Hoekom vir óns dorp stem? Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 20 June 2022 08:05
Untitled Document

Cullinan is in die wedloop om as kykNET se Kwêla-dorp-van die-jaar aangewys te word. Vir die dorp en die groter omgewing sal dit ’n blye dag wees as ons gebied se naellopertjie eerste die wenstreep kan oorsteek.

Dit kan ’n aansienlike onmiddellike finansiële voordeel vir ondernemers inhou en ’n hupstoot veral vir die toerismebedryf in die gebied meebring.

Hopelik kan die fokus wat op die dorp en gebied gerig word, ’n verdere voordelige uitwerking oor die langer termyn tot gevolg hê.

Almal wat die dorp en ander landelike gebiede ken waaroor Tshwane se metroraad die septer swaai, weet dat powere bestuur in die afgelope jare baie ongewenste gevolge vir inwoners veroorsaak.

Ja, alles is baie ver van maneskyn en rose af – ook vir ons kandidaat vir die land se dorp van die jaar. Die wye blootstelling wat dié kompetisie bied, saam met volgehoue druk en meelewing van die gebied se inwoners, kan bes moontlik positiewe reaksie by die owerheid ontsluit om alledaagse probleemgebiede met meer geesdrif en erns aan te spreek.

Cullinan is nie in die wedloop oor dié probleme nie, maar ten spyte daarvan. Daarom noop ons die Bronnie se lesers van oral oor om, as stemtyd aanbreek, met oorgawe vir óns dorpie te stem. Dit kan net die gewenste, positiewe uitwerking hê wat bitter nodig in die gebied is.       

Staatmakers
Dit is nooit lekker om afskeid van ou staatmakers en vriende in die Bronberg-gebied (om welke rede ook al) te moet neem nie. Só moes onlangs vaarwel gesê word aan Ernst, Ella en Joritha Lösch wat ná 43 jaar hulle mooi hoewe op Bashewa verlaat het om hulle op Mosselbaai te gaan vestig.

Ella en Joritha is susters wat met twee broers, Ernst en Hein, getrou het en hulle op Bashewa gevestig het. Hein is intussen oorlede.

Die Lösch-egpare het oor die jare bekend geraak as staatmakers in die gebied wat altyd bereid was om hulp en bystand te verleen waar dit nodig sou wees. Die susters het vir jare ’n kuierplek, Formosa, op die hoewe bedryf waar die gebied se mense soos naby familie gekuier het.

Merkwaardig is ook Ernst, ’n eiendomsagent, se verbintenis met die Bronnie. Toe die heel eerste uitgawe bykans 20 jaar gelede die lig gesien het, was daar net ses ondernemings wat ’n advertensie in dié nuwe publikasie ‘gewaag’ het. Ernst was een van hulle. En sedert daardie eerste uitgawe het Ernst Lösch sonder uitsondering in elke liewe uitgawe van die Bronnie sy advertensie geplaas. Dit werk vir hom, het hy op ’n dag gesê.

Dankie Ernst, Ella en Joritha. Julle sal deur ons kontrei se mense en in ons harte gemis word. Mooi loop daar by julle nuwe tuiste by die see.

 

© 2024 Die/The Bronberger