Handige waterdier was sy gesig en droog homself af Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 14 April 2022 09:57
Untitled Document

Daar is ’n waterdier in ons kontrei wat ‘hande’ het om sy prooi maklik mee vas te vang. Hy gebruik dié hande ook om klippe mee om te rol en om sy gesig te was. Hy is ’n outjie wat homself afdroog as hy uit die water kom en sy kleintjies is van dié wat die meeste speel – hulle gly teen rotse af, speel met hulle kos en selfs met spoelklippe.

Die groototter, Aonyx capensis, se hand-agtige voorpote is sy mees uitsonderlike eienskap. Dié ‘hande’ het lang vingers, geronde vingerpunte, geen kloue nie en is nie geweb nie. Die agterpote is ook sonder kloue, maar is gedeeltelik geweb tussen die ‘tone’.


Die groototter
Foto: Wikimedia

Alhoewel hy geen kloue het nie, kan dié otter ’n skuiling van tot drie meter diep in los sand of modder grou. ’n Nes van gras of plantmateriaal word in die skuiling gebou. Dié skuiling het ingange bo en onder die wateroppervlakte en is gewoonlik nooit meer as 15 meter vanaf varswater nie.

Wanneer die groototter sy prooi gevang het, sal hy terug swem oewer toe om dit daar te verorber – hy vreet krappe deur heel komies op sy rug te lê – en was sy gesig na elke ete. Hy droog homself af deur te rol of sy lyf teen gras, rotse of sandbanke te skuur en dan in die son te lê.


Twee groototters se neuse steek bo die water uit by Rietvlei Natuurreservaat
Bron: Skermgreep van video

Dié otters jag grootliks teen sonsopkoms en sonsondergang en spandeer die res van die dag in ondergrondse skuilings, onder rotse of in digte plantegroei. Hulle is suksesvolle roofdiere danksy ’n relatief groot skedel met kragtige kake en groot maaltande waarmee prooi vergruis word. Vreemd genoeg het hulle geen snytande nie. Hulle het ook geweldig sensitiewe snorbaarde, wat help om die bewegings van potensiële prooi in die water te bespeur.

Die groototter is die tweede grootste varswater otterspesie, alhoewel hy ook in marine-habitatte voorkom as daar varswater naby is, en word naby permanente strome, kuile en ander waterliggame gevind. Hy duik gewoonlik nie dieper as 1,5 meter onder die wateroppervlakte nie en vreet grootliks vis, krappe, paddas, voëls en voëleiers.


’n Spelerige jong groototter
Foto: friendsofcapewildlife.org

Groototters kan gemaklik draf en stap soms meer as 7 km tussen verskillende waterbronne. So ’n otter se gebied strek van 4.9 tot 1 062.5 hektaar, maar die meeste tyd word spandeer in ’n kleiner kerngebied tussen 1.1 en 138.9 hektaar.

Hulle is meestal enkellopend, maar groepe wat bestaan uit vier tot ses individue, met twee tot drie volwassenes en twee tot drie kleintjies, deel ’n gebied. Soms kan groter groepe bymekaarkom.

Dié otters maak ’n verskeidenheid geluide, insluitende lae en hoë fluitgeluide, kreune en die ‘ha’-geluide wat hulle maak as hulle angstig is. Hulle kan ook skreeu- en miaau-geluide maak.


Die otter hou prooi met sy ‘hande’ vas
Foto: otter.org

’n Volwasse groototter weeg tussen 10 en 22 kg en is tussen 113 en 163 cm lank, insluitende die stert wat omtrent ’n derde van hulle lengte is. Mannetjies is gewoonlik swaarder en langer as wyfies.

Hulle dik haarbedekking is donkerbruin met ’n kenmerkende wit kleur op die bolip, kante van die gesig, nek, keel, onder die ore en op die pens. Hulle het ’n onderlaag hare of pels wat witterig is en bestaan uit kort (10 mm), fyn en krullerige hare. Die mannetjies het lang wit hare op hulle wange, ken en oogbanke.


’n Groototter op ’n drafstap
Foto: geocaching.com

Die wyfie is nege weke lank dragtig en twee tot vyf kleintjies word in die vroeë lente met toe oë, soos klein katjies, gebore. Hulle weeg omtrent 200 gram met geboorte en kan binne 14 dae meer as 1 400 gram weeg. Die kleintjies word deur die wyfie grootgemaak. Hulle verlaat die den ná 16 tot 30 dae en word ná 45 tot 60 dae gespeen.

Die kleintjies is volwasse op een jaar en groototters kan 10 tot 12 jaar oud word in die natuur en ongeveer 15 jaar in aanhouding.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger