Dié kluisenaars loop kringe in die bos om baklei te vermy Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 23 July 2022 06:52
Untitled Document

Die sku en ontwykende bosbok is die minste sosiaal van alle bokke in Afrika. Die ooie verkies selfs om interaksie met hulle lammers tot net ’n paar ure per dag te beperk.

Dié alleenlopers hou ook nie daarvan om met mekaar te baklei nie. Hulle is die enigste nie-territoriale Afrika-boksoort waar nie die ramme òf ooie enige deel van hulle tuisgebiede sal verdedig nie en waar ramme uit hulle pad sal gaan om kontak met mekaar te vermy.

Hoogs ritualistiese gedrag maak dat die ramme dit meestal onnodig vind om te veg. Hulle pronk en beweeg stadig, met geboë rûe om mekaar terwyl hulle gespanne hoog trap. Daar is ook ’n onwrikbare ouderdomsgebaseerde rangorde tussen die ramme.

Bosbokke verkies digte bosse aan die voet van berge of langs rivierlope en kruip in die dag hier weg sodat mense hulle gewoonlik net sien as die son begin sak of opkom. Dit is ook hier waar dié mooi bokkies soms in die Bronberggebied gesien word.


Ram
Foto’s: Wikipedia; Bernard Dupont

Hulle beweeg teen skemer na hulle naggebied – wat meer oop is maar nooit ver van skuiling af nie – om te wei tot die dag breek. Hulle slaap egter nie die hele dag nie: Die helfte van die dag word daaraan bestee deur te staan en wei.

Tog raak bosbokke amper heeltemal naglewend in gebiede waar hulle gereeld in die dag versteur word. Wanneer dié bokke bedreig word, reageer hulle op verskeie maniere. Hulle kan bokspringend wegbeweeg terwyl hulle hees blafgeluide maak of hulle kan stadig plat op die grond gaan lê.

As hy in ’n hoek gedryf word, sal die ram dapper veg en sy skerp horings maak hom uiters gevaarlik wanneer hy gewond is. Wanneer ’n bosbok aangeval word, kan hy ’n gedugte teenstander wees.

Die bosbok, Tragelaphus Scriptus, is nou verwant aan koedoes en njalas. Ramme is groter as ooie en weeg van 40 kg tot 80 kg met ’n skouerhoogte van 70 cm tot 100 cm. Ooie weeg tussen 25 kg en 60 kg en staan 65 cm tot 85 cm hoog.

Ramme is donker grysbruin met wit kolle op die sye en prominente wit pote. Volwasse ooie is ligter van kleur met duideliker wit strepe en kolle. Albei het wit kolle op beweeglike dele, soos die nek, ore, ken, stert en bene en het ’n wit band aan die onderkant van die nek. Daar is baie individuele- en streeksverskille in hulle kleur en merke. Oor die algemeen is bosbokke wat diep in die woude woon, donkerder.


Ooi

Slegs ramme het horings, wat langer as ’n halwe meter kan word. Jong rammetjies se horings begin teen tien maande groei. Een spiraal word gevorm en die res van die horing is redelik reguit.

Ooie is 180 dae lank dragtig en sommige ooie kan twee keer per jaar lam. In droë streke is lamtyd gewoonlik in die reënseisoen, maar in hoë reënvalgebiede is daar nie ’n spesifieke lamtyd nie. Na die geboorte maak die ooi die pasgebore lam, van ongeveer 4 kg, skoon en vreet die plasenta.

Die jong lam word baie goed versteek omdat hy – totdat hy ongeveer vier maande oud is – nie saam met die ooi loop nie. Wanneer die ooi die lam besoek sodat hy kan drink, vreet sy selfs sy mis sodat daar geen reuk is wat roofdiere kan lok nie.

Ooie is op 14 maande volwasse en ramme op 11 maande, alhoewel hulle nie om ooie meeding nie tot hulle op die ouderdom van drie jaar sosiaal bedrewe is.

Vreemd genoeg is bosbokke baie goeie swemmers.

 

© 2024 Die/The Bronberger