleisaf knie steeds polsend pynlik, ontwrigte tone darem bietjie beter – en ek wonder: Ek is nog heeltemal te jonk en vol lewe vir ’n kierie, maar veels te oud om iewers merkurochroom en trooswoordjies te gaan soek.

En ek dink: die beserings aan die knieë en tone op ’n mens se oudag is dalk erg, maar lank nie so erg as die beserings aan ’n mens so ego wanneer jy sonder waardigheid op die growwe sement neerslaan nie.

En ek besluit: Ek sal maar die troos (en spot) van my medemens ontbeer en vir niemand van my verleentheid vertel nie.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger