Vreetvriend en sy Eva staan in en hang by sinkdak uit Print E-mail
News - Vreethans
Saturday, 23 July 2022 06:58
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie. Dié twee het ’n ander draai gaan ry en vreetvriend Eus en sy Eva gevra om ’n kuierplek van hulle keuse in ons kontrei te loop beproe(f) . . .

Dis ‘High Noon’, Vrydagmiddag. Skielik tref ’n skoot uit die donker (afkomstig van die .44 WhatsApp Magnum van die Bronnie se redaksie) my kolskoot tussen die blaaie: “Wil/kan jy nie ’n paar foto’s neem, en iets skryf oor ’n eetplekkie in ons geweste nie?”

Eish! Wat ’n voorreg! ’n Kans om ’n bietjie van my duur petrol uit te ry! Naarstigtelik krap ek in Google rond, op soek na ’n eterye in ons gebied. Kry uiteindelik een wat interessant lyk. Die Tin Roof Café (Sinkplaatdak Kêffie, vir die taalpuriste). O, ja, hierdie is ook nie die TRC, waar mense so gelieg en geween het oor hulle bydrae tot die apartheid-era nie. Maar dit daar gelaat . . . Hierdie is ’n ‘dêm grênd’ eetplek. Ek bel en maak ’n afspraak vir middagete, Saterdag. Jenny, met die vriendelike stem, antwoord die foon en sê dis reg, hulle wag vir ons.


Die ingang na Tin Roof Cafe

Saterdag. Ek, en my Eerste-Vrou-vir-Altyd (afkorting: Eva), vat die pad – die R515 vanaf Cullinan, deur Rayton, oor die N4, regs in die R631, regs in die R223, tot by die Kêffie se indraaipad. Die laaste stukkie is ’n grondpad – in dieselfde toestand as ons geliefde stofpaaie, Oaklaan en Range Road, in Cullinan. Ons voel sommer klaar tuis.

Van die ander kant af werk dit so: Uit Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg) draai ’n mens af met die Boschkoppad. Ná ’n paar kilometer draai jy links op die Mooiplaatsgrondpad. Jy vind hulle ’n entjie verder aan op die regterkant, plot 198, Mooiplaats.


Paddastoel met die Taalkundige Inplanting (Mushroom Impanato Linguini)

Buite die gebou staan ’n fiets wat blykbaar aan ’n langtermyn gas behoort het – die mot en die roes het hom deeglik bygekom. Met die intrapslag is Jenny daar om ons te verwelkom, en sy begelei ons na ’n gerieflike plekkie op die stoep. (Terloops, hier word die Rooitaal gepraat.)

Ons kyk rond, en is aangenaam verras – niks van die oordonderende plaaslike “agtergrondmusiek” deur die mannetjies met die regop hare – of ’n hardhorende takhaar wat probeer kitaar speel en sing saam met ’n “bêktrek” nie. Net die blote salige rustigheid.


Hoender wat Dood is Onder ’n Baksteen (Chicken Under a Brick)

Die kelner, Tich, stel homself voor en wys vir ons die spyskaart. Net daar begin die moeilikheid – daar is ’n wye verskeidendheid van liplek-lekker-disse. Maar uiteindelik besluit my Eva op die Hoender wat Dood is Onder ’n Baksteen (Chicken Under a Brick teen R168), en ek op die Paddastoel met die Taalkundige Inplanting (Mushroom Impanato Linguini teen R128). Verskoning, Latyn was nog nooit my sterk vak nie.


Gaste ontspan in die tuin

Ons stap ’n bietjie binne die restaurant rond, en dit is duidelik dat hierdie instansie ordentlik bestuur word – die plek is pynlik netjies en skoon. Die personeel is hoflik en effektief, die atmosfeer is elegant, gemoedelik, en ontspannend. Jenny-hulle besit en bestuur die restaurant al 14 jaar lank. En dit sê veel in hierdie moeilike tye.


Mense kan binne-in die restaurant kies om bo of onder te sit

Intussen daag daar nog gaste op om iemand se sewentigste jaar op die aardbol te vier. Hulle lyk almal hêppie, gesond – en reg om te paartie. Ek sien ’n spul opgewonde mense onder een van die bome staan en boontoe kyk. Sommiges wys met die vingers na iets wat bo in die takke sit en skreeu soos ’n Minister van Polisie. Ek stap nader en sien dat dit net ’n suidelike geelbekneushoringvoël (Tockus leucomelas) is, wat sy maat soek. (Groot sug van verligting.)


Daar is ’n kaggelvuur vir die wintermaande

Binne ’n kort tydjie bring Patrick ons bestellings. En, wragtig, sowaar as parramanuel, die kos is puik! Myne is die heerlikste paddastoele, in so ’n bros korsietjie, gedompel in allerhande watertand goeters en souse. Eva se oorlede hoender, wat onder die baksteen gesterf het, bring so ’n vêraf skynsel in haar oë. Hierdie is waarlik kos vir die epikuris. (Ek voel lus om voor die sjef te gaan buig en te sê: “I’m not worthy.”)


Oral in die ruim tuin is daar afdakkies waar mense in die koelte kan eet

Maar nog is dit het einde niet. Ons besluit albei op die Pistachio Créme BrČ—lée vir nagereg. Bietjie aan die duur kant, teen R82.00 een, maar definitief die prys werd.

My oorwoë mening? Puik, puik, puik. Uitstekende waarde vir jou geld. Bring gerus die kleinspan saam – daar is lieflike speelplekkies op die gras – en sambrele word uitgesit, indien jy sou verkies om buite te eet.

Bel hulle gerus: 072-367-5698. 

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger