’n Skandvlek wat nie herhaal mag word nie Print E-mail
News - Kommentaar
Saturday, 23 July 2022 06:42
Untitled Document

Dit wat in Pienaarspoort gebeur het (lees berig op bl. 14) en toegelaat is om onverhinderd geleidelik maar doelgerig oor meer as ’n dekade heen te gebeur, sal vir altyd ’n afskuwelike skandvlek op ons gebied laat.

Plakkers is destyds uit ander dele van ons kontrei na Pienaarspoort toe verskuif. Die ‘informele nedersettings’ het gepaddastoel en geleidelik is die lewe van die wettige en wetsgehoorsame eienaars van hoewes in die gebied in onhoudbare en lewensgevaarlike nagmerries omskep.

Die Bronberger doen reeds sedert 2011 verslag oor hoe hoewebewoners bedreig, besteel, beroof en geteister is: Oor hoe gevestigde hoewe-eienaars se huise stuk-stuk letterlik afgebreek en weggedra is. Tot só ’n mate dat bykans al Pienaarspoort se hoewebewoners gedwing is om te vlug en hulle eiendomme in puin agter te laat: Nuttelose en waardelose grond waar eens gelukkige mense ’n landelike lewe gelei en drome gedroom het.

Dit alles het onverhinderd gebeur onder die neuse van die gemeenskap, die owerheid en wetstoepassers sonder dat ’n doeltreffende vinger verroer is om ’n einde daaraan te maak of om dit te keer. ’n Skande, ja. Een waaruit lesse geleer moet word en alles moontlik gedoen moet word om die verdere uitbreiding van dié anargie te verhoed en seker te maak dat dit nie elders in ons mooi gebied gebeur nie.

Reeds het die weghol-wetteloosheid daartoe gelei dat ’n herehuis van belangrike geskiedkundige waarde op die aangrensende Donkerhoek in die slag kan bly: Die familie wat dit reeds sedert 1920 bewoon, sê dit lyk of ook hulle gedwing gaan word om op te pak en te vlug.

’n Skrale troos ná jare vir grondeienaars wat slagoffers van dié barbaarse vergrype is, is die aankoop van die hoewegebied deur die provinsiale regering. Dit blyk eindelik of hulle ’n mate van vergoeding vir hulle eiendom gaan kry.

Daar is sprake dat die provinsiale regering wat die gronde gaan aankoop, dit nie in haalbare behuisingskemas gaan omskep, soos gehoop is, nie, maar dit bloot in erwe gaan opdeel en erwe uitdeel om nog ‘informele’ misdaadneste te skep. Iets wat enigeen wat ’n stukkie verstand, ’n stem en insig het ten alle koste moet help voorkom.  

Intussen kan die Bronnie se lesers iets (al is dit dan hoe min) doen om twee Pienaarspoortse slagoffers se lot te verlig: Lees asseblief die brief van Petro Lemmer in ons briewekolom vir meer inligting.

 

© 2024 Die/The Bronberger