KragDag wys jou wat jy self kan vermag Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 23 July 2022 06:44
Untitled Document

KragDag, die alternatiewe energie- en selfstandigheid-ekspo is van 11 tot 13 Augustus van 8 vm tot 5 nm by die Diamantvallei-landgoed op Rhenosterfontein.

Vanjaar is daar 600 uitstallers met ’n opvoedkunde sub-ekspo, landbou sub-ekspo in samewerking met TLU SA en ’n Kuns en Knabbelmark in samewerking met Solidariteit Helpende Hand.

Hoewel hernubare energie ’n sentrale rol speel, vind jy ook oplossings vir die uitdagings van water, veiligheid, gesondheid, voedselproduksie, opvoedkunde, vervoer en konstruksie en word ’n maker- en kreatiewe entrepreneuriese lewensingesteldheid aangemoedig.

Die ekspo bied ’n leersame dag in ’n karnaval-atmosfeer met ’n speelpark vir kinders, ’n biertuin en verskeie koskraampies. In die KragDag-raadsaal word talle gratis lesings en paneelbesprekings deur bekendes en uitgelese kenners gehou.


Verlede jaar se KragDag Ekspo
Foto’s: Verskaf

Besienswaardighede in die arena sluit vertonings met perde en berede oorlogvoering,  tentoonstellings van verskillende vee-rasse en hommeltuigdemonstrasies in. Buiten die landbou- en vee-uitstallings en bulring-programme, word vanjaar ook ’n boere-veiligheidspatent-kompetisie aangebied.

“Ons soek patente/planne van boere vir vroeë waarskuwing, soos die ou tradisionele toutjie met blikkies aan en klippies in die blikkies . . . as iemand of iets die tou aftrap, is daar ’n lekker geraas. Dis ’n vinnige voorbeeld,” sê TLU se president, Henry Geldenhuys.

“Daar is dalk ook opsies vir peutervrye-slotte. Dit mag nie ’n gekoopte ding wees nie, maar kan natuurlik gebou word met gekoopte onderdele.

Dit moet ’n praktiese boere-patent wees, wat jou kan help met veiligheid in en om jou huis. Die belangrikste is dat dit nie ’n fortuin moet kos nie. Dit moet ook ontwerp en gebou word deur ’n individu,” sê Henry.

By die TLU KragDag Landbou Ekspo, gaan daar uitstallings wees en ’n paneel beoordelaars sal die beste drie patente aanwys. Die drie wenners sal op 11 Augustus aangewys word. Inskrywings is gratis en die sluitingsdatum is 4 Augustus. Om deel te neem aan die kompetisie, kontak  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it  vir die aansoekvorm. 

Hekgelde by KragDag is R100. Jy kry 50% afslag as jy vooraf registreer en kinders tot 18 jaar gaan gratis in. Skakel 087-231-1644 of besoek www.kragdag.co.za.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger