Gemeenskap staan saam in vloedramp Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 14 April 2022 09:57
Untitled Document

Inwoners van Onverwacht noord van Cullinan is vyf uur die oggend van 22 Maart begroet deur ’n meter-hoë vloed ná die keerwal van ’n sandmyngroef vroeg die oggend van 22 Maart gebars het.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane nooddienste-departement, het gesê dat reddingswerkers om 7 vm na die gebied uitgeroep is. Hy het gesê dat huise oorstroom het ná die keerwal meegegee het, maar dat niemand beseer is nie. Nooddienste het mense gehelp wat op hulle dakke geklim het om van die water te ontsnap.


Die water stroom vroegoggend van 22 Maart
Foto: Verskaf

Raadslid JB Bekker het gesê dat streek vyf se metro-polisie en brandweer, die Cullinan-polisie, Doornkraal Gemeenskappolisiëringsforum (GPF) en Onverwacht GPF sowel as gemeenskapsleiers vroegoggend op die toneel was. ’n Span vrywilligers het ’n warm ete vir inwoners voorberei en diegene wie se huise oorstroom het, is deur die rampbeheerspan van streek vyf ontruim.

Wet Nose Diereskuiling is uitgestuur om diere te help red. Veronica Van Greunen van Wet Nose sê dat dit nie net ’n groot skok vir die mense was nie, maar ook vir die baie diere, veral die plaasdiere wat in kampies aangehou word. Sy sê dat Wet Nose eers teen 9 vm van die ramp gehoor het en dat die vloedwater teen daardie tyd teruggetrek het.

“Ons het vinnig reageer en weggetrek met soveel personeellede, voertuie en sleepwaentjies as ons kon. Toe ons daar aangekom het, was nooddienste op die toneel en ons het nie geweet wat om te verwag nie,” het sy gesê.


Die water het huise binnegestroom
Foto: Verskaf


Ná die water begin terugtrek het
Foto: Wet Nose

“Deur een of ander wonderwerk, lyk dit of die meeste diere net met geringe beserings weggekom het. ’n Paar donkies het ’n paar snye en skrape gehad en ons moes een jong kalfie, wat sy been gebreek het, laat uitsit, maar tot ons groot verligting het ons teruggekeer met leë honde- en perdewaentjies.”

“Om met leë hande terug te kom by Wet Nose was die beste nuus waarvoor ons kon hoop en was glad nie wat ons verwag het nie. Ons wens die gemeenskap van Onverwacht alle sterkte toe met die skoonmaakaksie en ons bedank hulle dat hulle so goed na hulle diere kyk,” het Veronica gesê.

Charles het gesê dat ’n ondersoek van stapel gestuur is om die skade aan huishoudelike inhoud te bepaal en dat die gemeenskap en plaaseienaars aan dié ondersoek deelgeneem het. Die departemente van minerale en energiebronne, landbou, omgewingsdienste en maatskaplike ontwikkeling is oor die insident ingelig.


Só het die veld gelyk
Foto: Wet Nose

Onverwacht is ’n nedersetting met ’n ryk geskiedenis, waar die oorspronklike inwoners na hulle self as “Swart Afrikaners” verwys het. Hulle is glo afstammelinge van die bevryde Maleise slawe wat saam met die Malan-natrek in 1857 in Transvaal aangekom het.

’n Paar grondeienaars het elk ’n stuk van hulle plase aan dié mense afgestaan – ’n transaksie wat deur Paul Kruger onderteken is – en die geskenk was so onverwags, dat hulle die nedersetting ‘Onverwacht’ gedoop het.

Daar word hierna verwys in die Staatskoerant no 657 van 21 Junie 1893. Die gebied word hier beskryf as Doornkraal no 4, bestaande uit 1 619 morgen, 542 vierkante roeden, in die distrik Pretoria, wyk Elandsrivier.

Die berig sê dat “bakens zijn aangebring door inspekteur D Erasmus gemeten voor eienaar PC Erasmus in Julie 1890 door mijn opmeter, CE Gilfillan, goedgekeur deur SJP Kruger, staatspresident”. 
Die landmeter-generaal was GR von Wielligh en dit is op kaart 77 van 93 aangebring en op 19 Junie 1893 goedgekeur. Die Goewermentskantoor verwys daarna op 26 September 1893.


Só het die toegangspad gelyk
Foto: Verskaf


Later die oggend
Foto: Wet Nose

Oor die jare het Onverwacht-inwoners met die plaaslike Pedi-stam ondertrou, maar ’n groot meerderheid kon net Afrikaans praat en hunker vandag nog na hulle laerskool, waar Afrikaans tot so dekade gelede nog die voertaal was.

Die nedersetting is 9 km noord van Cullinan uit met die Sybrandskraalpad. ’n Mens draai regs op die Brandbachpad en Onverwacht is na ongeveer 2 km aan die linkerkant.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger