Fortuin nodig vir Boschkoppad se kopseer Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 14 April 2022 09:58
Untitled Document

Swaar reënbuie in Maart het die ingang na die Zwavelpoortse koopsentrum by die T-aansluiting van die Boschkoppad en Grahamweg (Lynnwoodweg-verlenging) in ’n rivier omskep en verkeersknope veroorsaak.

Motoriste kla al dekades lank oor die erge opdamming van water by die toegangspad, genaamd Rooireierweg, na dié sentrum. Mense bespiegel dat die probleem by die stormwaterpype lê, maar Trix van den Berg van die Mooiplaats, Zwavelpoort, Tierpoort-gemeenskapsgroep (MZT) verduidelik dat die pad skeef is en dat die opdamming slegs gebeur as dit vinnig baie hard reën. Die water sak gewoonlik binne ’n uur weg.

Die grootste klagte oor dié T-aansluiting is egter die gebrek aan ’n broodnodige verkeerslig. Motoriste wat daagliks hier in verkeersknope sit kan nie verstaan hoekom daar nie ’n verkeerslig is nie, siende dat ’n skynbaar onnodige verkeerslig ’n paar honderd meter verder in Grahamweg opgerig is.


Die motor verdwyn bykans in die diep stroom by die ingang na die Zwavelpoortse koopsentrum
Foto: George Rootman van BMT Groep

In Maart verlede jaar het ons berig dat Mike Strange, wat toe raadslid vir wyk 101 was, gesê het dat die verkeersligte voor Kungwini Welsynsorganisasie en die opgradering van die Sabi Starweg-Grahamweg kruising, net ’n entjie wes van die Boschkoppad se aansluiting, deur ’n ontwikkelaar aan die noordelike kant van die kruising gedoen is.

Mike het gesê dat Grahamweg (die M6) en die Boschkoppad (die D631) albei Gautengse provinsiale paaie is en nie munisipale paaie nie. Dié T-aansluiting het toe nog in wyk 91 geval. Sedert 1 November 2021, ná wyk 101 se grense deur die munisipale afbakeningsraad verander is, val Zwavelpoort en dié berugte T-aansluiting nou in wyk 101.

Mike het gesê dat verkeersligte by dié T-aansluiting beplan word en moes na sy mening lankal opgerig gewees het. Die grootmaat bydraes vir infrastruktuur van ’n plaaslike ontwikkeling is vir die opgradering van dié T-aansluiting opsy gesit. Tog, het Mike toe gesê, was geen tydskaal beskikbaar vir die oprigting daarvan nie.

Mike, wat homself nie beskikbaar gestel het vir herverkiesing nie en nou meer betrokke raak by die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging, het in Maart vanjaar verduidelik dat Solidariteit ’n ‘plek van hoër onderwys’ langs die Boschkoppad, net verby die Boschkop-polisiestasie, sou oprig maar ongelukkig hulle aansoek teruggetrek het. In hulle aansoek het hulle aangebied om die T-aansluiting van die Boschkoppad en Grahamweg op te gradeer as deel van hulle  infrastruktuur-bydrae.


Só dam die verkeer op met ’n reënbui by die T-aansluiting van die Boschkoppad en
Grahamweg (Lynnwoodweg-verlenging)
Foto: Thelani Scholtz van MZT Groep

Mike sê dat die opgradering van dié T-aansluiting na raming ongeveer ’n miljoen rand sal kos omdat die pad herontwerp moet word. Die aansluiting is glo op die verkeerde plek en moet eintlik ’n entjie wes in Grahamweg wees om deel van die K54-roete te vorm.

Die beoogde K54-roete is dekades gelede reeds beplan. Dié 80 km lange roete is deel van die groter Gauteng-padnetwerk en strek van Pad 25 noord van Cullinan. Dit loop suid tot by Mamelodi, en vandaar in ’n suid-westelike rigting vanaf Donkerhoek deur Mooiplaats, Zwavelpoort en dan tussen Mooikloof en The Wilds in Rietvleidam se rigting, parallel met die R28, tot by pad P79-1 naby Krugersdorp.

In Oktober 2003 reeds het Die Bronberger berig dat die K54-roete nie in Gautrans se vyf-jaar beplanningsraamwerk geval het nie. Intussen is die deel van die K54 wat deur Mamelodi loop, voltooi, maar dit blyk of die bou van die res van die pad deur die Bronberg-gebied telkens steeds nie in Gautrans se vyfjaarplan val nie.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger