Met die baie meer as normale reëns dié jaar het die standhoudende fontein op sy grond se water meer as verdubbel, sê Charles Thompson van Boekenhoutskloof.
Op sy grond, 13 Maples, is die damme vol, en sy buurman s’n loop ook oor. Aan sy westekant loop die groot grondpad tussen die Molottopad en Hammanskraal.
Charles sê hy het reg-van-weg daar en by sy hek daar onder lyk dit of iemand ’n dam in die pad gebou het. Dis een groot watermassa soos die fontein probeer om die pad oor te steek. En daar sit elke nou en dan ’n dorpsjapie vas wat op pad is na Dinokeng en hom met die ‘dam’ misgis.
Die dam in die pad wat deur ’n oorvol fontein veroorsaak word
Vroeër jare se waterpype is lank reeds te diep onder die grond en mense het probeer walgooi dat die massa water nie skade op hulle grond aanrig nie. Die toestand maak dat bure nou al kwaad is vir mekaar, sê Charles.
Einde ten laaste is dié wat die nuwe ‘rivier’ in ’n ander rigting in probeer dwing het, oortuig om daarmee einde te kry en dat daar iets soos ’n ‘natuurlike loop’ van water is. Want, sê Charles, water is slim. Hy loop waar hy die maklikste kan.
Die enigste oplossing sou pype onder die pad deur wees, maar die mense van die omgewing vestig nie veel hoop daarop nie. |