Die rose en die ‘pyndorings’ Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 24 May 2022 08:38
Untitled Document

Dié uitgawe van die Bronnie is weer deurspek met stories uit ons gebied wat hoop bring. Stories wat bewondering en dankbaarheid afdwing, maar ook wat uitdagings voor die deur van ons mense bring. Stories oor mense wat rose-ruikers verdien, maar ongelukkig ook gevalle waar dorings uitgedeel moet word. Net enkele voorbeelde:

Op bladsy ses lees ons dat ’n ietermagog-wyfie in die stad uit stropers-kloue gered is. Aan die Boschkopse polisie, hulle informant en ‘agent’ reuse ruikers rose. Aan die vier stropers sakke vol dorings en aan die kopers en volksvreemdes wat glo dié onskuldige, bedreigde diertjies se skubbe het genesingskrag – skopgrawe vol dorings diep in donker plekke opgedruk en goed vasgestamp.

Toe ’n aansoek in 2020 gebring is om ’n oopgroefmyn op Kaalfontein te vestig het besorgde inwoners en omgewingsbewustes hulle besware geopper. Rose vir hulle wat omgee vir ons omgewing. Die myn het die groen lig gekry, berig ons op bladsy 12, maar geen dinamiet sal gebruik word nie en beweging sal (glo) beperk word. ’n Doring of drie aan die besluit om die toegangspaaie na die myn op die berugte ‘draai van die dood’ uit die R515 te maak.

Uiteindelik lyk dit (bladsy 13) of iets aan die uiters gevaarlike aansluiting van die Boschkop-pad met Grahamweg gedoen gaan word. Rose vir diegene wat dit bewerkstellig het – maar eers as dit gebeur, want derduisende dorings is oor baie jare heen reeds weens hol beloftes vir dié probleem verdien.

’n Groot ruiker aan die Wet Nose Diere-skuiling wat Daisy en haar brak-boetie gered en versorg het en vir hulle deernis-vir-diere in die algemeen. Op bladsy17 kan jy lees hoe Daisy se been afgesit moes word, maar dat sy nou vol lewenslus gereed is om iemand se hondjie-vriend te word. Genoeg dorings het die heelal nie om die ‘mense’ wat getrek het en die beseerde baba-hondjies op Mooiplaats gelos het, onder skerp afkeur te begrawe nie.

Deurlopend (net terloops) verdien die mense van Kungwini Welsyn Organisasie en die mooi siele by die Paul Jungnickelhuis rose, erkenning en ondersteuning.

Sou daar ’n toekenning (Die Pyndoring?) wees vir die mees komiese en onwaarskynlike berig in dié uitgawe, sou dit die een op bladsy 14 wees. Eskom en die metroraad van Tshwane baklei oor die ‘reg’ om die nuwe ‘megastad’ van Mooikloof van krag te voorsien. Werklik? Die enigste storie wat moontlik sou kon meeding om die ‘Pyndoring-beker’ is die poskantoor se aankondiging dat hulle posaflewering aan Rusland en die Oekraïne gaan opskort.   

Untitled Document
 

© 2024 Die/The Bronberger