Angie Kleijn
Paulo Ricci is die oudste oorlewende Italiaanse krygsgevangene wat die Tweede Wêreldoorlog in Zonderwater-interneringskamp deurgebring het. Toe die kamp in 1947 gesluit het, het Paulo besluit om nie terug te gaan na Italië nie, maar om in Pretoria te bly. Hy het op 29 Maart 102 jaar oud geword.
Paulo is in 1920 in Italië gebore. In 1941, toe hy 21 jaar oud was, is Paulo vir militêre diensplig opgeroep en gestuur om in Noord-Afrika te gaan veg. Hy is aanvanklik na die front in Tobruk gestuur en is later deur Australiese magte in Tunisië gevang en het ’n krygsgevangene geword.
Paulo Ricci
Foto: Verskaf
’n Jaar later is Paulo in die Suez-kanaal op ’n skip na Durban gesit. Van Durban af is Paulo na Zonderwater buite Cullinan gestuur. Die eerste 10 000 krygsgevangenes het in die lente van 1941 vanaf die fronte in Ethiopië (toe nog Abessinië genoem) en Eritrea daar aangekom.
Hulle is in tente, wat oorspronklik deur die Unie-troepe gebruik is, gehuisves. Later is die tente deur barakke, wat die Italianers self opgerig het, vervang. Zonderwater-krygsgevangenekamp was die grootste van die 18 Tweede Wêreldoorlogse Italiaanse Krygsgevangenekampe.
Kolonel Hendrik Frederik Prinsloo
Foto: SA Military History
Spookdorp
Dié kamp is reg langs Cullinan, wat toe ’n spookdorp was, opgerig. Die myn het in 1932 gesluit weens ’n daling in diamanthandel en die inwonertal het geweldig afgeneem. Daardie dae het alles op die dorp aan die myn behoort: die huise, winkels, hospitaal, ontspanningsaal, stasie en treinspoor.
Ontspanning buite die barakke
Foto’s: Emilio Coccia, president: Zonderwater Blok eks Krygsgevangene Vereniging van Pretoria
In 1939 het dit geblyk dat Suid-Afrika aan die Tweede Wêreldoorlog gaan deelneem en die weermag het sy oë op die dorpie Cullinan, wat so te sê verlate gestaan het, gerig. ’n Ooreenkoms is met Sir Harry Oppenheimer, voorsitter van die Premier Diamond Mining Company, aangegaan dat die geriewe by die Premiermyn vir die Departement van Verdediging beskikbaar gestel sou word.
’n Menasie
Die mynmaatskappy se eiendom, wat die plase Elandsfontein, Louwsbaken en ’n gedeelte van Byenespoort ingesluit het, is aan die regering verhuur. Teen die einde van 1939 het die regering die plaas Zonderwater van die African and European Investment Corporation gekoop om as opleidingsgebied te dien. Mettertyd is dele van die plase Brandbach, Kafferskraal en Tweefontein gehuur. Uiteindelik was omtrent 6 800 morg grond in die Cullinan-gebied in militêre gebruik.
Pos van die huis af
Hendrik
Die Bevelvoerder Troepe, Premiermyn was aanvanklik in beheer van die Zonderwater krygsgevangenekamp, maar in 1942 is kolonel Hendrik Frederik Prinsloo as kampkommandant aangestel.
Toe Hendrik ’n kind was, is hy in ’n Britse konsentrasiekamp in die Anglo-Boere-oorlog aangehou en juis oor die toestande in dié kampe, was hy ekstra bedag op die krygsgevangenes se lewenstoestande.
Hy is as 12-jarige seun gevange geneem toe hy lid was van sy pa se kommando, ‘Die Carolinaers’, en is saam met sy ma na die Barberton-konsentrasiekamp gestuur.
Houtwerk word aangeleer
Onder Hendrik se leiding is iets wat as ’n ‘klein dorpie’ beskryf kan word, gebou. Daar was 14 blokke, elk met vier kampe van 2 000 mans. Elke kamp het 24 barakke met sinkdakke gehad. Dit was ’n ‘dorp’ wat beplan is om 100 000 soldate te huisves en daar was 30 km paaie, menasie-sale, opleidingsentrums, skole, gimnasiums en sportvelde waar groot byeenkomste gehou is.
Hendrik het seker gemaak dat daar ’n verbetering in lewensomstandighede is: Ongeletterdheid het gedaal van 30% na 2% en 200 krygsgevangenes is as onderwysers en opleiers in meganika en houtwerk in diens geneem.
’n Toneel uit ‘Il Cardinale’, opgevoer deur krygsgevangenes
Kultuur
’n Orkes is in die lewe geroep; daar was kuns- en handwerkuitstallings, kunsklasse en ’n biblioteek met 10 000 boeke. Daar was selfs ’n groot uitstallingsaal waar uitstallings van kunswerke jaarliks gehou is. Dié saal is deur die krygsgevangenes ontwerp en gebou. Alle onderhoudswerk by die kamp is deur die krygsgevangenes self gedoen.
Buitelug eredienste is gehou
Daar was mobiele filmteaters en 17 teaters in die kamp met akteurs en regisseurs. Selfs die kostuums vir die verhoogproduksies is in die kamp gemaak. Muurskilderye wat deur dié Italianers geverf is, pryk nog teen dit wat destyds die Cullinan ‘Rec’-klub genoem is, se mure.
Eduardo Villa, ’n Italiaanse krygsgevangene wat jare in Zonderwater was, het later een van ons land se bekendste kunstenaars geword. Hy is in 1949 uit die kamp ontslaan en, in plaas daarvan om terug te keer na Italië, het hy gekies om in Johannesburg aan te bly.
Zonderwater-hospitaal het 3 000 beddens gehad
Die geestelike behoeftes van krygsgevangenes is aangespreek deur 20 Italiaanse kapelane. Elke blok het sy eie buitelug altaar en kapel gehad. Op Sondae en heilige dae is mis by die buitelug altare gehou, sodat alle gevangenes dit kon bywoon.
Krygsgevangenes kom by Zonderwater aan
Hospitale
Binne elke blok was daar ’n mediese offisier en ernstiger siektes is na die hospitale verwys. Zonderwater het die grootse militêre hospitaal in Suid-Afrika gehad (met 3 000 beddens) en het bestaan uit 150 geboue, elk met 20 beddens.
Binne elke blok kon die krygsgevangenes vrylik rondbeweeg, alhoewel hulle steeds in ’n ‘tronk’ was waar die 14 blokke met doringdraad afgekamp is en gewapende wagte wagtorings beman het.
Die uitstallingsaal
Sommige van die krygsgevangenes kon die ingehoktheid glad nie hanteer nie en van hulle het letterlik van hulle koppe afgegaan en is in ’n spesiale eenheid van die hospitale opgeneem. Sommiges het probeer ontsnap na Mosambiek, waar daar ’n Italiaanse konsulaat was, maar as hulle gevang word, is hulle vir 28 dae in die ‘rooi huis’ aangehou waar streng straf opgelê is.
Alle gevangenes is gereeld getel en ’n kliniese rekord is van elkeen opgestel. Kopieë van dié rekord-kaarte word steeds bewaar by die ‘Associazione Zonderwater-blok’. Die oorspronklike kaarte het verlore geraak toe die skip waarmee hulle na Italië gestuur is, gesink het.
Krygsgevangenes word getel
Krygsgevangenes is gereeld van die een blok na die ander oorgeplaas volgens ideologiese kriteria en politieke oriëntasie. Sommiges het gekies om hulle samewerking te gee en hulle is gestuur om buite die kamp te werk. Ander het gekies om aan te hou probeer ontsnap of om in die blokke te sit en wag vir repatriasie.
’n Voorstelling van die aanvanklike tentekamp
Sluit
Zonderwater het op 1 Januarie 1947 gesluit en die woord oor kampkommandant, kolonel Hendrik Frederik Prinsloo, se humanitêre bestuur van dié kamp het wyd versprei. In 1947 het hy Suid-Afrika verteenwoordig by die diplomatieke konferensie in Genève om die internasionale konvensie oor die behandeling van krygsgevangenes te hersien.
Atletiekbyeenskomste is gereeld gehou
Hendrik se humanitêre werk is op 25 November 1949 deur die ná-oorlogse Italiaanse regering erken toe hy en drie van sy kamp-offisiere die Orde van die Ster van Italië ontvang het. Dié toekenning is gemaak aan diegene wat spesiaal bygedra het tot die heropbou van ná-oorlogse Italië. Hendrik het ook die “Ordine di Bene Merente” (die Orde van Goeie Meriete) by die pous ontvang.
Nie alle krygsgevangenes is met Zonderwater se sluiting in 1947 dadelik gerepatrieer nie. Baie van hulle is aanvanklik as werkers op plase in die omgewing uitgeplaas en die laaste krygsgevangenes is eers in 1955 gedemobiliseer.
Die barakke
Paulo
Paulo Ricci was een van die gevangenes wat besluit het om in die land agter te bly. Hy was ’n kleremaker van beroep en het ’n winkel in Pretoria se middestad oopgemaak. ’n Plaaslike loodgieter het Paulo gehelp en het vir hom ’n perseel gegee waar hy sy werk kon doen. Paulo het sy vrou, Fosca, ’n Pretoriase meisie van Italiaanse afkoms, in dié tyd ontmoet. Haar ouers het in die laat 1890’s van Toskane in Italië na Suid-Afrika geïmmigreer.
Kuns- en handwerk-tentoonstelling
Paulo se onderneming is later oorgedra aan sy broer, Alberto, wat dié snyerswinkel vir langer as 55 jaar bedryf het. Paulo het saam met sy skoonpa op ’n stukkie grond in Solomonstraat, Gezina gaan boer en hy en Fosca het twee kinders, Loretta en Aldo, gehad.
In 1975 het hy Samca Teëls in Babelegi, Hammanskraal begin en bestuur. Hy het dié onderneming vir vyf jaar bedryf voor hy dit verkoop het en afgetree het. Dit is nou al 42 jaar gelede wat Paulo afgetree het en hy maak sedertdien sy eie wyn. Hy het ses kleinkinders en sewe agterkleinkinders en het hom in die Moot gevestig.
’n Groot Trek-toneel as muurpaneel by die ou ‘Rec-klub’
Paulo het deurgaans op die eerste Sondag in November ’n herinneringsdag aan Zonderwater se bykans 109 000 Italiaanse krygsgevangenes bygewoon om kranse te lê by die begraafplaas met sy 252 grafte. Benewens die begraafplaas is daar ook ’n museum, kapel en ’n monument genaamd Die Drie Boë (’n simbool van die kamp). |