Oom Giel laat ’n groot leemte Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 18 March 2022 13:18
Untitled Document

Een van Cullinan en omgewing se bekendste en gewildste inwoners, Giel Bierman, is onlangs in die ouderdom van 80 jaar oorlede.

Almal het na die hardewarewinkel, Cullinan Hardeware, wat hy in die laat 80’s op die dorp begin het, verwys as ‘Oom Giel se winkel’.

Oom Giel het in die Vrystaat op ’n plaas grootgeword en het later by Yskor in Vanderbijlpark gewerk voor hy in 1983 EB Cash Store op Cullinan gekoop het en later sy hardeware-saak oopgemaak het. Hier het hy tot en met sy afsterwe op 15 Februarie vanjaar gewerk.

Giel Bierman was geliefd onder almal wat hom geken het. Hy was bekend vir sy behulpsaamheid en vrygewigheid en het volgens sy seun, Mias, altyd sy medemens eerste gestel, al was dit ook soms tot sy nadeel. 


Wyle Giel Bierman op sy 80ste verjaardag
Foto: Verskaf

Oom Giel was ’n gerespekteerde lid van sy gemeenskap. Hy was hardwerkend en het ’n baie goeie algemene kennis gehad. Volgens Mias kon sy pa altyd die beste advies oor bykans enige iets gee en het hy altyd tyd gehad vir ’n geselsie en ’n grappie. Mias sê hy laat beslis ’n groot leemte in die gemeenskap. 

Giel laat drie kinders uit sy huwelik van 49 jaar met sy oorlede vrou, Rina, agter: Sy dogter Marietjie woon in Dubai; een seun, Jaco, woon in Kuala Lampur; en Mias het die hardeware-onderneming op Cullinan (Oom Giel se Winkel) oorgeneem. 

Giel was tot sy dood getroud met Louise Bierman (néé Marnewick), ook ’n oud Cullinan-inwoner.

’n Paar maande gelede het Charles Thompson die volgende gesê in ’n stuk wat hy oor Cullinan geskryf het: “Die hardeware is al donkiejare in besigheid. Oom Giel s’n. ’n Ware hardeware. Wat nog fietsspeke en ‘ball-bearings’ se balletjies verkoop. En kettierek. Wat nie eens meer elders bestaan nie.”

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger