Vyf aanvallers slaan toe op Tweedragt Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 March 2022 13:23
Untitled Document

Vyf plaasaanvallers het op 17 Februarie ’n woning op ’n Tweedragt-hoewe beset, die inwoners aangerand en vasgebind en hulle tyd gevat om die huis van waardevolle besittings te stroop voor hulle op vlug geslaan het.

Na verneem word, het die vyf mans teen 7.30 nm die huis binnegekom. Die deur en veiligheidshek was glo oop. Die boewe was gewapen met ’n geweer, ’n pistool, pangas en messe.

Hulle het die eienaar, ’n 66-jarige man, en twee vroue tussen 20 en 30 jaar oud hardhandig behandel en in ’n slaapkamer vasgebind. ’n Kleuter van twee jaar oud was in ’n ander kamer aan die slaap.

Daarna het die mans doodluiters vir die volgende twee uur of wat die huis geplunder. Kontant, elektroniese toerusting, ’n televisiestel, selfone, skootrekenaars, vuurwapens (vier gewere en ’n pistool) is onder meer buitgemaak.

Die slagoffers het dit reggekry om los te kom ná die skurke vertrek het en het by werkers op die hoewe alarm gemaak.

Niemand is ernstig beseer nie. Lede van die gemeenskaps-beveiligingsgroep was teen 10 nm op die toneel en verskeie lede van die SAPD het sowat ’n halfuur later begin opdaag.

Met ’n opvolg-aksie van die gemeenskapsgroep is ’n verdagte voertuig opgemerk wat waarskynlik deur die boewe gebruik is. Dit was ’n later model Toyota Corolla – grys, silwer of blou. Ongelukkig is geen registrasienommer bekend nie.

Teen die Bronnie se saktyd is niemand nog in verband met die voorval aangekeer nie. 

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger