Jou stem kan Cullinan as ‘dorp van die jaar’ kroon Print E-mail
News - Artikels
Monday, 20 June 2022 08:25
Untitled Document

Cullinan is ’n finalis in Kwêla se kompetisie om as ‘Dorp van die Jaar’ aangewys te word. Jou stem kan dié geskiedkundige dorpie as die nasionale wenner laat seëvier.

KykNET se Kwêla-program bied jaarliks dié kompetisie aan. ’n Wenner uit elk van nege streke word gekies. Cullinan is op Sondag 29 Mei as die streekwenner vir Gauteng en Noordwes aangewys en ’n insetsel oor dié dorpie se uniekheid, sy karakters en omgewing is uitgesaai.


Die melkery se pragtige ou gebou
Foto’s: Verskaf

As die nege streekwenner-dorpe op Kwêla aangekondig is, sal mense van 6 nm op
17 Julie tot 22 Julie vir hulle gunsteling-dorp kan stem. Die wendorp word op 31 Julie op Kwêla aangekondig en wen onder meer R1 miljoen se bemarkingswaarde van kykNET.

Die vervaardigers van Kwêla, sal ’n advertensie oor die dorp maak, wat in kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word.

’n Groot dorp-van-die-jaar-makietie sal ook in die wendorp gehou word. Dit sal verfilm word en later uitgesaai word. Die ervaring van vorige wenners is dat dié prestasie geweldige waarde vir ondernemings en werkskepping op die bekroonde dorp en sy omgewing inhou.


Winkeltjies langs Oaklaan se wandelpaadjies

Diamant
Cullinan is wêreldwyd veral bekend oor die ontdekking van die Cullinan-diamant van 3 106 karaat 1905. Dié diamant is glo deur Fred Wells, die destydse oppervlak-bestuurder, met sy knipmes losgewikkel, ongeveer nege meter van die bogrond af.

Die ontdekking het opslae gemaak. Nege groot diamante en 96 kleiner stene is uit dié edelsteen gesny. Die twee grootstes kan in die kroon en septer van die koningin van Engeland gesien word.

Min het die Minnaars geweet dat hulle erfplaas, Elandsfontein 85, die wêreld se grootste diamant sou voortbring. Cornelis Jacobus Minnaar het sy plaas van ongeveer 3 000 morg op 7 November 1859 geregistreer.


Die Nedbank-gebou is een van die dorp se ou sandsteen-geboue

Cornelis se twee seuns, Roelof en Paul Minnaar, het die plaas geërf en verdeel. Paul het die deel gekry waarop die diamantmyn later ontwikkel is. Op 7 Desember 1896 het Paul ’n deel van sy plaas aan Willem ‘Wragtag’ Prinsloo vir £570 verkoop. Willem het dit vir sy suster Miertjie, oujongnooi Maria Elizabeth Prinsloo, gekoop as oorstaanplaas wanneer die beeste in die herfs van die hoëveld na die bosveld trek.

In dié gebied is reeds in die laat 1800’s spoeldiamante gevind. ’n Entrepreneur met die naam van Thomas Major Cullinan het by Olifantsfontein ’n fortuin gemaak as ’n bouer wat sy eie stene vervaardig het. Sy stokperdjie, om te prospekteer vir diamante, het hom na dié noordwestelike deel van Elandsfontein gelok.


Die geskiedkundige Sir Herbert Baker-kerkie

‘Wragtag’

Willem Wragtag het verseg om vir Thomas ’n opsie te gee om dié deel te koop of daarop te prospekteer. Hy het vroeër twee plase, een in Modderfontein, afgestaan nadat prospekteerders minerale daarop gekry het. Toe hy hom op Elandsfontein kom vestig, was hy goed keelvol vir trek en het hy verklaar: “As daar weer ’n prospekteerder naby my plaas kom, skiet ek vir hom “wragtag”. Vandaar sy bynaam.


Die Premier Hotel

Thomas was egter nie ’n man wat maklik bes gegee het nie. Hy maak toe ’n slenterplan en op ’n mooi dag vertel hy vir Willem dat een van sy trekosse op Willem se grond verdwaal het en dat die betrokke os die gevreesde en hoogs aansteeklike miltsiekte onder lede het.

’n Omgekrapte Willem vrees toe dat sy eie beeste sal aansteek en sê dat Thomas die dier daar en dan moet doodskiet en begrawe. Thomas se slinkse plan was in plek: Die ‘grafgat’ word groot genoeg vir ’n hele span osse, en so het Thomas toe onder die niksvermoedende neus van Willem Wragtag ‘geprospekteer’. Thomas het reeds vermoed dat daar op ’n koppie ’n ryk vulkaniese pyp kimberliet, die sogenaamde blou grond, vol diamante skuil.


Willie Strauss woon en werk in een van die oorspronklike sinkhuise op die dorp

Minnaars
Intussen het die Minnaars steeds ’n deel van die plaas besit. Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitbreek, het hulle gaan veg. Roelof is reeds voor die oorlog dood, maar van die familie is as krygsgevangenes na Bermuda gestuur en vrouens en jonger kinders is in die konsentrasiekamp in Irene aangehou. Na hulle tuiskoms in 1902, vind hulle dat die opstal afgebrand is en geld was skaars.

Roelof se weduwee is met Salmon Stephanus Maritz getroud en in 1903 het hy die suidelike gedeelte van Elandsfontein uit Roelof se boedel gekoop. Dit is Salmon wat dié deel van die plaas vir £20 000 aan die Premier (Transvaal) Diamantmynmaatskappy verkoop het.


Thomas Cullinan, links, kry die reuse diamant van mynbestuurder, William McHardy, middel. Regs is Frederick Wells, destydse oppervlak-bestuurder
Foto: Order of Splendor

In die na-oorlogse tyd slaag Thomas Cullinan daarin om ook tant Miertjie Prinsloo se deel van Elandsfontein aan te koop. Willem Wragtag, wat Thomas se aanbod teëgestaan het, is in 1898, net voor die oorlog, oorlede en ná die oorlog het Thomas met tant Miertjie se twee broers onderhandel om dié gedeelte teen £52 000 aan te koop.

Met Thomas se bewyse dat die vulkaniese pyp bestaan, is die myn op 6 November 1902 as die Premier Sindikaat geregistreer en op 1 Desember herregistreer as die Premier (Transvaal) Diamantmynmaatskappy.


Thomas Cullinan, sy vrou Annie, en hulle kinders
Foto: Cullinan-mynargiewe

Museums
Willem Wragtag se werf, bekend as die Willem Prinsloo Landboumuseum op die Ou Bronkhorstspruitpad, is oop vir die publiek en hou juis op 2 Julie die jaarlikse Mampoerfees, waar die ou plaaswerf en opstalle besoek kan word.

Die eerste huis wat op Cullinan gebou is, staan vandag nog in sy oorspronklike baadjie in Oaklaan en is bekend as die McHardy Huismuseum. Die huis is in 1903 vir die myn se eerste algemene bestuurder, William McHardy, sy vrou en sewe kinders gebou.


William en Evalina McHardy en hulle sewe kinders
Foto: Cullinan-mynargiewe

William is in 1913 oorlede en die myn het aangebied dat sy vrou en kinders lewenslank in die huis kon aanbly. Twee dogters, Evalina en May, het tot hulle dood, ’n paar dae ná mekaar, in 1984, daar gewoon. So het die McHardy’s die huis 81 jaar lank bewoon en die museum spog met hulle oorspronklike meubels, ornamente, kombuisware en foto’s.

Besoekers aan die Cullinan Vintage en Wynmark, wat elke derde naweek van die maand langs die museum gehou word, se toegangskaartjies sluit ’n toer deur dié museum in. Verder af in Oaklaan is die geskiedkundige sandsteen behuisingskwartiere, wat vandag die tuiste is van Cullinan se bekende eet- en kuierplekke en winkels wat oudhede, aardighede en versamelaarsitems aanhou.


Evalina McHardy voor die McHardy Huis
Foto: McHardy Family

Stasie
Die oorspronklike stasiegebou is ook steeds vandag te siene, in die vorm van ’n restaurant.

Op vroeëre beplannings van die myndorp word reeds verwys na die gedeelte wat gereserveer was vir die stasie en treinspoor. Die myn se passasierstrein was vanaf 1906 aktief. Die Cullinan-stasie se bouwerk het in 1906 begin en is in 1907 voltooi.

Die stasie-store is vandag omskep in ’n reeks winkeltjies en staan bekend as Cullinan Junction. Suid van die kaartjieskantoor staan drie oorspronklike huise wat in dieselfde tydperk as die historiese hotel, rondom 1905, gebou is. Die eerste huisie was deur die spoorwegbouer bewoon, die volgende een was enkelkwartiere, en die laaste een die stasiemeester se huis.


Die eerste foto van Cullinan se gholfbaan in 1908
Foto: Cullinan-mynargiewe

Oorkant die pad is die oorspronklike hotel van die dorp. Die eerste hotelbestuurder was Dick Goldberg en die datum van die Premier Hotel se stigting is nie bekend nie, alhoewel ou geskrifte wys dat die Cullinan-diamant by die hotel se kroeg aan mense gewys is.

Toe die Departement van Verdediging Cullinan in die Tweede Wêreldoorlog oorgeneem het, het slegs offisiere aanvanklik toegang tot die hotel gehad. Die weermag het ook die anneks oorkant die hotel, wat vandag ’n vier-ster lodge is, gebou.

Cullinan spog met vele kerke, maar die bekendste is sekerlik die geskiedkundige Sir Herbert Baker-kerkie, St George’s Anglikaanse kerk, wat in 1908 gebou is. Dié kerkie is vandag saam met ’n nuut geboude sandsteen-gebou ’n funksieplek en restaurant.


Cullinan-stasie in 1908

Die dorp se eerste gholfklub is in 1905 gestig en kan vandag nog besoek word om lafenis te vind by die klubhuis se restaurant. Mynbestuurder, William McHardy, was die eerste president van die klub. Die myn se eerste ingenieur, AE Pack, was in 1907 die kaptein en gholf-kampioen.

Die omgewing vlak by die dorp is grootliks ‘n bewaringsgebied wat die Dinokeng-wildtuin en veskeie private reservate  insluit waar die ‘groot vyf’ en avontuur-ervarings gesien en beleef kan word.

 

© 2024 Die/The Bronberger