Xara ’n week ná tragiese ongeluk gevind Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 18 March 2022 13:17
Untitled Document

Xara, ‘n swart pointer-hond is bykans wonderbaarlik ná ‘n verbete soektog gevind. Sy was ses dae lank weg toe sy langs ‘n snelweg verlore geraak het ná ‘n fratsongeluk wat die lewe van die 22-jarige Annien Müller geëis het.

Annien, ’n vierde jaar mediese student by die Universiteit van Pretoria, en haar kêrel, die 29-jarige Reino van Wielligh van Equestria, was op 27 Februarie op pad terug van Potchefstroom, waar Annien se tweelingsussie die Saterdag getrou het.

Annien was vroeër Potchefstroom toe om met die troue te help en sy en Reino het in twee afsonderlike motors terug na Pretoria gery. Xara was saam met Reino toe sy motor op die N14-snelweg naby Lanseria gerol het.


Wyle Annien Müller en Reino van Wielligh saam met Xara
Foto: Verskaf

Annien het stilgehou en begin hardloop om Reino, wie se motor op sy dak gelê het, te help. Reino het sy kantvenster uitgeskop en na Annien begin hardloop, toe ’n motor op die nat pad gegly het en Annien reg voor Reino getref het. Annien het nog gelewe en Reino het haar in sy arms vasgehou terwyl hulle vir hulp gewag het.

Hy het vir ’n omstander gevra om te kyk hoe dit met Xara in sy motor gaan. Toe die motor se deur oopgemaak is, het Xara uitgespring en begin hardloop. Reino is agterna terwyl ’n paramedikus, wat van diens af was, by Annien gesit het, maar Reino het besef dat hy Xara nie sou kon vang nie en is terug na Annien. Sy is later in die hospitaal oorlede.

’n Groot soektog na Xara is van stapel gestuur. ’n WhatsApp-groep, ‘Search for Xara’, is gestig en het binne ’n paar dae meer as 240 lede gehad. Iemand op dié groep het gesê dat ’n hond wat soos Xara lyk, gesien is. Reino se sussie, Nadia du Plessis, en haar man, Ross, het van Potchefstroom af deurgery en het Xara met die hulp van ’n plaaslike inwoner in ’n veld ongeveer 6 km van die ongelukstoneel gevind.

Buiten ’n sny onder haar oog, het Xara geen beserings gehad nie.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger