Nuwe radiostasie op Tierpoort Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 18 March 2022 13:20
Untitled Document

’n Splinternuwe internet radiostasie op Tierpoort het vroeg in Maart met toetsuitsendings begin. Radio Ritme, waarvan die voertaal oorheersend Afrikaans is, werk vanuit die Bellevue Ateljee by Bellevue Equestrian Estates in Leribisiweg. Lewendige uitsendings het op 11 Maart afgeskop.

“Ons is ’n gemeenskapradiostasie wat nie kommersiële winste verdien nie en is gebaseer op Christelike beginsels,” sê Wicus van Wyk, stigter van dié stasie.

“Ons fokus is op die goue treffers van toeka se jare met ’n “pop” en “rock” inslag, maar ons skroom nie om hedendaagse treffers en enige iets anders ook op te dis nie. Die doel is om 24 uur per dag jou gunsteling musiek aan te bied en jy sal ook op hoogte gehou word van belangrike nuusgebeure en ander sake van belang,” sê hy.


Wicus van Wyk
Foto: Verskaf

Radio Ritme is op Tierpoort gesetel, maar het ook verskeie aanbieders in ander sentra van die land. Wicus het reeds vir drie verskillende radiostasies as omroeper gewerk, waar hy musiekprogramme aangebied het.

“Uiteindelik het ek besluit om Radio Ritme op die been te bring. Dit was soms maar opdraande, maar dan was die afdraande net soveel makliker. En hier is ons nou, met net ’n handjievol omroepers, wat almal hulle beste gee en hulle goed van hulle taak kwyt.”

Jy kan Radio Ritme vanaf die webblad, www.radioritme.co.za, stroom. Ander platforms om te stroom sal mettertyd bekend gemaak word.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger