Ongeluk by die geluk Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 14 April 2022 09:55
Untitled Document

Neef Proppie vertel van ’n aardige ding wat toentertyd in sy grootword-wêreld gebeur het: Tussen twee plattelandse dorpies in die ou Transvaal (ek verswyg die name om onskuldiges te beskerm) het ou JP van der Westhuizen en ’n vriend op ’n dag kuier-kuier gery om ’n man oor ’n ding te loop sien.

’n Hele goeie entjie voor die bestemde dorpie op die perske-draai, verloor vriend beheer oor die Ford en gooi die ding om. Hulle rol Ford-en-al deur die doringdraad die veld binne en kom tussen die perskebome in ’n stofwolk tot stilstand, het ou JP vertel.

Verwond, bewerig en bebloed, maar darem nog padwaardig, begin die twee vriende toe maar aanstap dorp toe. Dit is ’n baie stil pad en veral laat op ’n Sondag sal jy selde of ooit ’n voertuig aldaar aantref.

Ou JP het vertel dis toe hulle so twee of drie honderd meter gevorder het, dat hulle skielik onthou van die bottel wat nog in die wrak van die Ford is. Sou dit nog heel wees? Hulle draai toe maar net daar om, om te gaan ondersoek instel.

Uiteindelik terug op die ongelukstoneel, spoor hulle die bottel (wonderbaarlik nog heel) in die wrak op en begin weer aanstap dorp toe. Dié keer gewapen met padkos teen die pyn en verdriet en die droë keel.

Toe hulle einde ten laaste op die dorpie aankom, is dit heelwat later en heelwat later op ’n Sondag op daardie dorpie is daar nie veel teken van lewe nie. Soos die geluk dit wou hê, kry hulle die dorp se dokter in die hotelletjie waar hy besig is om snoeker te speel en so meer, het ou JP vertel.

Die dokter sê toe hy speel net dié potjie klaar dan sal hy omsien na JP en vriend se beserings en wonde. Hulle kan solank daar op die bankie sit en wag. Die gawe arts bestel vir almal nog ’n rondte.

Heelwat later ondersoek en ‘patch’ die dokter hulle sommer net daar gratis en verniet en boonop reël hy vir hulle ’n geleentheid terug na hulle dorp van oorsprong toe, het JP gesê.

Erg uitgeput en seer ná die dag se gebeure, is ou JP dadelik kooi toe, toe hy einde ten laaste by sy huis aankom.

Die volgende oggend, het JP vertel, toe hy sy gesig was, kom hy agter dat ’n gaatjie in sy kop, hoog langs sy voorkop ’n lang bloedstreep van bo na onder teen sy wang af en tot op sy ken se punt gelos het.

En dis toe dat hy tot sy verbasing sien, sê JP, dat die gawe dokter in sy ywer ook dié droë bloedstreep van heel bo tot heel onder baie deeglik met steke toegewerk het . . .

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger