Brand vernietig 400 skuilings by plakkerskamp Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 14 April 2022 09:35
Untitled Document

Bykans 400 skuilings is verwoes en 840 mense is haweloos gelaat ná ’n brand by Cemetery View-plakkerskamp langs die Pretoria-Oos Begraafplaas. Vier mense is beseer en een is later in die hospitaal oorlede.

Volgens Charles Mabaso, woordvoerder vir Tshwane-nooddienste, het die brand net voor middernag op 20 Maart uitgebreek.  Hy sê die vlamme was meer as 20 meter hoog toe brandbestryders daar opgedaag het. Winderige toestande het die vlamme glo aangeblaas.

Daar was verskeie ontploffings, vermoedelik weens gassilinders, en brandbestryders het ongeveer 1:40 vm die brand onder beheer gehad en het dit teen 3.30 vm geblus.


Die brand net ná 1 vm op 21 Maart
Foto’s: Sanet Fegan

Sedert 2018 was daar tien brande by Cemetery View en Plastic View, wat omtrent ’n kilometer uitmekaar is langs Garstfonteinweg-verlenging. Sommige van dié brande het verskeie lewens geëis. Die brande ruk glo hand uit omdat die skuilings baie naby aan mekaar opgerig word en plastiek as boumateriaal gebruik.

Die Tshwane metro het jare gelede reeds beplan om inwoners van dié twee plakkerskampe te hervestig. ’n Hooggeregshofbevel in 2019 het bepaal dat dié inwoners gereguleer of hervestig moet word na ’n beplande ontwikkeling by Pretoriuspark uitbreiding 40.

Die meeste inwoners sal egter in die plakkerskampe agterbly omdat hulle immigrante sonder enige dokumentasie is en nie vir regeringshulp in terme van die Behuisingswet kwalifiseer nie. Slegs 151 gesinne kwalifiseer glo om in die beplande ontwikkeling hervestig te word.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger