Studies sal spruit se lot bepaal Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 23 July 2022 06:43
Untitled Document

’n Beoogde ontwikkeling op ’n 1,8 hektaar erf aan die Rubensteinrylaan gedeelte van die Moreletakloof-natuurreservaat het baie vrae laat ontstaan oor dié reservaat van 93 hektaar se behoud.

Dié erf op gedeelte 88 van die plaas Garstfontein 374 JR is teen die Rademeyerspruit, die reservaat se lewensaar, en die ontwikkelaars het aansoek gedoen vir ’n watergebruik-lisensie, wat die volgende insluit: Die herlei of wysiging van die stroom, bodem, oewers en kenmerke van die stroom.

Vriende van Moreletakloof het omliggende inwoners, stappers, drawwers en besoekers aan die reservaat aangemoedig om teen die afsnydatum van 21 Junie kommentaar te lewer oor die beplande ontwikkeling.


Die klein stroompie water wat onderdeur die palissade-heining by Moreletakloof instroom
Foto’s: Moreletakloof

Jeannie du Plessis, bestuurslid van Vriende van Moreletakloof, het mense ná die tyd bedank vir hulle ondersteuning en gesê die Vriende glo dat die ekologiese studie wat gedoen gaan word, die Rademeyerspruit en die reservaat sal beskerm.

Omgewingsbewustes het gevrees dat veranderings aan dié spruit se loop nie net Moreletakloof nie, maar ook die ander groen gebiede wat die spruit ondersteun, soos Serene Valley en die Faerie Glen-natuurreservaat, sal beïnvloed.

Jeannie het gesê dat ’n verandering aan die volume of gehalte van die Rademeyerspruit ’n impak sal hê op die reservaat se boom- en plantspesies, die meer as 400 sampioensoorte wat al in die kloof uitgeken is en wat die klammigheid nodig het, en die meer as 100 bokke, sebras en volstruise. Die reservaat is ook bekend vir sy baie voëlspesies omdat die kloof ’n natuurlike woud langs die spruit vorm.

Omgewingskonsultante vir die beoogde ontwikkeling, Landscape Architects and Environmental Planners (Leap) het gesê dat die spruit nie afgesny sal word nie. ’n Omgewingsbestuursplan is glo in plek en stormwaterstelsels gaan gebruik word om oppervlakafloop te beheer. Hulle het gesê dat vleiland en vloedlyn-verslae opgestel gaan word en dat 30 meter buffers aan die vleilande in werking gestel sal word.


Dié bruggie op die Suikerbos-staproete is ongeveer 100 meter vanaf die palissade waar die
water die reservaat binnekom

Die reservaat is ook gedeeltelik afhanklik van ’n fontein by die Wingate-gholfbaan, wat water na die Rademeyerspruit voer. In die tyd toe aangekondig is dat daar langs Moreletakloof ontwikkel gaan word, was daar ook sprake dat Wingate-buiteklub en -gholfbaan gesloop gaan word om plek te maak vir ’n behuisingsprojek.

Advokaat Gerrie Nel, die klub se president, het in ’n brief aan lede gesê dat die stigterslede ’n aanbod van R400 miljoen vir die buiteklub aanvaar het. Die beheerliggaam wou egter nie die aanbod onderteken sonder die klublede se meerderheidsmandaat nie.

Vriende van Moreletakloof se Jeannie du Plessis het op 23 Junie aangekondig dat Wingate-buiteklub se lede by ’n spesiale algemene vergadering besluit het om nie die aanbod te onderteken nie. “Dit is goeie nuus vir Moreletakloof en vir elke mens wat in Moreletapark woon,” het sy gesê.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger