Motoriste word toenemend geteiken Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 March 2022 13:27
Untitled Document

’n Motoris wat oor skerp voorwerpe op die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) gery het, is geskiet en beroof ná hy stilgehou het om sy band om te ruil. Die 31-jarige man het tussen Skierlik en Donkerhoek van die pad afgetrek.

Karen Yssel van die Cullinanse gemeenskappolisiëringsforum (GPF) sê dat die insident net voor
8 nm op 22 Februarie gebeur het. Die motoris was in staat om tot by die Jan Ellis-sentrum te ry, waar hy mediese behandeling kon ontvang en Mamelodi-hospitaal toe geneem is.

Daardie selfde aand het die Tshwane Metropolisie skerp voorwerpe op die Cullinan-Zambezipad naby die Mamelodi-steengroef gevind.

Die Boschkopse GPF het berig dat daar op 18 Februarie ’n kaping naby die Donkerhoek-afrit van die N4-Oos snelweg was. Die GPF het teen 9:16 nm verslag ontvang dat skote by dié afrit afgevuur is. Verdere verslae het bevestig dat daar ’n kaping was en die GPF se uitvoerende komitee, SAPD, reaksiespanne, gemeenskapslede, nooddienste en private sekuriteitsmaatskappy het almal reageer.


Tshwane Metropolisie het dié skerp voorwerpe op die Cullinan-Zambezipad naby die
Mamelodi-steengroef gevind
Foto: Cullinan GPF

Daar is bevestig dat een volwassene deur drie kapers ontvoer is. Die voertuig is nagespoor en die ontvoerde is deur die nasporingsmaatskappy, SAPD en reaksiespan gevind.

“Ons bedank alle rolspelers vir hulle flinke reaksie en mobilisasie. Weereens is dit wonderlik om te sien hoe al dié rolspelers, veral die gemeenskap, in sulke tye van nood kan saamstaan en ons is bly dat almal veilig is,” lui ’n verklaring van die Boschkopse GPF.

Volgens die GPF was dit die tweede kaping in dié gebied binne ’n paar maande. Die Boschkop-polisiestasie het motoriste gewaarsku dat daar ’n nuwe kaping-tendens op die Ou Bronkhorst-
spruitpad is. Polisie woordvoerder, sersant Yeroboam Mbatsane, sê dat ’n 33-jarige man onlangs deur drie gewapende mans aangeval is toe hy langs dié pad stilgehou het.

Hulle het die man in die bosse vasgemaak en al sy besitting, insluitende selfoon, kontant en sy voertuig geneem. Die slagoffer is in die bosse agtergelaat.

Sersant Yeroboam sê dat motoriste nie langs die pad moet stilhou nie en moet probeer om hulle naaste vulstasie te bereik. Karen sê dat mense nie in die nag op die Ou Bronkhorstspruitpad moet ry nie en dat hulle altyd op die uitkyk moet wees vir voorwerpe in die pad. “Moenie stilhou as jou bande beskadig is nie,” sê sy.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger