Geskei het dié raakvatter toeka se ‘euwels’ oorkom Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 18 March 2022 13:51
Untitled Document

Angie Kleijn

In 1899 was egskeiding ’n ongewone ding. ’n Euwel, het die mense destyds gemeen. ’n Geskeide vrou was heel dikwels ’n uitgeworpene en dit was ongehoord van dat só iemand op haar eentjie in die oorlog sou aansluit by ’n Boerekommando. Maar een uitsonderlike geskeide vrou het.

Sy het daarby ook sake gaan probeer regruk by ’n konsentrasiekamp, reuse betogings en optogte gereël, as kinderlose vrou medestigterslid van die moedersbond geword, vroue-organisasies help stig en tot die politiek toegetree.

Henrietta Ester Carolina Armstrong was dié vrou. Die 160ste viering van haar geboortedag is op
21 Februarie by die Rebeccastraat-begraafplaas gevier waar verskeie organisasies kranse by haar graf gelê het. Lede van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), die Erfenisstigting, Voortrekkermonument en Dameskring het hulde aan dié besondere vrou gebring.


Die eerste Afrikanervroue-optog na die Uniegebou op 4 Augustus 1915
Foto: Kraal Uitgewers

Vreemd genoeg het Henrietta haar man se van, Armstrong, haar lewe deur behou. Sy is op
21 Februarie 1862 op Fauresmith in die Oranje-Vrystaat gebore as die dogter van JW Oberholzer en Anna Catharina, ’n nooi Kieser. Daar is min oor Henrietta se pa bekend, maar haar ma, Anna, was die dogter van Johan Heinrich Kieser en Hendrika Hester Carolina, ’n nooi Dürr.

Henrietta het klasse by die Damesinstituut Eunice op Bloemfontein bygewoon. Sy was reeds 28 jaar oud toe sy op 8 April 1890 op Kimberley met John Edward Armstrong van Skotland getrou het. Hy was toe ’n bankbestuurder van Eshowe en het deur sy lewe vir verskeie banke gewerk. Op 1 Junie 1895 is hy na die Zuid-Afrikaansche Republiek se Nasionale Bank in Pretoria verplaas.

John en Henrietta se huwelik was glo baie ongelukkig en ná nege kinderlose jare het die egpaar mekaar in 1899 finaal vaarwel toegeroep. Die egskeiding is egter eers op 13 Desember 1907 finaal afgehandel.

Toe hulle uitmekaar is, het Henrietta haarself aanvanklik onderhou deur ’n losieshuis in Pretoria te bedryf. Met die uitbreek van die Anglo-Boere-oorlog later daardie jaar het sy as verpleegster by generaal Piet Joubert se kommando aangesluit.


Die Nederlandse Ambulans wat gewonde Boeresoldate na die Modderspruit-stasie, 15 minute vanaf die plaas Rietfontein buite Ladysmith geneem het
Foto: Van Hoepen

Oorlog
Sy het eers as veldverpleegster in die ambulans van dr Johan Balthasar Knobel gewerk. Hy was ’n verteenwoordiger van die Geneva Rooikruis-komitee in Pretoria, die eerste superintendent van die Volkshospitaal, is later tot die ‘Geneeskundige Commissie’ verkies en was die vise-president van die Transvaalse Rooikruis en Transvaalse Ambulansvereniging.

In die dae ná die Slag van Rietfontein op 24 Oktober 1899 in die omgewing van Ladysmith het die Boere uitgekamp op die Rietfontein-plaas en generaal Joubert het glo ’n paar nagte in die plaashuis oorgebly. Dié plaas is as ‘hooflaager’ geproklameer, maar generaal Joubert het uitgetrek om plek te maak vir dr Johan Otto Hohls, toe die plaas se potensiaal as hospitaal besef is.

Henrietta het sewe reise met gewondes vanaf Ladysmith na die hospitaal in Pretoria onderneem en was teenwoordig by die Slag van Colenso op 15 Desember 1899. In 1900 het sy besluit om permanent in die hoofstad te bly. Daar het sy aanvanklik as vrywilliger begin werk by ’n kamp op die oewer van die Apiesrivier.


‘Camp Diary of Henrietta EC Armstrong’

Irene
Op 6 April 1901 het ’n groep vroue van Pretoria die ‘Irene Vrijwilliger Verpleegsterskorps’ op die been gebring om hulp aan die siekes en noodlydendes in die Irene Konsentrasiekamp te verskaf.

Die korps is in oorleg met Aletta Hendrina Bosman (gebore Faure), die vrou van Pretoria se Hervormde dominee, Hermanus Stephanus Bosman, gestig en was onder aanvoering van Henrietta.


Mediese personeel by die plaas Rietfontein buite Ladysmith, waar generaal Piet Joubert
se kommando oorgebly het
Bron: Prof de Villiers, mnre Wolfhardt en Theart, Vriende van Bloemfontein Museum

Sy self was van April tot Oktober 1901 in dié kamp werksaam, waar sy dagboek gehou het van haar ondervindings. Dié dagboek is in 1980 deur die RGN gepubliseer.

Die kamp se inwonertal het van 819 mense in Februarie 1901 tot 4 655 mense in Augustus 1901 gestyg. Honderde gesinne, meestal met net die klere aan hulle lywe, is uit oop treinwaens by die kamp afgelaai, soms sonder dat voorbereidings vir hulle ontvangs getref is.


Sophie, sittend, en Mary Dürr was vrywilliger verpleegsters by die Irene Konsentrasiekamp. Hulle was waarskynlik niggies van Henrietta, wie se ouma, Hendrika Hester Carolina (gebore Dürr), getroud was met Johann Heinrich Kieser
Foto: Suid-Afrikaanse Vrouefederasie

Daar was dikwels nie genoeg voorraad en tente om skielik nog ’n paar honderd mense te huisves nie en dit was nie ongewoon dat 20 mense in ’n tent wat vir ses bedoel is, gebly het nie.

In haar dagboek skryf Henrietta dat die voedselrantsoene ten alle tye onvoldoende was. ’n Week se rantsoen het uit 7 lb meel, 4 oz sout, 6 oz koffie en 12 oz suiker bestaan. Kinders het die helfte daarvan gekry. Die rantsoen het ongeveer 29% van ’n volwassene se kalorievereistes en slegs 15% van die van ’n kind verteenwoordig.


Henrietta Armstrong
Bron: ‘Camp Diary of Henrietta EC Armstrong’

Honger
Vleis was selde beskikbaar en die gesinne van vegtende kommandolede het niks gekry nie. Melk, vars groente, seep, kerse en toiletware was skaars en is slegs voorsien wanneer die kampdokter dit as ’n mediese noodsaaklikheid voorgeskryf het.


’n Ouer Henrietta
Bron: Boere Afrikana

Alhoewel daar ’n gemiddeld van 540 siek mense per dag was, het die kampowerheid bepaal dat daar nooit meer as ses verpleegsters in die kamp mag wees nie. Toe Henrietta daar begin werk het, was daar net een verpleegster, ’n suster Turner, wat glo verlof geneem het net wanneer sy wou. ’n Dr Wotherspoon het aan die stuur van sake gestaan en later is die mediese personeel aangevul deur drs Hamilton, Green, Neethling en Woodrooffe.

In dié tyd was Henrietta glo ook ’n spioen. Sy was heel vriendelik met Britse offisiere in Pretoria en het die inligting wat hulle niksvermoedend met haar gedeel het, aan kaptein JJ Naudé oorgedra, wat dit dan aan die Boereleiers in die veld gestuur het.


Kinders by die Irene Kampskool in November 1901. Dié foto is deur Emily Hobhouse en kom uit ‘Smarte van die oorlog en wie dit gely het’
Bron: ‘Camp Diary of Henrietta EC Armstrong’

Ná die oorlog het Henrietta in 1904 gehelp om die SAVF te stig en in 1905 het sy die Armstrong-Berning Reddingshuis vir ongehude moeders in Pretoria gestig. Sy was tot 1939 voorsitter van dié huis, wat later ’n hawe vir getraumatiseerde meisies geword het en wat uiteindelik in 2015 sy deure moes sluit weens finansiële beperkings.

Henrietta was ook een van die stigters van die Langlaagte-weeshuis vir oorlogswese. In 1911 het sy die SAVF oorreed om die verwaarloosde kinderkerkhof by Irene op te knap en om jaarliks op Goeie Vrydag 'n kranslegging en huldediens te hou.


Die optoggangers op Kerkplein met die protesmars van 22 Junie 1940
Foto: John Dodgson in ‘Die Huisgenoot’, 1940-07-12

Rebellie
Toe die 1914 Rebellie uitbreek was sy een van die hulpkomiteelede wat seker gemaak het die rebelle-gevangenes kry kos. Sy het ook gehelp om die vroueoptog te reël wat om amnestie vir dié gevangenes gevra het.

Hier het sy gewerk saam met ’n vrou wat sy in die oorlog leer ken het – generaal Piet Joubert se vrou Hendrina (Drienie) was saam met haar man op kommando. In 1914 was Drienie ’n 84 jaar oue weduwee. Dit was Drienie se idee om ’n betoging te hou om vir die vrylating van die veroordeelde rebelle te gaan pleit. Haar seun, Jan Joubert, het haar oorreed om die betoging nie alleen aan te pak nie. Hy het haar gehelp om ’n oproep op te stel wat landswyd aan verskillende vroue-organisasies en koerante gestuur is.


Ná haar beroerte het Henrietta nog die bewoording opgestel vir die vroue-protesoptog teen deelname aan die Tweede Wêreldoorlog
Bron: Reëlingskomitee van die Vroue-Optog, Die Vroue-Optog 22 Junie, 1940

Vroue dwarsoor die land is uitgenooi om saam met ’n sentrale vrouekomitee, wat in Pretoria gevorm is, te werk. Henrietta was vise-voorsitter van dié komitee. Vanaf die Kaap tot by die Limpoporivier is vrouekomitees georganiseer en is afgevaardigdes verkies om namens hulle streek ’n versoekskrif aan die goewerneur-generaal, burggraaf SC Buxton, te gaan oorhandig.

Optogte, saamtrekke en selfs betogings is oral gereël en petisies, wat op die begenadiging van die rebelleleiers aangedring het, is op dorpe aan landdroste oorhandig.

Tydgenootlike bronne het beweer dat meer as 6 000 vroue, wat meer as 65 000 vroue landwyd verteenwoordig het, op 4 Augustus 1915 opgeruk het om druk op die regering uit te oefen om veroordeelde rebelle vry te laat.


By Henrietta se graf met die herdenking van haar 160ste geboortedag, staan van links na regs agter: Graeme Peplar, Barry Müller, Marietjie van der Spuy en Johan Jansens van Vuuren. In die middel is Karien Snyman, Petra Luus, Maureen Miller, Charlotte Drotsky en Katrien Botha.
Quentin Meyer is heel voor
Foto: Verskaf

Stig
In 1916 het Henrietta begin werk aan die totstandkoming van die Vroue-Nasionale Party, waarvan sy hoofbestuurslid geword het. As verteenwoordiger van dié party was sy betrokke by die stigting van die Bond van Afrikaanse Moeders in 1919, een van die eerste opleidingsentrums vir vroedvroue. In April 1920 is aangekondig dat die Moedersbond die huis van president Paul Kruger as sy eerste tuiste gehuur het.

Henrietta het in 1939 ’n beroerte gekry en kon haarself nie meer versorg nie. Sy het vir die laaste vyf jaar van haar lewe by haar neef, Heinrich Stuart, gewoon. Tog het sy nog die bewoording opgestel en onderteken vir die versoekskrif wat oorhandig is met die vroue-protesoptog vanaf Kerkplein na die Uniegebou op 22 Junie 1940. Dié optog is gereël in verset teen deelname aan die Tweede Wêreldoorlog en bykans 9 900 vroue het in gelid gestap.

Henrietta is op 17 Oktober 1944 in die ouderdom van 82 jaar in Pretoria oorlede en is langs haar ma in die Rebeccastraat-begraafplaas ter ruste gelê.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger