Charles Thompson van Boekenhoutskloof:
Dit is so twee, dalk drie millimeter na vier as ek die venster oopmaak en my koffie op die vensterbank sit.
’n Sagte, geurvolle bries tel die stomende aroma op, meng dit met vars buitelug en draai dit terug na my. Maar, die geur is anders. Blouer as net koffie. Iets soetklam, amper soos ’n gekneusde roosknop.
Kan dit wees? Tog, paar keer in die laaste twee dae het die natuur gefluister: Twee slange in die huis.
Die paddas is stil. Voor die venster, halfpad op dak toe, ’n reuse slak. Iewers netnou die kraak van ’n duisendpoot wat ek nie gesien het nie. Mierkastele in die oprit gister. Miere met eiers wat hulle rond dra. Die rooi sonsondergange.
En die lys gaan aan . . . Straks net bygelowe. Dalk nie. Want oupa het op Elders geboer, daar het dit baie gereën, en die goggas was baie om die kerse, so dag of twee vooraf.
Ek loer op die sekuriteitsgroep. Waarskuwing: Storms en moontlike oorstromings vir die naweek voorspel. En ek weet weer: Eintlik is die natuur net ’n oop boek, as jy hou van lees.
Mag jou son skyn, en die reën val waar dit moet. |