Vloed saai verwoesting in Bronberg-gebied Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 February 2022 18:08
Untitled Document

Swaar reën op 4 Februarie en die vroeë oggendure van 5 Februarie het verwoestende vloede in die Bronberg-gebied veroorsaak. Paaie het in kolkende massas water verander, laagwater brûe is vernietig, voertuie is deur vloedwater meegesleur en ’n man is ná hy uit die water gered is, oorlede.


Die helfte van die pad het by die druiweplaas op Zwavelpoort weggespoel
Foto: Shandy Venter van MZT
.


Die foto is 500 meter vanaf die laagwaterbrug oor die Zwavelpoortspruit by die druiweplaas op Achillesweg geneem
Foto: Lourens Oberholzer


’n Voertuig by die laagwaterbrug oor die Ou Bronkhorstspruitpad
Foto: Verskaf

Plaaslike gemeenskapsinisiatiewe, water-reddingtegnici en duikers van Tshwane Nooddienste, die Gautengse Mediese Nooddienste en die Suid-Afrikaanse Polisiedienste moes verskeie reddingsaksies uitvoer.


Die voertuig het afgespoel by die laagwaterbrug oor die Pienaarsrivier op die bloupad. Die man het in
die boom gesit
Foto: Trix van den Berg – MZT


Die reddingspoging by die laagwaterbrug oor die Pienaarsrivier op die aarbeiplaaspad / pienkpad
Foto: Trix van den Berg – MZT


Die Elandsrivier in vloed oor die Zonkolol-pad
Foto: Johann van der Linde

Omstreeks 2:20 nm van 4 Februarie het JP Nel se motor in die Zwavelpoortspruit beland toe vloedwater hom van die laagwaterbruggie by die druiweplaas op Achillesweg meegevoer het. Hy is eers naby Graceland langs die Zwavelpoort-teerpad uit die spruit gered en is in ’n kritiese toestand na Unitas-hospitaal geneem.


Die Pienaarsrivier bruis oor die Ou Bronkhorstspruitpad naby die Sammy Marks-museum
Foto: Karel Gerber


Die laagwaterbrug oor die Pienaarsrivier op die bloupad om 11 vm op 5 Februarie
Foto: Trix van den Berg – MZT

JP is later na die intensiewe sorgeenheid verskuif waar hulle probeer het om sy liggaamstemperatuur, wat slegs 28 grade Celsius was, te verhoog. ’n Eksterne masjien is gebruik om sy bloed deur sy liggaam te laat pomp en hy was op ’n ventilator, maar het intern begin bloei weens sy lae liggaamstemperatuur. Later die aand het JP Nel se suster, Tiyane, laat weet dat haar broer oorlede is.


JP Nel is oorlede die dag ná sy voertuig deur die Zwavelpoortspruit meegesleur is
Foto: Verskaf


“Ons pad op Boschkop,” sê Jan van Deventer
.
.


Die voertuig is amper onder water op die aarbeiplaaspad / pienkpad
Foto: Trix van den Berg – MZT

Daarná is die gedeelte van Achillesweg by die laagwaterbrug oor die Zwavelpoortspruit gesluit omdat die helfte van die pad daar weggespoel het.

Trix van den Berg van die Mooiplaats-Zwavelpoort-Tierpoort (MZT) gemeenskap vertel van die gemeenskap se betrokkenheid by die volgende reddingspoging om 8 nm, 4 Februarie op die Tierpoort-grondpad, ook bekend as die pienkpad of aarbeiplaaspad. ’n Voertuig het in die moeilikheid beland toe die Pienaarsrivier die laagwaterbrug oorstroom het.


Die Forfarpad by Rooikopjes
Foto: Ursula Joubert
.


Die Zwavelpoortspruit bruis tussen die druiweplaas en Graceland, waar JP Nel se voertuig gevind is
Foto: Verskaf

Sy sê dat Flip Marx van Bronberg Restaurant een van sy pantservoertuie gestuur het om te help. Kobus Schoeman en sy seun, Ian Van Schalkwyk, het amper weggespoel toe hulle probeer help, maar was gelukkig vas aan toue en kon uitgetrek word.


Die gemeenskap staan by met die reddingspoging op die aarbeiplaaspad / pienkpad
Foto: Trix van den Berg – MZT

Trix vertel dat die reddingspoging amper twee ure se gestoei ingesluit het en dat die man naderhand kon uitloop, soos wat die water begin sak het. Die broers, Nick en Chris Woodrow, Jaco Van Den Berg en SAPD-lede het ingeloop om hom uit te help.

Trix sê dat die volgende insident op die bloupad was by die laagwaterbrug oor die Pienaarsrivier, naby die Donkerhoek verkeer-beheerstasie. Trix en Jaco het so half 11 die aand gery om te kyk hoe loop die water vanaf Mooiplaats se kant van die brug. Toe hulle naderkom, het hulle iemand hoor skreeu: “Help! Help! Ek sit in ’n boom.”


Die Elandsrivier by die Zonkolol-pad
Foto: Laurika van der Linde

Sy sê dat die man hulle voertuig se ligte gesien het, maar die water het so gedruis dat hy hulle nie kon hoor antwoord nie. Nooddienste was toe nog op pad terug na hulle basis, ná die insident op die aarbeiplaaspad. Toe Trix hulle bel, kon hulle dadelik op die snelweg omdraai.

Trix en Jaco het ook vir Wynand van der Merwe van die Boschkopse SAPD gebel en hy het opgedaag. Trix het ook die Boschkop-gemeenskapsgroep gebel en dié lede het van die anderkant van die rivier af ingegaan om te help. Nooddienste het die man teen half drie die oggend uit die boom gekry.


Die reddingspoging op die bloupad naby die Donkerhoek verkeer-beheerstasie
Foto: Trix van den Berg – MZT

Die laagwaterbrug oor die Pienaarsrivier op die Ou Bronkhorstspruitpad het weggespoel en so ook die brûe oor die Forfar- en Zonkolol-pad in die Rayton-omgewing.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdienste het daar die Vrydag en Sateroggend vroeg tussen 100- en 160 mm in dele van die Tshwane-distrik geval.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger