Gouemolle bedreig deur sentrum wat hulle naam dra Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 February 2022 18:07
Untitled Document

Inwoners van die Shere-hoewegebied is ontstoke oor die beplande Golden Mole-winkelsentrum, wat beplan word in ’n gebied waar die krities bedreigde Juliana-gouemol nog voorkom. Selfs die sentrum se perseel-uitleg dui glo moontlike gouemol habitat-waarnemings aan, maar dié gaan glo te midde van die konstruksieproses en druk verkeer ‘bewaar’ word.

Die winkelsentrum word beplan op die hoek van Strubenweg en Lynnwoodweg-verlenging. Die sogenaamde gouemol-bewaringsgebied rondom die sentrum gaan 6 540 m² beslaan en daar is ook ’n addisionele groen-gebied van 1 828 m².

Volgens die Desember 2021 agtergrondinligtingsdokument strek die voorgestelde uitleg oor
8 951 m², wat uit twee vlakke sal bestaan. Daar gaan 700 parkeerplekke wees, insluitende taxi-staanplekke, 25 winkels, waarvan twee supermarkte sal wees,15 restaurante, ’n speelgebied en voertuig-wassery.


Die perseel van die beplande winkelsentrum word met ’n rooi blok aangedui en die blou
kolle is NFEPA vleilande
Bron: Eco Elementum

Bekommerd
Tracy Wolff, wat in Henrystraat woon, sê dat sy bekommerd is oor die nadelige omgewingsimpak op die gouemolle wat gevind word op die voorgestelde bouperseel van dié winkelsentrum aangrensend aan die Bronberg-bewaringsgebied.

Sy sê dat sy gouemolle op haar kleinhoewe het, wat naby aan die voorgestelde bouperseel is. Sy het foto’s geneem van molle wat sy uit haar hond se kake gered het, en daar is bevestig dat die molle op die foto’s die Juliana-gouemol, Neamblysomus julianae, is.

Tracy het kontak gemaak met dr Samantha Mynhart van die Global Wildlife Organisation, wat gesê het sy is besorg omdat dit lyk asof die Bronberg-gebied die enigste oorblywende habitat van dié spesifieke molle is.

Die Bronberg-gebied word internasionaal erken as die laaste oorblywende natuurlike habitat in die wêreld van ’n sekere sub-klassifikasie van die Juliana-gouemol, wat op die rooidatalys geplaas is. Die sanderige noordelike hang van die Bronberg bied beweegruimte aan dié mol wie se habitat besig om te kwyn weens ontwikkeling.

Geskiedenis
Die beplande ontwikkeling in Shere kom reeds ’n lang pad. Leoprop (Edms) Bpk het op 22 Julie 2014 toestemming van die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling ontvang vir hulle aansoek vir omgewingsmagtiging vir voorgestelde dorpsontwikkeling op gedeelte 220 van die plaas Tweefontein 372 JR. Dié magtiging is op 9 April 2018 vir ’n verdere vyf jaar verleng.

Die doel van die nuwe aansoek is om die besonderhede van die houer van die omgewingsmagtiging te wysig vanaf Leoprop na Cumacor (Edms) Bpk en om die goedkeuring van die beoogde winkelsentrum op die aangrensende eiendom, gedeelte 218, wat onlangs deur Cumacor verkry is, uit te brei na gedeelte 220, wat nie deur die huidige omgewingsmagtiging gedek is nie.

Kennisgewing is in Desember verlede jaar gegee dat Cumacor aansoek doen vir ’n gedeelte twee wysiging in terme van regulasie 31 van die Nasionale Omgewingsbestuurswet vir gedeeltes 218 en 220 van die plaas Tweefontein 372 JR.

Die konsepwysigingsevalueringsverslag is van 3 Desember 2021 tot 23 Januarie 2022 beskikbaar gestel. Die Eco Elementum groep van maatskappye tree op as onafhanklike omgewingsbeoordelingspraktisyn en reël die openbare deelnameproses vir dié geïntegreerde omgewingsmagtigingsproses.

’n Openbare opedag is op 13 Januarie op die perseel gehou. Mense kon tot 23 Januarie as belanghebbende partye registreer.


Die geel kolle dui moontlike gouemol habitat-waarnemings aan. Die geel raam om die beplande ontwikkeling wys ’n ‘gouemolgebied’ van 6 540 m²
Bron: Eco Elementum

Benader
Tracy sê sy glo dat die hele proses op ’n onderduimse manier benader is. Sy sê dat sy nie kon uitvind of enige fisiese kennisgewings aan die gemeenskap gegee is met die eerste omgewingsimpakstudie wat vir Leoprop gedoen is nie. Tracy kon ’n kennisgewing in die Staatskoerant opspoor, maar sy vra wie op aarde elke dag die Staatskoerant lees.

Tracy sê dat die gemeenskap eers van dié projek bewus geword het toe een inwoner laat in Desember 2021 ’n kennisgewing in haar hek gekry het. Dit was reeds vir die tweede rondte impakstudies, om die applikant se naam van Leoprop na Cumacor te verander en om die winkelsentrum na die aangrensende eiendom uit te brei.

Gemeenskapslede wat dit kon regkry om die opedag by te woon, sê dat die doel was om die gemeenskap te oortuig daarvan dat die aanvanklike konstruksieplanne aangepas gaan word om meer ‘omgewingsvriendelik’ te wees.

“Dié projek is klaar goedgekeur,” sê Tracy. “As hulle enigsins regtig belanggestel het in omgewingsbewaring, hoekom het hulle besluit om die kennisgewing uit te reik in ’n tyd wat hulle weet almal op vakansie is,” vra sy. “En dan laat hulle geen verdere openbare deelname toe as mense nie in die gestipuleerde tyd as belanghebbende partye geregistreer het nie.”

“Ek voel net dat ’n omgewingsimpakmaatskappy die gemeenskap moet toelaat om meer inligting te verskaf as dit by die moontlike uitsterf van ’n spesie kom,” sê Tracy.


’n Juliana-gouemol wat Tracy Wolff op haar Shere-hoewe, naby aan die voorgestelde
bouperseel, gekry het
Foto: Tracy Wolff

Gouemol
In haar beswaarskrif, het Tracy dokumentasie aangestuur wat wys dat gouemolle baie sensitief is vir ondergrondse versteurings en dat hulle ongewone klanke kilometers ver kan hoor. Sy sê dat konstruksie in dié gebied sal bydra tot die uitsterwing van die Juliana-gouemol omdat dit onmoontlik is vir enige maatskappy om daarop aanspraak te maak dat hulle bouproses ‘omgewingsvriendelik’ sal wees.

Goue molle is enkellopers, maar kom in kolonies voor met ’n netwerk van tonnels. Ontwikkeling, paaie en mynboubedrywighede in die Bronberg het dié kolonies goue molle van mekaar afgesny; ’n feit wat inteling ’n bedreiging vir geïsoleerde kolonies maak.

Die 10 cm lange Juliana-gouemol se tonnels word in diep sand gegrou en is naby aan die grondoppervlakte. Dié tonnels loop parallel met die grondoppervlakte en kan as riffies op die grond gesien word. Goue molle stoot nie hope grond op die oppervlakte uit soos molrotte nie.

Anders as molrotte is die goue mol nie ’n herbivoor nie, maar vreet slegs insekte. Hy is letterlik so blind soos ’n mol, het geen oë nie, en maak staat op sy reuksintuig om hom van punt A tot B te kry.

 

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger