Jolene (Louw) Kelly van Pretoria:
Baie dankie vir al julle harde werk aan Die Bronberger se uitgawes. Ons is nou so dankbaar dat dit aanlyn beskikbaar is.
‘Vlieënde piering-padkafee se vreemdheid só verewig’ van Februarie 2019 oor die Vlieënde Piering-padkafee verwys: Friedel Hansen, die afgetrede radio-persoonlikheid, het ’n ou foto op sy Facebook-blad gesit oor die einste padkafee. In die kommentaar het mense melding gemaak dat die ou vlieënde piering struktuur nou glo blykbaar by Laerskool Wespark in die weste van Pretoria opgerig is.
Daar is ook verskeie ou foto’s van Pretoria op sy Facebook-blad. Hy het ook twee fotoboeke uitgegee – een oor Pretoria en een oor die Anglo-Boereoorlog.
Die ou foto van die Vlieënde Piering op Friedel Hansen se Facebook-blad
My grootste droom is om eendag die waarheid te kan uitvind oor die 1965 koperkleurige VVV-landing op die Ou Bronkhorstspruitpad. My pa was toe al werksaam by die WNNR in dr EG Halliday se afdeling. Dr Halliday is volgens ’n artikel na die toneel uitgestuur om monsters te versamel.
My pa was ’n stoere wetenskaplike, maar het eendag opgemerk dat hy glo daar is lewe op ander planete. Hy het egter nooit iets oor die 1965 landing gesê nie. Ek het eers nadat hy oorlede is, van die 1965 voorval gelees. Ek sou hom baie graag wou vra wat hy daarvan geweet het.
Ons het ’n bietjie in argiewe gaan rondkrap en doen ’n berig oor die 1965 voorval op die Ou Bronkhorstspruitpad op bl 28. – Red |