Die bokmakierie is ’n skaam boslaksman wat in digte blare wegkruip en meer gereeld gehoor as gesien word. Geen wonder dat hy na sy mees algemene roep, ‘bok-bok-mak-kiek’, vernoem is nie. Hy het egter ’n reeks roepe en sal gereeld in duet sing.
Dié voëltjies is nie baie sosiaal nie. Hulle het maar min met ander boslaksmanne te doen en kom meestal alleen of in paartjies voor.
Die bokmakierie
Foto: Wikipedia
Bokmakieries is opportunistiese voerders. Hulle vreet grootliks insekte, maar sal ook slakke, akkedisse, klein slange, voëltjies en vrugte vreet. Hulle vang die meeste van hulle prooi op die grond, maar sal ook insekte van blare en boomstamme af vreet en sal elke nou en dan ’n insek in vlug vang.
Die bokmakierie, Telophorus zeylonus, is 23 cm lank en weeg 60 tot 66 gram. Sy lyf is olyfgroen met helder suurlemoengeel onderste dele en ’n breë swart borsband. Sy kop is grys met ’n geel wenkbrou en hy het ’n swart snawel. Die heldergeel punt van die donker stert is opvallend in vlug. Die geslagte lyk eners en onvolwassenes is sonder die borsband en is grysgroen onder.
Naomi Van Dyk Corinaldi het gesien hoe dié bokmakierie ’n molslang takel en uiteindelik “na ’n verwoede geveg” opvreet
Hulle broeiseisoen piek in Augustus en die mannetjie en wyfie bou saam aan die koppievormige nessie. Dié nessie word uit klein takkies, blare, boomwortels, rankies, gras, bas en soms mensgemaakte materiaal soos tou, papier en karton gebou. Dit word goed weggesteek in die vurk van ’n boom met digte blare of in ’n digte heining of bos.
Die wyfie lê twee tot vyf eiers, wat deur albei ouers uitgebroei word. Die mannetjie sit in die dag op die nessie en die wyfie snags vir ’n tydperk van 14 tot 19 dae. Albei ouers voer ook die kuikens tot hulle die nes na 15 tot 21 dae verlaat. Hulle bly naby aan hulle ouers tot die volgende broeiseisoen, wanneer hulle weggejaag word. |