Donkievul wat uit doodskake gered is, vorder Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 23 July 2022 06:49
Untitled Document

Baba Willow, die Tierpoortse donkievulletjie wat deur perde uit die kake van ’n jakkals gered is, word nou nege maande oud. Haar eienares, Nadine Minnaar, sê dat Willow baie klein is vir haar ouderdom en soos ’n miniatuur donkie lyk.


Willow op die herstel-pad verlede jaar
Foto’s: Verskaf

Ons het verlede jaar berig dat ’n jakkals vir Willow as ’n pasgebore vulletjie aan die skof beetgekry het en probeer wegsleep het. Willow se ma was ’n onervare jong donkie-merrie wat tussen Nadine se perde op die hoewe woon, en het op loop gesit toe die jakkals haar vul gryp.

Vier van Nadine se ryperde het op die toneel afgestorm en die jakkals verjaag. Een van die perde het aanhoudend vir Nadine-hulle naby die huis gaan ‘roep’ totdat hulle agter die perd aan is om te gaan kyk wat skort.


Willow soos hy vandag lyk

Daar het hulle die pasgebore donkie-vul bloeiend met bytmerke aan haar skof by die ander drie ‘reddingsperde’ aangetref. Nadine sê die perde het die vulletjie beskerm en was selfs half aggressief teenoor haar toe sy nader beweeg het. Dit was volgens spore en ander tekens duidelik dat die vul byna jakkalskos geword het.

Klein Willow is aangeneem, behandel, versorg en met die hand grootgemaak.

 

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger