Tygie wat harte geraak het tragies oorlede Print E-mail
News - Ons Mense
Thursday, 14 April 2022 09:37
Untitled Document

Die 12-jarige Luan Schutte van Laerskool Tygerpoort is op 1 April in ’n ongeluk oorlede.

Luan en sy vriend, Jaykin van Heerden, het daardie laaste Vrydag van die skoolvakansie met ’n vierwielmotorfiets op sy ouers se plaas naby Vryburg in Noordwes gaan ry. Op ’n blinde draai het die motorfiets reg van voor teen die plaasbestuurder se bakkie gebots. Luan het bestuur en Jaykin het agter hom gesit.

Laerskool Tygerpoort het die nuus soos volg oorgedra: “Ons bid vandag as skool en gemeenskap saam vir Chris, Chantelle en Inneke Schutte en hul familie. Ons is diep geraak deur hierdie verlies en ons woorde vandag is min. Ons bid vir die Here se vrede, liefde en troos in hierdie tyd.”


Chantelle en Chris Schutte saam met Luan en sy sussie, Inneke
Foto: Verskaf

“Luan was ’n sportman van formaat en het Tygies op verskeie sportgebiede verteenwoordig. Hy was ’n ware vriend vir sy maats en het altyd sy onderwysers en afrigters met respek behandel.”

“Ons bid ook vir Jaykin van Heerden (12), wat ernstig seergekry het in dieselfde ongeluk. Ons dink aan hulle gesin (Martin, Wilmi en hul kinders),” skryf die skool.

Luan was glo op sy gelukkigste op dié plaas. Sy pa, Chris Schutte, het vertel dat die twee maats graag vroegoggend met die windbuks uitgegaan het en die hele dag buite spandeer het.

Chris vertel dat hy daardie oggend reeds in sy bakkie was toe die plaasbestuurder hom gebel het om te vertel van die ongeluk. Chris het soontoe gejaag en toe hy daar aankom het hy gesien dat Luan in die veld lê en dat die plaasbestuurder by Jaykin sit.

Chris het kunsmatige asemhaling op sy seun begin toepas. Sy vrou, Chantelle, het ’n rukkie later daar aangekom en het ook kunsmatige asemhaling toegepas. Hulle het Luan in die kar gelaai en hospitaal toe geneem, waar hy dood verklaar is.

Jaykin se been is op verskeie plekke gebreek en hy het teen die Bronnie se saktyd in ’n Johannesburgse hospitaal aangesterk. Jaykin se ouers het die twee seuns se vriendskap as spesiaal beskryf en het gesê dat daar baie aanmoediging, liefde en ondersteuning was.


Luan Schutte
Foto: Laerskool Tygerpoort

Hulle skryf: “Julle het dieselfde sport- en avontuurtaal gepraat en kon julle saam so daarin uitleef. Dit was altyd heerlik om jou [Luan] in ons huis te hê. Jou grappies, laggies en manewales het ons altyd aan die lag gekry. Jou vriendelike groet en warm drukkie langs die veld of waar ons jou sien, was altyd vir ons so kosbaar gewees.”

Chris en Chantelle beskryf hulle seun as ’n kind wat enigiets in die lewe met baie toewyding en ywer aangepak het en nooit tou opgegooi het nie. Hulle sê dat hulle nou eers besef hoeveel mense se lewens Luan in sy kort lewe geraak het en watter impak hy in sy 12 jaar op aarde gemaak het.

Luan het in atletiek presteer en was ’n kranige rugby- en krieketspeler. Nico Coetzee, Tygies se skoolhoof, het gesê as hy aan Luan dink, sien hy ’n pragtige glimlaggende sproetgesig, maar ook ’n uiters talentvolle sportman wat alles met volle oorgawe gedoen het en uitnemend presteer het. “’n Seun wat altyd die mooiste maniere openbaar het. Hy het hom in die tyd by ons skool op vele terreine laat geld.”

Luan is in sy jagklere op die plaas, waar hy op sy gelukkigste was, begrawe. ’n Gedenkdiens is op
8 April by die NG Tygerpoort-gemeente gehou.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger