Terugvoer nooi nog mense binne Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 14 April 2022 09:32
Untitled Document

Ons voel ons weer met hierdie uitgawe bevoorreg om soos telkens wonderlike terugvoer oor die Bronnie van lesers en adverteerders te ontvang.

Deurgaans, ook in moeiliker omstandighede, is dié soort positiewe woorde die brandstof wat help om Die Bronberger bykans 20 jaar reeds in die spoor vorentoe te hou.

Lees gerus die briewe van Hendrik Opperman, Louise Smith, Mauritz Meyer, Emma Koekemoer en Myda Cronjé in dié uitgawe van die Bronnie. Die hart word warm en trots by dié lees hiervan.

En dit is ons beurt om dankie te sê. Dankie vir die moeite van lesers en adverteerders om in elke uitgawe terugvoer van dié aard te gee. Watter gelukkige jakkalse is ons nie. Dit is nie nodig om in die aaklige gebruik van eie-stert-prys te verval nie: Dit word vir ons gedoen.

Nie net vervul dit ’n waardevolle rol van aansporing nie, dit hou ons op ons tone om ’n tydskrif vir die gemeenskap wat ons dien deurentyd met ywer en na die beste van ons vermoë te probeer uitgee.

Ná die koms van die bykomende elektroniese weergawe van die Bronnie het ons aantal lesers met rasse skrede wyer uitgekring. Nie net in ons gebied nie, maar ook na die res van Pretoria en omliggende gebied, die res van die land en het selfs vinnig vastrapplek in die buiteland gekry.

Ons weet dat ons geseënd is met getroue lesers wat deur bykans ongekende meelewing help om ons in daardie spreekwoordelike spoor te hou. Ons weet dat lesers en adverteerders met hulle positiewe terugvoer daartoe bydra om nuwe lesers en adverteerders binne te nooi. Oneindig dankbaar is ons hiervoor.

Ter onderskraging plaas ons hier ook ’n paar uittreksels uit enkele briewe wat ons in die meer onlangse verlede ontvang het:

JJ Els van Pretoria Oos: Baie dankie vir ’n prag tydskrif. Die inhoud, verskeidenheid, bladuitleg en totale voorkoms van Die Bronberger, is van hoogstaande gehalte. Beslis die beste gemeenskapsblad in Gauteng. Doen asseblief so voort.

Delia O’Connor from Tweedracht: We have been avid Bronberger readers for a few years now. Thank you for this lovely initiative!

Hennie Heymans van Queenswood: Baie dankie vir my elektroniese Bronnie. Puik tydskrif en puik saamgestel.

Jaco en Anne van Zijl van Hazeldean: Ek moet sê, in die hedendaagse harwar, is julle reaksie, spoed en gehalte, asook die persoonlike notatjie saam met die elektroniese Bronnie vandag, prysenswaardig. Julle hele beeld glinster. Mazeltov!

Jakes Stadler van Legends Power Holdings: Ek glo goeie werk is deel van die rede hoekom Die Bronberger (ook) vandag nog daar is. Welgedaan. Hartlike dank.

Corlia Mathews van Silver Lakes: Ek het ’n klompie Bronnies, ook ouer uitgawes, gister by British 4X4 gekry. Ek geniet dit gate uit om alles te lees. Dankie vir julle wonderlike tydskrif.

Prof Colin Lowe van Cullinan: Ek stuur die e-Bronnie na al my kinders in Suid-Afrika en Australië. Hulle geniet dit elke maand. Baie dankie, waardeer dit. Seën julle.

Dit is ons wat die waardering en dank skuldig is . . .

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger