Protes oor raaisel van ‘gestroopte’ strate gehou Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 18 February 2022 18:07
Untitled Document

“Gee ons teerpaaie terug,” is die boodskap wat Cullinan-inwoners met ’n vreedsame protes op
5 Februarie aan die Tshwane-metro wou oordra.


Oaklaan se teerpad is in Junie verlede jaar van sy teer gestroop
Foto: Eus de Clerk

Die residensiële straat in die oostelike deel van Oaklaan, waarmee daar skynbaar niks fout was nie, se teer is in Junie verlede jaar om ’n onverklaarbare rede “opgerol en afgeskil”. Rangeweg, ‘Nuwedorp’ se hoofstraat, en Olienhoutweg se teer het ’n ruk daarna ook bykans oornag ‘verdwyn’.


“Enough is enough now” met die protesskrif-tafel in die agtergrond


“Did Cullinan tar roads turn into a Cullinan Rolls Royce for someone?”

Olienhoutweg is intussen gedeeltelik herstel, maar Oaklaan en Rangeweg lê maande reeds net soos dit laat staan is. Die verwarring was, en is, groot onder inwoners en skynbaar onder gemeenskapsverteenwoordigers.


In die middel van die stofpad staan Johannes Bekker, raadslid vir wyk 100, links, René Puren, wat die protes gereël en beswarskrif oorhandig het, en Shaun Wilkinson raadslid van wyk 59. Adrian Christopher Roos van die DA Gauteng-noord se streeksbestuur staan heel regs

Inwoners moes aanvanklik op hulle munisipale selfoon-groep hoor dat die myn alles met die “oordoen” van die paaie te doen het, wat met Die Bronberger se navraag as onwaar bevestig is, of dat dit die provinsiale regering was wat die strate “opgerol” het. ’n Senior provinsiale amptenaar het op Die Bronberger se navraag gaan ondersoek instel en kon bevestig dat dit nie provinsie is wat daar doenig is nie en het berig dat dit lyk of ‘iemand’ ons met valse inligting voer.


Adrian Christopher Roos aan die woord met René Puren regs

Dit is later bevestig dat die metroraad self opdrag gegee het om die strate oor te doen, al was dié wat die gemeenskap verteenwoordig, nie daarvan bewus nie.

In Oktober verlede jaar moes moedelose inwoners hoor dat die vertraging in die “rehabilitasie” van die strate die skuld is van laboratoriumtoetse wat vertraag is. Ná konsultante die bevindings van dié toetse glo ontleed het, moes hulle besluit watter materiaal nou op dié strate gebruik moet word. Die “stabilisasie” van die onderlae en kompaktering van die bolae se sperdatums het gekom en gegaan: Verskeie kere.


“Fix our road”


“Tshwane, we need answers now!!!”

In die Desember-vakansie het alles stilgestaan en dié wat navrae gerig het moes hoor dat die enigste amptenaar wat die antwoord sal kan gee, tot 17 Januarie met verlof is. Ná die verlof verby is, het inwoners steeds geen antwoorde gekry nie en moes tevrede wees met gerugte, wat nie bevestig kon word nie: Dat die kontrakteur afgedank is; dat die kontrakteur bankrot gespeel het; dat die kontrakteur reeds betaal is?


René Puren spreek die gemeenskap se besware uit

Inwoners moes hoor dat die enigste paaieprojek wat in dié omgewing aan die gang is die rehabilitasie van die R515 is. Inwoners is vroeg in Februarie op openbare digitale platforms aangesê om op te hou vrae vra oor Oaklaan en Rangeweg en om nie “golwe” te maak nie. Dié wat aanhou ‘beswaar maak’, word gewaarsku dat hulle summier van digitale groepe verwyder sal word.


“Who stole our tar?”
.


Die protes-plakkaat by die doodskis wat agter Eric Rusty Poole se motorfiets gesleep word

Uiteindelik het inwoner, René Puren, begin om ’n vreedsame protes te reël en het amptelike toestemming daarvoor gekry.

Op Saterdag 5 Februarie het inwoners met protes-plakkate, ’n hele aantal polisievoertuie en politici in Oaklaan se stofstraat gaan staan en René het die protesskrif, wat deur inwoners onderteken is, oorhandig. Woorde is gespreek deur Adrian Christopher Roos van die DA Gauteng-noord se streeksbestuur, Shaun Wilkinson, aktivis en raadslid van wyk 59, en Johannes Bekker, raadslid van wyk 100.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger