Drie jaar se werk begin om krag op koers te kry Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 March 2022 13:26
Untitled Document

Opknappingswerk van R134 miljoen het op 3 Maart by die Wapadrand-substasie afgeskop. Tshwane se uitvoerende burgemeester, Randall Williams, het gesê dat die opgradering na verwagting binne drie jaar voltooi sal word.

Die Wapadrand-substasie het op 10 Julie 2018 aan die brand geslaan. Daarná is ’n tydelike substasie gebou, wat drie jaar later – op 17 Julie 2021 – ook aan die brand geslaan het. Die mees onlangse brand-voorval by dié substasie was op 20 Februarie.

Net ná dié kleiner brand het Tshwane woordvoerder, Lindela Mashigo, gesê dat dit lyk of dit net een paneel was wat vlamgevat het en dat die brand gou onder beheer gebring kon word.

By die afskop geleentheid op 3 Maart het burgemeester Williams gesê dat die substasie aanhoudend aan die brand slaan omdat dit met ou tegnologie gebou is. Die opdrag om dié substasie te bou is in 1989 gegee vir ’n baie kleiner netwerk van gemeenskappe. Die ooste van Pretoria het sedertdien drasties uitgebrei.

Tshwane se hoof van sub-transmissiebestuur, Itumeleng Shibisi, het gesê dat die opknappingswerk in vier fases sal gebeur. Die eerste fase is die sloping van die bestaande gebou, wat in verlede jaar se brand beskadig is.

Konstruksie van ’n nuwe substasie-gebou, wat drie 11 kV panele sal huisves, gaan daarna volg. Die volgende stappe is die installasie van ’n 35 MVA transformator, die hervestiging van toevoer-kabels na die nuwe substasiegebou en die konstruksie van ’n vertrek vir die wagte.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger