'Wonderwerk-welpies’ aanvaar drie nuwe wesies Print E-mail
News - Artikels
Friday, 18 March 2022 13:49
Untitled Document

Hoe gaan dit deesdae met die ‘Wonderwerk Welpies’? Verlede jaar het ons vertel dat vyf piepklein jagluiperd-welpies wat wees gelaat is, wonderbaarlik oorleef het en die ‘Miracle Five’ gedoop is. Vandag word daar gepraat van die ‘Miracle Eight’, want drie nuwe wesies het by dié groepie aangesluit.


Die drie nuwe wesies met hulle aankoms


Die oorspronklike vyf wesies toe hulle nog piepklein was

Die oorspronklike wesies se ma is in die Dinokeng Wildreservaat noord van Cullinan in ’n strik gevang en afgeslag. Kevin Richardson, wêreldbekende wildbewaarder en filmmaker, grootliks bekend as die ‘leeu- fluisteraar’, en sy span versorg die wesies by die Kevin Richardson Wildlife Sanctuary in dié reservaat.


Welpies loer nuuskierig deur die omheining toe die drie nuwe wesies aangekom het

Dié vyf wesies se storie het begin toe Dinokeng se teen-wildstroop span agtergekom het dat ’n wyfie jagluiperd, wat onlangs welpies gekry het, se GPS satelliet-halsband ophou beweeg het. Hulle het dadelik ’n span uitgestuur om na haar te begin soek, wel wetende dat dié soektog ’n resies teen tyd was. Die welpies was vyf tot ses weke oud en sou net vir 24 tot 48 uur kon oorleef voor hulle begin dehidreer en ’n gewisse dood in die oë staar.

Dinokeng se span het die vier klein manlike welpies dadelik by die den gekry, maar moes ’n groot soektog opsit om die vyfde een, die enigste wyfie, wat weggekruip het, te kry. ’n Paar maande later moes die span nog ’n groter soektog op tou sit om drie nuwe wesies in die veld te vind.

Hulle ma is deur ’n leeu doodgemaak en die soekspan moes vir nege ure lank sukkel om die wesies gevang te kry. Die drie nuwe wesies was jonger as die ‘Wonderwerk Vyf’, maar was in daardie stadium reeds groter as hulle omdat hulle langer moedersmelk gedrink het.


Een van die groeiende welpies

Kevin sê dat dié welpies geweldig getraumatiseer was en vir die eerste drie dae apart van die vyf ander wesies gehou is. Hulle kon mekaar egter deur die draad dophou om aan mekaar gewoond te raak.

Ná ’n paar dae was dit tyd vir die twee groepe om mekaar van naderby te leer ken. Kevin sê dat die twee groepe mekaar aanvanklik vermy het. Die aand wat hulle vir die eerste keer saam in die nagkamp moes deurbring was naelbyt-tyd vir die personeel, maar almal het die volgende oggend lewend anderkant uitgekom.

Tog het die twee groepe uit mekaar gebly. Dit het baie lank geneem voor hulle begin meng het. Die oorspronklike vyf welpies het aanhou speel en mekaar gejaag, terwyl die drie nuwe welpies in ’n hoekie bly sit het.


Die welpies se eerste ‘prooi’, waarvoor hulle eers ’n bietjie skrikkerig was

Die deurbraak het uiteindelik gekom toe die welpies speelgoed gekry het in die vorm van lemoenpampoentjies. Die pampoentjies is vir hulle gerol en die welpies het saam begin ‘rol-bal’ speel.

Kevin vertel dat sulke speletjies die beste voorbereiding is om te leer jag. Die doel is om die welpies na ’n paar jaar in die reservaat vry te laat, so hulle moet leer hoe om weer ‘wild’ te word. Die volgende stap in dié proses was toe hulle in Desember vir die eerste keer kos gekry het wat nie in ’n bak aankom nie.


’n Welpie speel met ’n lemoenpampoentjie
Foto’s: Kevin Richardson Stigting

Die welpies het hulle doodgeskrik toe die sebrabene – gestroop van vleis, maar met vel en senings aan – in hulle kamp gesit is. Al die welpies was aanvanklik bang vir dié vreemde nuwe goed. Ná een brawe welpie ’n been bekruip en aan hom begin kou het, het ’n tweede een ook ingeval. Die res was te bang.

Dit was eers met die volgende sebra-bene dat alle welpies ingespring het en hulle eerste ‘prooi’ saam gevreet het en bande begin vorm het wat hulle hopelik eendag as ’n jag-span sal laat saamstaan.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger