So sommer soms Print E-mail
News - Briewe
Saturday, 23 July 2022 06:40
Untitled Document

Charles Thompson van Boekenhoutskloof:
Filosofies gesproke is die lewe ’n koppie koffie. Met ’n lepel onthou versigtig ingeroer . . . Maar daar moet ’n behoorlike balans wees.

Die koppie moet van ordentlike klei gemaak wees: Waarvan die hittegeleiding van so aard is dat jy nie jou lippe verbrand nie. (Die spul wat suinig en inhalig met polistireen- of papierkoppies is, is nou soos staatskapers.)

Die koppie se oor moet oor die regte volume van niks beslaan. Ons boere-vingers is korter en dikker as dié van ons Europese voorsate – ’n punt vir ’n ander dag. Daar moet genoeg vinger wees sonder ongemaklikheid en vir goeie balans. Nie te styf nie.

Die kleur moet jou gevoel teenoor die dag resoneer. Hoekom vra niemand ooit watter kleur koppie jy soek nie?

Oor die koffie sê ek minder, want dit is persoonlik. Maar die afronding daarvan is dalk dit wat die finale beslissing het vir die dag. Warm of koue melk. G’n melk of afgeroomde, of volroom of bietjie room, of vir dié wat die stryd verloor het – dieet-melk. Tog net nie organies nie, want die koei het straks die emmer raak gemis.

Ek is ’n room mens. Dik, volroom, dubbeldik as dit moontlik is. Bitter. Want soet is soos valsheid. Soos om te vry met valstande.

Tog, soos die lewe klik-klik op die spoor na niks, is dit wanneer ek hartseer raak. Want ek het te min koffie gedrink. Te min vertoef. Want vertoef is waar waarde aan jou siel vasgroei. En keer, keer op keer jou laat dink aan idiote wat jou ekwilibrium onherstelbaar aantas met ’n lepel wat sonder rede die koppie roer en roer en roer . . .

Skrywe verkort. – Red

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger