“Alles vrot! Help asseblief, daar loop menslike ontlasting uit die graslande uit in die pad af tot in die Elandsrivier en die nare stinkspul sit aan ons motors vas!”
Dit is die noodroep wat inwoners langs die Zonkolol-pad (R495) naby Rayton van vroeg af op die oggend van 28 Januarie aan die Bronnie uitgestuur het.
Die gemors is die middag van 28 Januarie toegestoot
Inwoner Karen Saunders het raadslid vir wyk 100, Johannes Bekker, gevra of daar iemand is wat dringend ondersoek kan instel. “Die ZCC-kerk daar het een of ander ‘bemesting’ op hulle lande gegooi, wat soos riool lyk en ruik. Die groot probleem is dat dit besig is om in die rivier in te loop,” het sy gekla.
Raadslid Bekker het laat weet dat die provinsiale gesondheidsdepartement daar gaan oorneem om die saak te ondersoek.
Die onwelriekende ‘misstof’ loop in die Zonkolol-pad af
Nog ’n inwoner langs dié pad, wat anoniem wil bly weens haar vrees dat daar ‘weer’ teen haar wraak geneem sal word, sê: “Hier gaan groot siektes kom. En nie net onder die mense nie. Ons sien gereeld rietbokke, duikers en steenbokkies water drink in die Elandsrivier en ek praat nie eers van al die watervoëls nie.”
Die Elandsrivier se oorsprong is naby Ekangala en hy mond uit in die Olifantsrivier in Limpopo. Die rivier vloei in noordoostelike Gauteng onder die Molotopad (R573) deur. In die bankeveld het dit ’n aansienlike linkersytak wat ook as Elandsrivier bekend staan.
Ná ’n reënbui daardie selfde middag het die ‘bemesting’ weer onder die grondhope uitgekom
Albei Elandsriviere loop noord van Cullinan deur imposante klowe wat diep in die bankeveld inkerwe; die eerste een by Muningi Gorge en die tweede een by Little Eden. Sytakke in dié rivier is die Kameelrivier, Enkeldoringspruit, Hartbeesspruit en Elandsfonteinspruit. Damme in dié rivier is die Rust de Winterdam en Rhenosterkopdam.
Ná die ‘bemesting’ reeds in die Elandsrivier geloop het, het daar die middag van 28 Januarie ’n padskraper opgedaag wat die stinkspul probeer toestoot het. Volgens die inwoner, wat anoniem wil bly, was dit private masjinerie, wat nie op ’n openbare pad gebruik mag word nie. Daardie middag het dit gereën en die ‘bemesting’ is weer blootgelê.
Die padskraper wat die lopende ‘bemesting’ probeer toestoot het
Die afgelope jaar was daar glo twee plase in die gebied wat ’n onwelriekende produk as bemesting gebruik het. Mense het berig dat die stank so erg was dat hulle werkers siek geword het.
Inwoners het glo destyds kontak gemaak met die ‘vervaardigers’ van dié produk, wat nog in die eksperimentele fase was. Teen die Bronnie se saktyd is dit nog nie bevestig of dit dié produk is wat weer op 28 Januarie gebruik is nie. Die inwoner, wat anoniem wil bly, sê dat sy monsters geneem het en dat dit nie dieselfde produk is as wat voorheen gebruik is nie.
Die ‘bemesting’ loop die oggend van 28 Januarie uit die grasveld in die grondpad in
Foto’s: Verskaf
Die vorige produk bevat glo geen menslike stowwe nie, maar sluit onder andere dele van diere, mis, vrugte en groente in. Die maatskappy wat dit vervaardig is nog besig met toetslopies en omgewingsimpakstudies en het glo ’n lisensie om die produk vir die studie aan ’n paar vooraf uitgesoekte plase te verskaf en net vir gebruik op graslande. Slegs een plaas in dié gebied is goedgekeur, wat beteken dat die tweede plaas wat dit gebruik het, dit sonder toestemming en sonder die maatskappy se kennis gedoen het.
Só bereik die stankstroompie die Elandsrivier
Die produk moet glo op ’n baie bepaalde manier aangewend word en beperkte hoeveelhede moet gebruik word om die stank onder beheer te hou. In dié gebied het dit verlede jaar ongeveer twee weke geneem vir die stank om draagbare vlakke te bereik. Volgens inwoners kon mense windaf nie eet, slaap of asemhaal nie en het naar geword en opgegooi. Die stank het glo kilometers ver toegeslaan.
Die ‘bemesting’ loop in die rivier in
|