Bloedige oorlog laat blomme-spoor Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 14 April 2022 09:49
Untitled Document

’n Bloedige oorlog se nalatenskap. Só word die kosmosblomme wat nou landwyd floreer, beskryf. Dié pienk, wit en perserige blomme langs die grootpaaie het ons land eers met die Anglo-Boere-oorlog van 1899 tot 1902 binnegekom.

Die Kakies het perdevoer van Argentinië af ingevoer en dié voer was besmet met kosmossaadjies, wat oral waar die Britse magte beweeg het in die veld beland het en onwetend ’n spoor van ‘blommetroos’ agtergelaat het. Dit is ook die pad wat die ewe bekende, maar minder mooi kakiebos geloop het.

Die naam ‘kosmos’ is uitgedink deur die Spaanse priesters wat dié blomme in hulle sendings se tuine in Mexiko geplant het. Dit is glo die plant se perfekte, eweredig geplaasde blomblare wat die priesters genoop het om hom te vernoem na die Griekse woord vir ‘harmonie’ of ’n ‘geordende heelal’.

Dit laat ’n mens nogal wonder oor die volksname vir die soort kosmos wat algemeen hier by ons voorkom, Cosmos bipinnatus. Een daarvan is juis duiwel-in-die-bos, maar dié kosmosse is ook bekend as nooientjie-in-die-gras of Mexikaanse aster.


Kosmosblomme
Foto: Laurika van der Linde

Kosmos behoort aan die familie Asteraceae, ’n familie van blomplante wat meer as 20 000 spesies insluit. Daar is 20 spesies van die kosmos, maar die twee bekendstes is ons geliefde indringer, Cosmos bipinnatus, en die geel kosmos, Cosmos sulphurous.

Mense sê dit is opvallend dat die kosmosse vanjaar heelwat hoër staan as vorige jare in ons kontrei. Hulle meen dat dit iets met die goeie reën te doen het, maar die kosmosplant hou nie eintlik van te veel water nie. In klam, warm weer en nat toestande neig hulle om vatbaar te wees vir poeieragtige skimmel en ander swamsiektes.

Kosmos hou van volle son van vroegoggend regdeur tot skemer en plante wat in semi-skadu groei kwyn en dra minder blomme. Kosmos word gewoonlik so 1,2 meter hoog. Die plant het ’n sagte loof met fyn blaartjies wat al langs die buigbare dun stamme vertak. Die blomme is tot agt sentimeter in deursnee en verskyn in Maart. Hulle vrek met die eerste ryp.

Kwekers van dwarsoor die wêreld was druk besig om nuwe variëteite van die Mexikaanse kosmos te kweek en vandag is daar enkele, semi-dubbele en ten volle dubbele blomme in kleure van ligpers tot diep rooi, oranje en liggeel. Dié nuwe basters blom glo baie langer en daar is ook ’n dwerg kosmos, wat net 30 cm tot 50 cm lank word en as potplant gekweek is.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger