Vreemde ervarings in die groot dorp Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 18 March 2022 13:47
Untitled Document

Sommige dae neig net om vreemder en soms heel anders as ander meer ‘normale’ dae te wees.   Niks wat jy doelbewus anders doen of beplan nie, sê Gert Mossie. Noem dit maar die voorsienigheid of noem dit wat jy wil.

Hy dink byvoorbeeld ou Ben Engelbrecht sou dit wat nou die anderdag in die groot dorp met hom gebeur het nie in sy wildste drome kon uitdink nie, sê Gert. Eers, vertel Ben hom, tel hy sowaar net daar op die sypaadjie ’n hoed vol geld op en net ’n rukkie later storm ’n omgekrapte, wildvreemde man met ’n kitaar  in die hande dreigend  op hom af . . .

As ’n ou nie gewoond is aan ’n ‘groot’ dorp nie, kan ’n besoek aldaar nogal aardig raak. Hy onthou (baie jare gelede) beland ’n jonge Gert Mossie en sy ewe jonge neef Proppie op ’n dag in die verskriklikheid van die destydse winkel-oerwoud in Sandton.

Hulle is daar net vir die aardige ervaring van kyk en nie met die onmoontlike doel voor die oë om te loop koop nie. En vergaap aan die vreemdheid het die twee erg plattelandse neefs hulle behoorlik.

Later, terug in die Hillbrowse woonstelletjie van ’n vriend se broer, sê neef Proppie dit was darem nou vir jou ’n heel ‘anderste’ dag. Wat hy wil weet, vra Proppie toe, is hoekom die klein klere-winkeltjies en die magdom piepklein meubel-winkeltjies (lyk hom elke tweede plek is een van hulle) in dié groot plek só ingestop is in karige ou hokkies?

Sommer baie kleiner as ou Cohen se meubelwinkel en Patel se klerewinkel op hulle dorp. Wat hy veral nie so lekker mooi verstaan nie, is hoekom elke ou meubel-winkeltjie se naam iets ‘Antiekews’ is en op elke ou winkeltjie wat klere versmous noem hulle ’n ‘Bottiekew’.

Hy meen die feit dat Ingels destyds nie baie groot was op sy plattelandse ervaringsvlak nie, het tot neef Proppie se verwarring bygedra, sê Gert Mossie.

Hulle het natuurlik goed geweet van ’n kêffie, ’n hotel, ’n keraats, Madeira se greengrouser en selfs ’n hêbbedêsherrie, ’n joeler en ’n bioskope, maar van die vreemd gespelde ‘kew-winkels’ wis hulle dadels.

Hy onthou daardie aand vaar hulle toe die strate van Hillbrow binne (gekoller en getaai) om die vreemdheid van ‘uit-eet’ te loop beproef. En so beland hulle toe met hulle kosbare sakgeldjies en blinkgepoetste skoene in ’n eg Franse restaurant, sê Gert Mossie.

Hulle grootword-proses het net daar ’n hengse hupstoot gekry. Só doodluiters as wat twee bewerige, opgeskote seuns hulle maar in baie vreemde omstandighede kan voordoen om te wees, het hulle ’n mooi kelnerinnetjie na ‘hulle’ tafel gevolg. Sy praat met hulle Frans en hulle antwoord elke keer met die een Franse woord wat hulle ken: “Wee.”

Sy vra by die tafel weer iets en weer antwoord hulle “wee” en net daar plak sy twee Franse spyskaarte voor hulle neer. Natuurlik sou ’n kat van saffraan meer weet as wat hulle van die inhoud van daardie spyskaart geweet het.

So besluit hulle om maar lukraak hier aan die beginkant van die spyskaart iets te kies. Hulle knyp oë toe en elkeen druk sy vinger op ’n plek wat ’n voorgereg aandui.

Net daar hou hulle die wysvingers toe die mooi kelnerin kom om die bestellings te neem sodat sy hulle keuses kan sien. Sy praat weer ’n paar woorde in vreemde tale en hulle antwoord soos een man: “Wee.”

Nou het hy wat Gert Mossie is al gehoor dat vreemde mense slakke eet en dat dit nie giftig is nie. En dit is wat hy dié aand kry – so nog in die dop en al. Met die vaste voorneme om nie sy onkunde ten toon te stel nie vat hy sy eerste sleepsel die vreemde slak-wêreld in. Gelukkig hou hy van knoffel en voor lank is die tuin-peste in en hy is in sy noppies. Dit sal hulle leer, dink hy.

Proppie se gereg is iets wat nie een van ons in ons heel wildste drome as kos sou klassifiseer nie. Dis vreemde dun goed (wat lyk soos tortelduifboudjies) in ’n diep bak met sous. Hy proe teësinnig daaraan, maar dis toe dat die ou aan die tafel neffens ons opmerk dat dit “nice frog’s legs” is. Gert Mossie sê hy kon sweer ou Proppie word gras-groen in die gesig.

Maar toe hy ’n rukkie later weer kyk is neef Proppie se bak met sousige paddaboudjies leeg. Dapper man, dink Gert Mossie.

Met die uitstapslag, sê Gert, merk hy dat daar ’n klam kol langs die tafeltjie is waar hulle gesit het. En van daar af tot by die betaalpunt by die voordeur sien hy uit ou Proppie se baadjiesak uit en langs sy broekspyp af het ’n dik paddasous-streep op die plek se luukse mat getap en sy spoor tot by die deur gelos . . .

By die voordeur vra die mooi kelnerin: “What is wrong?” “Wee, wee,” antwoord hulle weer vlot in Frans.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger