’n Hoendervleis-oomblik toe projek ‘afskrop’ Print E-mail
News - Ons Mense
Saturday, 23 July 2022 06:46
Untitled Document

Kungwini Welsynsorganisasie en Terugploeg is twee van die nie-winsgewende instansies in ons gebied wat baat vind by die splinternuwe Skenk-’n-Hoender-Projek. Die fokus is om gesonde proteïne aan die mees kwesbare mense in ons gemeenskap te voorsien.

Die projek is die inisiatief van Everest Wealth en die hoenders kom van Alwyn en Margaux Kleinhans se hoenderboerdery, omtrent 10 km buite Cullinan. Hulle hoenders is 100% vrylopend, sonder hormoon-toediening en daar is geen voer-manipulasie-tegnieke nie.

Die Skenk ’n Hoender veldtog het ‘afgeskrop’ deur 15 000 top-gehalte vryloop-hoenders vooruit te koop by die Kleinhanse. Everest Wealth het hande gevat met Groot-fm 90.5 wat toe ’n paar nie-winsgewende gemeenskapsorganisasies genader het om die hoenders doeltreffend te versprei.

 
Die tjek lees: 15 000 vrylopende hoenders
Foto: Verskaf

Welsynsorganisasies trek die afgelope tyd geweldig swaar. Een van die begunstigdes, SA Cares for Life, se Sanet Fagan het ná die oorhandiging gesê dat 80 persent van hulle skenkers ná die Covid-tydperk hulle maandelikse bydraes onttrek het.

“Die massiewe skenking bring verligting aan ons begroting,” het Charlene Grobler, verteenwoordigend van die Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise, gesê. “Dit help sodat die geld wat ons op hoender sou uitgee, nou ’n ander gaatjie in die begroting kan toestop.”

Vyftien persent van Alwyn se hoender aanwas word geskenk aan die Skenk-’n-Hoender-projek. Die doel is om proteïne aan die gemeenskap te verskaf, en sodoende begunstigdes deur beter voeding in staat te stel om nog ’n treetjie tot selfstandigheid te neem.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger