Gestroopte ietermagog by winkelsentrum gered Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 24 May 2022 09:27
Untitled Document

Vier mense is in hegtenis geneem ná hulle probeer het om ’n ietermagog in die parkeerplek van Makro Silver Lakes te verkoop.

Boschkop-polisiestasie se woordvoerder, sersant Yeroboam Mbatsane, sê dat ’n lid van die publiek die polisie laat weet het verdagtes bied ’n ietermagog te koop aan. Die polisie het saam met die informant ’n lokval opgestel waar ’n agent (’n lid van die publiek) gemaak het of hy ’n potensiële koper is. Dit is gereël om mekaar op 8 April by Makro Silver Lakes te ontmoet.

Die agent het ’n 34-jarige man van Limpopo, John Ndou, daar aangetref en ’n 46-jarige vrou, Hlamalani Masekela, het opgedaag met ’n sak waarin ’n ietermagog-wyfie van 3,84 kg gedra is. Hulle is in hegtenis geneem en aangekla van die besit van ’n bedreigde en beskermde spesie sonder ’n permit.


Die ietermagog-wyfie van 3,84 kg
Foto’s: Verskaf

Twee ander verdagtes van Tembisa is ook die volgende dag in die Silver Lakes-omgewing in hegtenis geneem.

Hulle het op 11 April in die Pretoriase Landdroshof verskyn en borgtog is geweier. Die saak het weer op 22 April in die hof voorgekom.

Die Bronberger het in Augustus 2020 en in Junie 2021 berig hoe ietermagog-stropers in lokvalle gelei is deur prof Ray Jansen, grondeienaar van Kaalfontein, naby Du Plooy Melkery. Ray, ’n professor aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, is die voorsitter van die nie-winsgewende organisasie, Afrika Ietermagog Werkgroep.

Hy het verduidelik dat daar ’n oorweldigende groot mark vir ietermagog-skubbe in Asië is, veral in Sjina, omdat hulle glo dat dit medisinale waarde het. Ietermagog-skubbe word tot ’n poeier fyngemaal en Ray het reeds meer as 60 verskillende kommersiële produkte, wat dié poeier bevat, in Sjina geïdentifiseer. Die produkte word op industriële vlak in reuse hoeveelhede vervaardig en verkoop.


Die ietermagog-wyfie is in dié sak gedra

’n Ietermagog sal nie langer as twee weke ná hy gevang is, lewe nie omdat hy slegs lewendige miere vreet en nie dooie miere of kos wat hy nie self gevind het nie. ’n Ietermagog wat gered word, gaan na die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild waar hy in die waakeenheid opgeneem word. Sy verblyf in die hospitaal kan van ’n week tot ’n paar maande wees.

’n ‘Sagte ontslagproses’ word daarná gevolg. Die eerste paar dae word die ietermagog na prooi toe geneem, soos in die hospitaal. Daarna bly hy buite, maar word daagliks dopgehou. Hy word vir drie weke elke dag geweeg; dan twee keer ’n week vir drie maande lank en dan een keer ’n week vir tot ’n jaar lank.

Untitled Document
 

© 2024 Die/The Bronberger